Week twee in Chonju City

Sondag 14 Julie 1996

Was gister weer in Seoel vir sogenaamde opleiding. Aan die einde het dit eintlik goed uitgewerk want ek kon lekker kuier by [die Suid-Afrikaanse ou wat ek by die lughawe ontmoet het], wat redelik gatvol is, en homesick. Het ook sy Amerikaanse kollega ontmoet – ’n heel perverse ou. Hy’s oukei.

Het Vrydagaand SE Jazz toe gegaan, en weer [een van die Kanadese dames] gesien. Eers net gesels, en toe vra sy skielik of dit ongeskik sal wees as sy sê dat sy my wil soen. Ek sê toe dat ek nie seker is van die gevolge nie …

Ek het ook vanaand uitgevind van my nuwe kamer. Dis in dieselfde eenheid as die eienaar van die skool, Mrs Kim, se huis, maar met ’n aparte buitedeur en was-area. Van buite af het dit heel ruim gelyk, en dit het darem ’n paar vensters ook.

Het ook hierdie week na die Immigration Office toe gegaan, en in die proses ’n gelukkie getref. Omdat hulle my paspoort gevat het en ek dus nie my reisigerstjeks* kon cash nie, het ek ’n voorskot van ₩50,000 op my salaris gekry.

Ek wil nie uit my beurt praat nie, maar ek dink Korea kan aan die einde heel leefbaar word.

———–

* Ek het met R400 in Korea aangekom: R200 wat ek by familie gekry het vir my verjaarsdag, en R200 wat ek oorgehad het van my kar wat ek verkoop het ses maande tevore.


Trappies na die voordeur van Mrs Kim se huis in Chonju, Suid-Korea. Die venster aan die regterkant van die foto is deel van my kamer.
My (tweede) kamer in Chonju. Die venster is die een langs die voordeur op die vorige foto.
My stort-en-wasbak-kamer in Chonju

______________________