Die verskriklike waarheid van makliker geld

SATERDAG 24 NOVEMBER 2018

Ek lees ’n artikel oor valutahandel. Dit gaan oor ’n strategie waar ’n mens elke dag net ’n paar minute spandeer deur na die markte te kyk, en met slegs een of twee transaksies genoeg wins kan produseer om van te leef. Na ’n paar minute kan ek dit nie meer hou nie: “Honderde punte in ’n maand?! En jy kyk net ’n paar keer per dag na die mark?! Kan dit wees dat daar mense is wat so maklik geld maak?!”

Onthou: Hierdie uitbarsting kom nadat ek onlangs besef het dat ek ’n bepaalde bloudruk in my kop rondgedra het vir jare lank dat dit moeilik moet wees om geld te maak, dat ’n mens selfs moet verwag om te sukkel. Onthou ook dat ek hierdie programmering gekonfronteer het, en reeds begin het om dit te deaktiveer.

Feit is, die gedagte dat sommige mense enorme hoeveelhede geld maak sonder om vreeslik hard te werk (om dit sagkens te stel), stuit ’n mens teen die bors. Jy wil dit nie hoor nie. Jy hoor ’n stem van binnekant wat prewel, “Nee … nee … nee …” Jy dink aan plaasarbeiders wat vir dekades lank in die son staan en werk, aan fabriekswerkers wat vir dekades lank vervelige werk staan en doen, aan kantoorwerkers wat ná vyf jaar voel asof die gedreun van die lugverkoelingstelsel en die gedreun van mense wat iets probeer verkoop per telefoon langs hulle, hulle van hul kop af gaan maak … en dan gaan hulle voort om dit te doen vir nog twee of drie dekades lank.

Tog weet ’n mens dat daar mense is wat miljoene genereer deur produkte, of eiendom, of besighede of maatskappye te koop en te verkoop. Daar’s vermaaklikheidsterre wat miljoene maak deur liedjies te sing wat ander mense vir hulle skryf. En daar’s sportsterre wat vragte vol kontant verdien deur met ’n skeermes te poseer vir die kamera en breed te glimlag (en dan met ’n beter kwaliteit skeermes te skeer).

Ek dink die probleem is dat meeste mense hierdie voorbeelde afskryf as uitsonderings op die reël. Ek dink meeste mense verwag dat gewone mense soos húlle hulle brood en botter moet verdien in die sweet van hulle aangesig (of met die gedreun van die kantoor se lugverkoelingstelsel in die agtergrond). En omdat meeste mense verwag dat dit die realiteit moet wees, neem hulle aksies om hierdie realiteit te skep, en te handhaaf.

’n Siniese leser sal vra, “Wat is ‘maklik’?”

Natuurlik verskil mense se idees van maklik. Wat ek maklik vind, is dalk vir iemand anders onmoontlik, en andersom. Vele mense assosieer ook “maklike geld” met kriminele bedrywe.

Indien jy skepties is oor die moontlikheid dat jy meer geld kan maak as wat jy tans doen deur minder ure per dag te werk, stel ek die volgende toetsvraag voor: Is jy bereid om R1000 op die tafel te plaas in ’n weddenskap dat daar nié “gewone” mense is wat groot hoeveelhede geld na hulle toe kanaliseer op wettige wyses wat jy nie sal beskou as harde arbeid nie? Is jy bereid om so weddenskap te vat? Indien nie, is jou posisie dat dit moeilik moet wees om geld te maak, dat ’n mens selfs moet sukkel, dat die norm is dat ’n mens ten minste veertig ure per week moet spandeer “by die werk”, nie die werklike waarheid nie, maar bloot hoe jy geprogrammeer is. En hoe jy kies om te bly glo, want die alternatief sal vereis dat jyself dalk ernstige introspeksie sal moet doen.

______________________