Onderwerping, ideologiese virusse, en programmering van die psige

Week 25, 2020

MAANDAG 15 JUNIE 2020

In die Sowjetunie, veral in die 1920’s of 1930’s, is mense deur die Dominante Organisasie van die Dag onder druk geplaas om hulself aan ’n sekere politieke wêreldbeskouing en beleid te onderwerp. In die China van Mao Zedong, veral in die sestigs en vroeë 1970’s, het die Dominante Organisasie mense ook gedwing om hulleself te onderwerp aan ’n bepaalde radikale begrip van dinge.

In werklikheid het vrees, en die moontlikheid om gemartel of tereggestel te word weens een of ander denkbeeldige misdaad teen die staat, baie mense gedwing om hulleself te onderwerp. Maar in teorie sou mense kon argumenteer dat hulle nie werklik so ernstig gevoel het oor klassestryd nie, of om beskuldig te word dat hulle lopende honde is van die kapitalistiese Weste nie.

Mense wat gedurende daardie historiese periodes gewoon het, kon later beweer dat hulle net ingegee het omdat hulle vir hul lewens gevrees het. En hulle sou nie later deur ander mense gekritiseer word omdat hulle hul nie heelhartig aan die Bolsjewistiese of Maoïstiese wêreldbeskouing onderwerp het nie.

Gedurende die Middeleeue is mense onder druk geplaas om hulself te onderwerp aan die Spaanse Inkwisisie en ’n radikale begrip van die Christendom. Weereens kon mense later beweer dat hulle slegs uit vrees hulleself onderwerp het, en nie omdat hulle regtig met die teologie van die Inkwisisie saamgestem het nie.

Maar wat as die Dominante Organisasie van die huidige dag jou van rassisme of wit oppergesag beskuldig as jy weier om aan hulle eise te voldoen, as jy weier om die knie te buig, as jy weier om ritualisties hulle voete te was, of as jy weier om geld te skenk aan hul organisasie? Baie min mense is deesdae rassisties, en nog minder huldig wit oppergesag opinies – op die maniere waarop hierdie konsepte die afgelope sewentig of tagtig jaar deur die hoofstroom verstaan is.

Die meeste mense – durf ek sê veral wit mense – het ’n opregte vrees om rassisties genoem te word. Rassiste word vermy deur kollegas, bure, en selfs familie. En dit is nog erger om ’n ondersteuner van wit oppergesag genoem te word. Dis dubbelloop-haelgeweer beskuldigings. As jy ’n ondersteuner is van wit oppergesag of gemaklik is met rassisme, verdien jy kritiek omdat jy onnosel ideologieë volg. Maar as jy nie rassisties is nie, of nie ’n ondersteuner is van wit oppergesag nie, en nie gesien wil word as sulks nie, is dit ongelooflik kragtig om daarvan beskuldig te word. Kragtig genoeg om jou te dwing om die knie te buig en jouself te onderwerp aan die Dominante Organisasie wie se leiers of volgelinge hulle vingers na jou toe wys.

Sou jy, met gebuigde knie, jouself onderwerp aan ’n politieke organisasie wat jou ’n vyand noem van die werkersklas, of ’n teen-rewolusionêr? Hoe sou jy voel as wilde-oog jeugdiges jou ’n lopende hond van kapitalisme noem? Sou jy die sierlike vingers van die plaaslike kardinaal met trane in jou oë begin soen as hy jou ’n sondaar teen die bloed van Christus noem? Kans is goed dat jy nie hul eise of beskuldigings ernstig sal opneem nie. Weereens: Wat as hulle jou van rassisme beskuldig?

Die meeste van ons wat vandag leef, sou onsself waarskynlik vroeër jare aan magtige politieke of godsdienstige organisasies onderwerp het as ons vir ons lewens of ledemate gevrees het. Ons sou dit moontlik gedoen het sonder om regtig politieke of godsdienstige ideologieë in ag te neem. Maar in die derde dekade van die een-en-twintigste eeu is meeste mense sielkundig en emosioneel oorgehaal om nie rassiste of volgelinge van wit oppergesag te wees nie.

Die tyd is dus ryp vir ’n organisasie om hierdie situasie uit te buit: Onderwerp julle aan ons, buig die knie voor ons vaandels, was die voete van ons leiers, ondersteun ons finansieel, of jy’s rassisties, en waarskynlik ’n volgeling van wit oppergesag.

