Waar jy mens word, en waar jy kies om te leef

SATERDAG 20 APRIL 2019

Suid-Afrika is die land van my geboorte, kinderdae, jeug, en vroeë volwasse jare. Asië, en meer spesifiek Taiwan, is waar ek die res van my lewe sover spandeer het.

Suid-Afrika het vir my gegee taal, en al die ander boustene van identiteit – kultuur; verbintenis met die geskiedenis van ’n bepaalde groep mense; aanvanklike voorkeure in spys en drank; idees oor wie en wat ek is en veronderstel is om te wees, en wat ek veronderstel is om te doen as volwassene, of ’n idee oor die opsies wat geag word as redelik en aanvaarbaar vir ’n volwassene om te doen met sy of haar lewe. Taiwan het vir my gegee die vrymoedigheid om te kyk na ander opsies, wat insluit ’n taal wat ek kon bemeester vir daaglikse gebruik wat ek nooit in die eerste twee dekades van my lewe gedink het ek ooit sou leer nie; aspekte van kultuur wat ek eerstehands kon aanskou en waarneem, en kon oorweeg om te inkorporeer in my eie lewe; ander tipe disse en metodes van voedselvoorbereiding as waarmee ek groot geword het, en meer vryheid om idees na te streef oor wie en wat ek is, en om ’n wyer spektrum te oorweeg van opsies wat redelik en aanvaarbaar is vir ’n volwassene om te doen met sy of haar lewe.

Kan dit gesê word dat ek vervreemd raak van die land van my geboorte?

Ek woon al meer as 20 jaar in Taiwan, en meer as 22 jaar in Asië. Sal mense na my kyk en vir ’n oomblik dink ek is ’n Asiër? Nie waarskynlik nie. Nie eens as ek nog 20 jaar in Taiwan, of elders in Asië woon nie. Ek eet wel meestal Taiwannese kos. Ek dink nie eens twee keer daaroor om my skoene uit te trek voor ek by ’n huis instap nie. Ek gee nie om as mense naby aan my staan in die ry by die supermark nie, en ek volg dieselfde gebruik deur nader te staan aan ander mense as wat meeste Westerlinge dink aanvaarbaar is gegewe Westerse idees oor persoonlike spasie. En ek verstaan wel steeds nie meeste van wat nuuslesers op TV aframmel in Chinees nie, maar ek kan genoeg Chinees lees om uit die subtitels te verstaan wat aangaan. En ek kan aan ’n Taiwannese polisie-offisier my weergawe van ’n insident vertel in Chinees tot so ’n mate dat hy verstaan dat ek nie die een is wat gearresteer moet word nie.

Sal ek nou kan terugtrek Suid-Afrika toe en sonder om ’n noot te mis, saam kan praat met ander landsburgers oor Suid-Afrikaanse sake van die dag? Nee. Die kulturele skok om terug te wees in die land van my geboorte, my jeug en my vroeë volwasse jare, sal waarskynlik erger wees as die skok wat ek ervaar het toe ek 23 jaar gelede in Asië aangekom het. Die sin vir persoonlike veiligheid wat ’n mens het in Taiwan sal my weerloos en paranoïes laat in Suid-Afrika. Die kloof tussen ryk en arm in Suid-Afrika is ook dramaties anders as in Taiwan. Die ryk verskeidenheid van tale en kulturele gebruike in Suid-Afrika is nog iets waaraan ek nie meer gewoond is nie. Ook wát ek as wit Suid-Afrikaner mag sê vir wie, en hoe ek dit behoort te sê, is ’n area waar ek aanvanklik verkeerd sal trap. (In Taiwan word ek nie gesien as lid van ’n voorheen bevoorregte groep nie, so ek hoef nie versigtig te wees hoe ek praat met mense om te verhoed dat ek nie iemand te na kom nie.) [Vir in geval jy nie die skakel volg nie, ek verwys na sommige wit mense wat reken wit Suid-Afrikaners moet anders praat met swart Suid-Afrikaners as wat hulle gewoonlik sal praat met mense, om sodoende seker te maak hulle kom nie swart mense te na nie.]

Ek vind ook deesdae dat ek films wat afspeel in Noordoos-Asië, oor Taiwannese of Japannese of Koreane of Chinese, geniet op ’n manier wat dalk net moontlik is as jy self persoonlike ervaring het met Taiwannese mense, of Japannese of Koreane of Chinese, en met die dominante kulture van hierdie lande. En ek het onlangs weer besef, veral nadat ons dele van Taiwan gesien het wat ons nog nooit gesien het nie, dat ek gemaklik is met die idee om die res van my lewe op hierdie bergagtige eiland deur te bring.

Ek is in Suid-Afrika gebore, en ek het dáár die boustene ontvang vir die mens wat ek steeds is amper vyf dekades later. My ouers en my twee susters en hulle gesinne woon ook steeds daar. Ek het steeds ’n sterk belangstelling in Suid-Afrikaanse geskiedenis. En hoewel ek definitief ’n voorkeur ontwikkel het vir veral Taiwannese groentedisse wat gesonder is as die groente met botter en suiker en room wat voorberei word in Suid-Afrikaanse kombuise, beplan ek steeds om ’n gesonde porsie poeding en ander nagereg te geniet wanneer ek weer my familie besoek oor ’n paar maande.

Ek is steeds ’n Suid-Afrikaner gebore en getoë, maar daar is geen twyfel daaroor dat Taiwan deesdae die plek is waarna ek terugverlang as ek vir langer as ’n paar dae weggaan nie. En dis nie net omdat my vrou en lewensmaat ook hierdie plek huis noem, en ons twee katte geen ander huis ken as ons sin nie.

______________________