Sondag 8 Junie 1997
Goed, ek gaan later hierdie inskrywing lees en dink: “Shit, so dis hoe ek toe gevoel het!”
Ek haat Korea. Ek fokken haat dit hier. Ek kan dit nie meer vat nie. Ek is eensaam, afgesny van my familie, en afgesny van my taal en my kultuur. I’m basically just hanging on.
Ek voel soms soos ’n gevangene. Mense praat met my in die openbaar, en ek voel asof ek verplig is om beleefd te wees. Ek kan nie vir hulle sê om aan te beweeg en my uit te los nie.
Kan jy glo dat ek maande gelede, sê Februarie/Maart, so positief was op tye? Hier sit ek op die fokken vooraand van die tweede week van JUNIE, vier en ’n halwe weke voor ek huis toe gaan, en ek voel asof ek in my broek gaan skyt van net genoeg!
Oukei, so dis Sondag. Ek het drie dae van op my eie wees … oorleef. Wat verwag ek? Dat ek goed moet voel?
Ek sal aan die einde van hierdie week beter voel. Hierdie week sal ek my werkpermit uitsorteer, en aan die einde van die week is dit net nog drie en ’n halwe weke voor ek huis toe gaan …
______________________