Mense in hul duisende onderwerp deesdae hulleself en sweer trou aan ’n radikale politieke organisasie wat beweer dat hulle die beskermers van burgerregte en voorstanders van antirassisme is. Waarom is hierdie mense nie gerus in hul kennis oor hulleself om bloot te verklaar dat hulle nie rassisties is nie, en dit daarby laat? Waarom het so baie mense die versekering van ’n radikale politieke organisasie nodig dat hulle nie rassisties is nie – of dan antirassisties, soos die terminologie deesdae dikteer word? Of beskou hulle hulself as nie-rassisties, maar hulle moet aan vriende en familie, of medewerkers of medestudente vertoon hoe toegewyd hulle is daaraan om nie rassisties te wees nie? En hoeveel mense buig die knie en lek die stewels van lede van die Dominante Organisasie van die Dag uit vrees vir hul lewens, of uit vrees vir hul lewensmiddele?

DINSDAG 16 JUNIE 2020

Dis waar dat lande soos Taiwan, Japan en Korea al vir dekades lank ’n tuiste bied aan pas gegradueerde Westerlinge wat moet begin geld verdien, maar nie die vryheid wat hulle geken het as studente wil inruil vir die stywe kultuur van die kantoor of maatskappy nie.

Ekself het ’n tuiste gevind in Noordoos-Asië. Ek kon genoeg geld verdien om my studieskuld te betaal, so nou en dan êrens heen te reis, en ure elke dag te spandeer aan kreatiewe ambisies.

Eksentrieke mense pla my nie. Mense met vreemde idees is nie vir my ’n bedreiging nie. En hoewel ek nie self my orige hare blou sal kleur, my gesig vol metaal sal skiet, en my arms vol drake of blomme sal laat verf nie, het ek nie ’n probleem daarmee as jy dit wil doen nie.

Wat my wel laat regop sit, is ’n bedreiging van waardes wat ek as heilig ag. Die vryheid om te dink, te sê, en te skryf wat ek wil, solank dit nie jou reg benadeel om te dink, te sê, en te skryf wat jy wil nie. Die vryheid om te weier om die knie te buig voor ’n politieke organisasie – enige politieke organisasie, links of regs. Dan is daar die Waarheid: Suiwer water kook op seevlak teen 100 grade Celsius. Een van die resultate wat jy kry as jy koeksoda en asyn meng, is koolstofdioksied. Gooi ’n gewone koffiebeker hard genoeg teen ’n rots, en die kans is goed dat dit in stukke sal bars. Sit twee appels by twee ander appels, en jy’t vier appels. Die koffiebeker gaan nie anders reageer met die rots omdat ’n wit of swart persoon die beker gooi nie. Koeksoda en asyn gaan nie in seesand verander omdat ’n trans-vrou van kleur dit bymekaar gegooi het nie. Suiwer water gaan nie skielik kook op seevlak teen 37 grade Celsius omdat ’n Vierde Golf Feminis dit gekook het nie. En net omdat ’n lid van die Dominante Organisasie van die Dag sê twee appels plus twee appels is sewe piesangs, is nie te sê dis skielik waar nie.

Politieke organisasies en bewegings wat die individu dwing om die knie te buig en die stewel te lek, en ideologieë wat geverifieerde en verifieerbare feite verwerp as waardeloos of selfs skadelik, het dieselfde effek op die gees en gemoed as wat ’n biologiese virus het op die longe, of ander organe.

* * *

Somer is ’n goeie tyd vir ’n kulturele rewolusie. Maar oor ’n paar maande is dit kouer, en daar’s ten minste ’n kans dat politieke leiers in die Weste uit hulle bomskuilings sal kruip en begin opruim wat verwoes is die afgelope paar weke. Rewolusionêre wit gegradueerdes wat nou deur die strate marsjeer en winkels afbrand en standbeelde vol graffiti sproei, se ouers gaan ook minder entoesiasties wees daaroor om hulle te onderhou vir nog ’n jaar, en terselfdertyd aan die eetkamertafel verskreeu te word oor hoe rassisties hulle is omdat hulle vra vir wet en orde.

“Kry vir jouself ’n werk!” gaan die ouer aan sy of haar dertigjarige kind sê.

Werk sal natuurlik nie meer so wyd beskikbaar wees in die plaaslike ekonomie nie – deels omdat te veel besighede afgebrand is, en deels omdat duisende rewolusionêre pasgegradueerdes geen vaardigheid het anders as om kwaad deur die strate te marsjeer en ander mense se besighede af te brand nie.

