VRYDAG 3 APRIL 2009
Motivering is, vir my, ’n komplekse dier. Elke dag het sy stories, sy invalshoeke, sy idees, sy visies, verwoordings, lyste van dinge om te doen.
Vanoggend se storie was soos volg: Ek vertrek op 1 Junie Bronkhorstspruit toe, en kom op 31 Augustus terug – nie ’n plan nie, let wel, net ’n storie op pad winkel toe. Die idee is om navorsing te doen vir drie maande lank, rond te loop, te kuier, Huisgenoot en Sarie en koerant te lees, en onder ’n boom te sit en dink en skryf. Reken ek toe, dit gee my twee maande om ’n bietjie geld te spaar, maar meer belangrik, om bronne van inkomste aan die gang te kry waaruit ek geld kan trek terwyl ek in Bronkhorstspruit is.
’n Paar ure later – op my fiets op pad terug van êrens af – spreek ek die opinie uit dat dit “heel doenbaar” is. Ek is, inderdaad, vas oortuig dat iets van die aard van stapel gestuur kan word, en tot suksesvolle konklusie gebring kan word. Ek weet ook verder dat ék heel waarskynlik nié binne twee maande die nodige stappe sal kan uitvoer nie. “Hoekom dan nie?” sal iemand dalk vra. Omdat, reken ek, ek ’n spesiale tipe motivering sal nodig hê om so ’n onderneming te laat werk, en drie maande in Bronkhorstspruit is nie genoeg van ’n motivering nie.
Ek glo aan die konsep van Super Motivering; ’n amper magiese krag wat jou tot aksie aanspoor en jou nie laat rus voordat jy nie die prys stewig vasdruk teen jou borskas nie. Super Motivering – soos in die storie van die ma van drie kinders in die boek, The One Minute Millionaire, wat binne een maand een miljoen dollar moes verdien anders verloor sy haar kinders, vir ewig.
Die beeld van die ma, die dertig dae en die een miljoen sit al sedert laat 2003 vasgekleef aan die binnekant van my skedel, soos een van die geel post-it papiertjies teen my kombuismuur. Ek glo al vir ’n lang tyd as jy gemotiveerd genoeg is, kan jy enige iets doen. Ongeag of die storie in die boek gebaseer is op ’n ware persoon of nie, twyfel ek geensins dat groot hoeveelhede geld na jou kant toe kan stroom as jy genoeg van die regte dinge doen nie; en as jy super gemotiveerd is, doen jy genoeg van die regte dinge. Jy rus nie voordat jy nie tevrede is dat jy alles in jou vermoë gedoen het om jou doelwit te bereik nie.
Sedert 2006, en veral sedert ek begin besef het dit gaan dalk langer vat as dertig dae om my eerste dollar op die Internet te maak, het ek gewonder wat my motiveer om meer geld te probeer maak. Aanvanklik was dit om op te maak vir klasse wat gekanselleer is toe ek op vakansie gegaan het daai April van 2006. Twee-duisend-en-sewe het gekom en gegaan, en al my beloftes om my familie te besoek in April, of Julie, of September – of dan Desember! – is een na die ander uitgestel of gekanselleer. So, teen 2008 het om Suid-Afrika toe te gaan en weer my familie sien die Groot Prys geword, die pot goud aan die ander kant van die modderige landery waar die reënboog in die sagte aarde inboor. Ek het soos ’n desperate generaal in die Eerste Wêreldoorlog nuwe aanvalle loods, elke paar weke vars strategieë en nuwe idees probeer. Geld was veronderstel om in te stroom, ek moes my kaartjie bespreek, betaal, en so waar as wragtig op die geskeduleerde dag Suid-Afrika toe gaan.
Om my familie te sien as prys. Om my familie te sien as motivering. Om my familie te sien as die vuur agter my aksies elke dag. Maar diep in my binneste weet ek ’n besoek aan my familie is ’n tweesnydende swaard. Jy kom by die huis aan; almal is bly om mekaar te sien; na ’n dag of twee is jy gewoond aan die nuwe landskap, en almal is klaar gewoond daaraan dat jy deel is van die landskap wat hulle daaglikse lewe is. Dan, na ’n dosyn stappies na die Spar en ’n halfdosyn besoeke aan die tuisnywerheid, druk jy maar weer jou klere en ’n paar Huisgenote en Saries en ’n ornament of twee en ’n paar ander items in jou tas, bekla die feit dat jou tas weer oorgewig gaan wees en jy dalk meer as R1000 sal moet betaal vir die ekstra gewig by die lughawe, en dan na nog drie dae … twee dae … laaste dag, word almal weer hartseer omhels en gekus, vae beloftes word gemaak, en dan fokof jy weer landuit.
Vakansie – langverwagte besoek aan die “huis” – as prys. Om my familie weer te sien, en weer afskeid te neem, as motivering, die rede hoekom ek elke dag doen wat ek doen.
———–
Laat ek myself stop voor Juniemaand aan die deur klop en ek steeds sentimenteel raak oor die ou dae, met een paragraaf na die ander wat ou argumente herkou oor alles inpak en permanent terugkeer na Suid-Afrika, soos om ou bene weer op die kole gooi om te sien of daar nog ’n krieseltjie vlees aan is, of ’n bietjie murg wat ek sag genoeg kan kook om uit te suig. Punt is, as ek nog koorsagtig besig was om te beplan om terug te keer na Suid-Afrika, was die motivering aangeleentheid dalk ’n bees van ’n ander kleur.
Waar laat dit my? Wat staan my te doen as ek elke dag moet voortploeg sonder die soet stem van die Wonder Motiveerder om my aan te spoor?
Dit laat my met ’n eenvoudige onderneming om my beste te doen. Daarvoor kan ek myself motiveer – sonder om enige wonderwerke te verwag. Om elke dag op te staan, ontbyt te eet, en te werk na die beste van my vermoë. En soos ek onlangs weer geleer het, beteken beste nie noodwendig werk hard ter wille daarvan om hard te werk nie. Dit beteken: werk slim. Ek moenie agt ure spandeer om ’n paar skroewe met my duimnael in te draai as ek tien minute kan vat met ’n skroewedraaier nie. En ek moenie voel ek verdien nie die voordeel van die skroewe waar ek dit ook al ingedraai het nie omdat dit my net tien minute gevat het en nie agt ure soos ek aanvanklik verwag het nie. Ek het duidelik dringend nodig om op te hou om dinge te oorkompliseer.
______________________