MAANDAG 25 JULIE 2011
Ek dink die afgelope paar dae aan motivering, die “Hoekom?” waarvan Dennis Becker praat in 5 Bucks A Day Revisited (die opvolg van sy klassieke hoe-om-geld-te-maak boek).
Ek het op die vliegtuig op pad terug Johannesburg toe al besef ek het nie ’n antwoord gereed nie. Daar is sekerlik dinge wat ek kan noem wat my soms motiveer, maar ek weet waarvan ons hier praat – ’n rede wat jou vorentoe aandryf.
Dalk is dit omdat ek teen die muur gesit het van ’n huis op die Hoëveld, op ’n koue Julie-agtermiddag, maar ek dink toe, dis asof ek nie omgee nie. Ek weet daar’s mense wat my staande hou – spesifiek my mees beminde, maar hoeveel sal ek omgee as hulle laat gaan? Sal ek oorleef? Vir so twee jaar, ja, maksimum drie.
Dit moet tog saak maak, dan nie?
En ek is gelukkig. Ek word bemin, en ek het lief. Dit maak tog saak dat ek lewe …
Vra ek die verkeerde vrae?
SATERDAG 30 JULIE 2011
Hong Kong Lughawe
Ek soek gereeld na ’n enkele stomp om my velle oor te hang, een gedagte of slagspreuk wat alles saam sal bind.
Dalk is daar so iets, vir my; dalk nie.
Wat ek reeds weet, is dat jy stry vir dinge: Om staande te bly; om lewendig te bly; om jou lewenskwaliteit te verbeter, en die lewenskwaliteit van jou geliefdes, en om aan die einde meer te doen as om net te oorleef vir so lank as moontlik.
’n Stryd, derhalwe, soos daar ook voorheen uitgewys is.
(So, geen enkele stomp vir die velle nie, want dis ’n stryd? Of dan, jou velle oor enige tak wat ’n vel kan vat … En tog hang al jou velle in een kraal: STRYD.)
MAANDAG 1 AUGUSTUS 2011
Dit is asof ek soms wag vir ’n Groot Idee voor ek oorgaan tot aksie. Nie ’n idee van wat om te doen nie, mind you, maar ’n leuse, ’n idee wat ek kan uitdruk in groot letters en teen my kombuismuur kan plak; iets wat aan my sal sê, elke keer wat ek daarna kyk, of op dae wat ek dit dalk vergeet, presies wat ek besig is om te doen.
Wat doen ek?
PUBLISEER WAT JY SKRYF.
MAAK GELD.
HELP. DRA BY.
* * *
Kwalifiseer bogenoemde idees? Soort van, vir praktiese doeleindes.
Die situasie kan vergelyk word met ’n skare wat wag vir die Groot Orator om op te daag om hulle tot aksie te motiveer, sodat almal kan wegmarsjeer, vuis in die lug, gereed om te doen wat hulle reeds weet om te doen.
Wat net enkele mense egter weet, is dat die Groot Orator nêrens te vinde is nie.
Dan spring iemand op die verhoog. Hy skree ’n paar kort opdragte, en steek dan ’n vuis in die lug. Die skare juig terug. Die persoon op die verhoog skree weer dieselfde opdragte. Die skare juig weer terug.
Dan begin mense een en een bymekaar te tel: Die Groot Orator is nie daar nie.
Soos die nuus deur die skare versprei, skree die man op die verhoog weer, vuis in die lug. Net ’n paar verlore krete, dié keer. Weer skree hy, vuis omhoog. Nóg ’n paar entoesiastiese pogings, en daar is weer ’n roering onder die skare, asof hulle besef: As Die Groot Rede Hoekom Hulle Daar Is dan nie self daar is nie, is die ou op die verhoog seker beter as niks.
______________________