Dis waar lande soos Taiwan, Japan en Korea inkom, waar jong gegradueerdes wat nie werk kry in hulle eie lande nie, of nie die werk wil doen wat beskikbaar is nie, ’n tuiste vind as Engelse onderwysers. ’n Goeie ding, in beginsel – net soos entrepreneurs, besigheidsmense en kunstenaars uit Taiwan, Japan en Korea geleenthede vind in Noord-Amerika of Europa of Australië wat hulle dalk nie in hul eie lande sou kon geniet nie.

Dis aan die einde van die dag hoe kultuur en idees versprei, en hoe mense by mekaar leer. Dis ongelukkig ook hoe kulturele en politieke virusse versprei.

WOENSDAG 17 JUNIE 2020

Wat is jou wêreldbeeld? Wat is jy? Hoe funksioneer jy? Wat moet jy doen om optimaal te kan leef? Wil jy optimaal leef, of is dit oukei om verlore rond te dobber op die see van ure en dae en weke en jare wat jou lewe uitmaak?

Vra jouself: Is die idees in die volgende video waardevol op ’n praktiese vlak? Kan ek hierdie idees gebruik in my daaglikse lewe om my lewenskwaliteit te verbeter? Kan ek dit gebruik om my habitat te verbeter – die vertrekke waar ek my dae slyt, en ander omgewings waarin ek tyd spandeer? Kan ek hierdie begrip van dinge gebruik om die lewens te verbeter van mense wat vir my saak maak?

How to REPROGRAM your mind – Bruce Lipton

DONDERDAG 18 JUNIE 2020

Gister se lesse oor onderbewustelike programmering is handig, maar as dit die eerste keer is wat jy die idees teëkom, mag dit dalk klink soos nonsens. Kyk weer na die video, en oorweeg die moontlikheid van ’n ander manier van dink. Lees ook gerus Bruce Lipton se boek, The Biology of Belief. Vir iemand soos ek wat Biologie op hoërskool gehaat het, was dit ’n verbasend interessante en uiters opvoedkundige boek.

Om die video nog makliker te maak om te volg, het ek ’n paar idees uitgelig:

Vir die rekord:

onderbewussyn: Bestaan in die psige, maar is nie onmiddellik beskikbaar vir die bewussyn nie.

onbewustelik: Kom voor in die afwesigheid van bewustelike wete of denke.

Elke persoon is ’n energieveld wat op ’n ander frekwensie vibreer as die persoon langs hom of haar.

Reseptors op jou selle reageer op verskillende omgewingseine as die reseptors op iemand anders se selle.

Elkeen van ons ontvang iets soos ’n uitsending wat ons bewussyn beheer. Hierdie bewussyn is nie fisies nie; dit is energie.

Mense skep. As jy dinge op die regte manier skep, kry jy “hemel op aarde”. Skep dinge op die verkeerde manier, en jy sukkel.

As jy nie weet dat jou skeppings beheer word nie, word jy ’n slagoffer van ’n wêreld buite beheer.

As ons toegee aan ander mense se oortuigings, skep ons nie met óns wense en begeertes nie, maar met ’n program wat deur ander mense geskryf is.

Waarheen neem die program ons tans? Vrees, stilstand, verlies aan gemeenskap, afbreek van die stelsel.

Jy kan jou krag en vermoëns herwin.

* * *

Die brein van ’n kind onder sewe jaar is in ’n laer vibrasiefrekwensie.

Voordat jy bewus kan raak, moet jy programmering ontvang. As jou psige nie geprogrammeer is nie, waarvan gaan jy bewus wees?

Om op hierdie planeet te oorleef, en om ’n funksionele lid van ’n gesin en ’n gemeenskap te wees, moet die jong kind ontelbare reëls leer. Om hierdie reëls te leer, neem hulle hul ouers, broers en susters en ander lede van die gemeenskap waar. Beide positiewe en negatiewe handelinge, opinies en oortuigings word ingeneem (of “afgelaai”).

Voorbeeld: As jy uit ’n arm gesin kom, is die kans goed dat jy jou hele lewe sal sukkel om ryk te word, maar jy sal waarskynlik nie slaag daarin nie. Kom jy uit ’n ryk gesin, kan jy jou hele lewe onnosel wees en nog steeds suksesvol wees as gevolg van onbewustelike gedrag wat jy van jou gesin geleer het. Kinders van ryk ouers neem onbewustelik die regte aksies. Dieselfde ding met arm mense. Arm mense neem destruktiewe oortuigings van die gesin in wat nie finansiële sukses ondersteun nie: “Jy sal dit nie regkry nie,” “Die lewe is ’n stryd,” “Dinge is moeilik,” “Wie dink jy is jy?”

As dit die program is wat jy kry, sal jy jouself saboteer in jou pogings om beter te doen verder as ’n sekere punt. Daarom bly arm mense dikwels arm en ryk mense bly dikwels ryk – weens onderbewustelike programmering.

’n Beduidende deel van ons lewens is die resultaat van programme in die onderbewuste teenoor ’n baie kleiner deel van ons lewens waar ons ons bewuste, kreatiewe verstand gebruik.

Jy dink miskien dat jy jou lewe presies leef soos jy wil, maar jy sien nie dat jou lewe tot ’n groot mate ’n afdruk is van jou onderbewuste programmering nie.

Kyk na jou lewe. Die dinge waarvan jy hou, kom in jy lewe in omdat jy ’n program het wat dit ondersteun. Enigiets waarmee jy sukkel en moeite doen om dit te laat gebeur, is omdat jy ’n program in jou onderbewussyn het wat nie die begeerde resultaat ondersteun nie. Jou pogings om beter te doen, ignoreer die program wat verskans is in jou psige.

Die bewuste verstand is kreatief en kan op verskillende maniere leer: Jy kan ’n selfhelpboek lees; jy kan na ’n lesing toe gaan; jy kan na klankopnames luister. Die bewuste verstand sal uiteindelik belangrike insigte inneem. Maar die onderbewuste leer op ’n ander wyse.

Die onderbewussyn leer op twee fundamentele maniere: natuurlike hipnose wat in die eerste sewe jaar plaasvind; daarna moet jy nuwe programme in kodeer deur herhaling en oefening.

“Fake it ’till you make it” – as jy nie ’n gelukkige persoon is nie maar jy heeltyd vir jouself herhaal dat jy wel ’n gelukkige persoon is, praat jy met die onderbewuste. Uiteindelik sal die onderbewuste die idee kry: “Ek is gelukkig.” Jy hoef nie dan aan te hou om dit te herhaal nie.

Mense doen bevestigings en dankbaarheidsjoernale, want as jy dit daagliks doen, herprogrammeer jy die onderbewussyn. Dinge soos om kleefnotas teen die yskas te sit, is meer soos voorstelle. Hierdie aksies werk dus nie so goed soos herhaling nie.

* * *

As jou bewuste gedagtes gefokus is op ’n taak, het jy absolute beheer – wense en begeertes, alles wat jy wil hê. Maar as jou bewuste verstand begin om aan ander dinge te dink, dan los dit die wiel en die outomatiese stuur neem oor.

As jy verlief is, hou dit jou bedagsaam. Jy stop die program in jou onderbewussyn. Jy werk vanuit jou kreatiewe gedagtes, wat per definisie wense en begeertes is.

Die wittebrood duur nie, want jy moet steeds dink oor jou werk, jou take, dinge wat jy op een of ander tyd moet doen. As jy eers aan ander dinge begin dink, skakel die bewuste verstand af en daag al die negatiewe gedrag in die onderbewussyn op. Jy hou op om bedagsaam te wees.

Hou die wittebrood lewendig deur die onderbewuste program te verander.

As jy jou wense en begeertes verander het in onderbewuste programme, hoef jy nie bewustelik daaraan te dink nie. Jy vertoon outomaties gedrag wat jou wense en begeertes weerspieël.

As jy verlief raak, maak die mengeldrankie van chemiese elemente wat deur jou brein vrygestel word jou gesonder en gelukkiger. Maar as jy jou oë oopmaak en iets sien wat jou bang maak, sal streshormone en inflammatoriese middels vrygestel word in plaas van die liefdesdoepa.

In eksperimente met selle, beheer die samestelling van die kultuurmedium die lot van die selle. Op dieselfde manier beheer die samestelling van jou bloed die lot van jou selle. En die samestelling van jou bloed is gebaseer op die prentjie in jou gedagtes. Verander die prentjie en jy verander die chemiese samestelling.

* * *

Byna almal het dieselfde wense en begeertes – om verlief te wees, om gelukkig te wees, om gesond te wees, om vreedsaam te leef.

As ons almal met daardie wense en begeertes leef, sou ons wêreld ’n transformasie ervaar. Ons sal harmonie, vrede, gemeenskap en ’n skoon omgewing hê.

Totdat ons vernietigende, negatiewe onderbewuste programme verander, is ons die slagoffer van die programme en nie die skeppers van ons eie lewens nie. (Die primêre vraag: Wil jy ’n skepper wees van jou eie lewe, of is dit oukei om die slagoffer te wees van hoe ander mense jou geprogrammeer het?)

Mense moet verstaan dat hulle die keuse het om die programme te speel wat tot negatiewe resultate lei, of om die programme te herskryf en hul mag terug te neem.

“Ek is nie wat met my gebeur het nie,” het Carl Jung gesê. “Ek is wat ek kies om te word.”

* * *

Kennis is mag, maar belangriker is ’n gebrek aan kennis. Wetenskap openbaar ’n nuwe begrip van wie ons is. Ons is geprogrammeer om slagoffers te wees, maar tog wys wetenskap en kwantumfisika en veral die nuwe wetenskap van epigenetika dat ons nie slagoffers is nie, maar skeppers.

VRYDAG 19 JUNIE 2020

As dit so is dat ons van kindsbeen af geprogrammeer word met oortuigings, en met reëls oor hoe om op te tree in ’n wye spektrum van situasies, en met wat om te verwag van die lewe, en met ’n wêreldbeeld wat verduidelik hoe dinge werk, is die breë, sogenaamde Sosiale Geregtigheidsbeweging dan nie reg om mense te wil dwing om herprogrammering te ondergaan nie? Dit sal mos dan vir die mense se eie beswil wees as die slegte kodering in hulle onderbewussyn verander word.

Daar’s twee probleme met dinge soos die Verpligte Implisiete Vooroordeelopleiding (“Mandatory Implicit Bias Training”), en ander opleiding wat mense in talle maatskappye en besighede in die Weste tans moet ondergaan:

1. Die ideologie agter die opleiding is toksies en immoreel, ten spyte daarvan dat dit verkoop word as antirassisties, en as ’n blote poging om mense te kry om beter met mekaar oor die weg te kom – twee waardes waarmee geen beskaafde persoon ’n probleem het nie. Lees die literatuur agter die Sosiale Geregtigheidsbeweging, en jy sal sien dat wit mense (weet nie mooi hoe hulle mense gaan klassifiseer as wit of swart of bruin nie – gaan hulle potlode in mense se hare steek?) beskou word as gebore rassiste, wat nie kan help om rassisties en bevooroordeeld te wees teenoor mense met ander velkleure nie. (Weereens: Wit? Swart? Bruin? Wat van miljoene mense op die kleurspektrum wat nie lekker inpas by een van die kategorieë nie? “Hallo, ek wil net sê ek identifiseer van vandag af as bruin. Soos julle kan sien, is ek heelwat blasser as my ouer suster.”) Die standaard witmens is, volgens die skrywer van White Fragility, Robin DiAngelo, óf rassisties en hulle weet dit en erken dit, óf rassisties en hulle is te breekbaar om dit te erken. Daar is geen manier vir ’n wit persoon om nie rassisties te wees nie. Jy’s skuldig gebore, en jy sal skuldig doodgaan. Al wat jy kan doen, is om aktief deel te neem aan die stryd teen “rassisme”. In kort, die wit persoon moet hanteer word as skuldig, omdat hy of sy wit is.

2. Dit neem weg van die individu die reg om hom- of haarself te definieer soos hulle wil. As jy swart is en jy wil jouself sien as sterk en onafhanklik, met die vermoë om ongelooflike hoogtes te bereik, sal jy waarskynlik beskuldig word daarvan dat jy glo aan wit oppergesag. As jy verder glo dat elke mens verantwoordelikheid moet aanvaar vir sy eie aksies, en nie gekritiseer of gestraf moet word vir dinge waaroor jy geen beheer gehad het nie (soos ras of geslag), of vir iets wat jy nie self gedoen het nie, word jy ’n “Uncle Tom” genoem. Die enigste aanvaarbare klassifikasie vir die swart persoon is dat hy of sy ’n slagoffer is onder die hande van die magtige wit persoon, en dat die wit persoon die swart persoon geluk en welstand skuld. Is daar ’n moontlikheid dat die begaafde swart persoon met sy eie vermoëns en talent en wilskrag en persoonlikheid sukses kan behaal? Waarskynlik nie, sê die ideologie. Die witman en -vrou is te sterk. Hulle gaan die arme swart persoon se pogings belemmer. Beter vir die swart persoon om hom- of haarself te sien as ’n slagoffer, en saam te smelt met die groep, sodat die groep mag en hulpbronne kan afdwing van die wit persoon … Wat magtig is en oor heeltemal te veel hulpbronne beskik – omdat hy wit is. Maak nie saak hoe arm of onnosel of sonder talent hy persoonlik is nie.

______________________