Waarheid, identiteit, lewe in die stad, en Meneer S. Gautama

WOENSDAG 18 JANUARIE 2006

Ek het vanaand na my laaste klas ’n vreemde sensasie gehad: jaloesie. Nog vreemder was die persoon waarop ek jaloers was: Siddhartha Gautama, beter bekend as die “Boeddha”.

Die sensasie het gespruit uit ’n gesprek met ’n student in haar middel-dertigs wat ek twee keer per week sien vir ’n Engelse klas. Op ʼn kol gedurende die klas vertel sy my van die nuwe godsdiens wat haar gewese eggenoot aanhang. Ek sê toe dit klink na ’n partikulêre waarheid, eerder as ’n “universal truth”.

“Universal truth?” vra sy my toe.

“Yes,” antwoord ek toe, “something that no person can deny.”

“Like what?”

“Well,” antwoord ek toe, “maybe you can answer that question.” (Sy is immers die student.)

“Love,” sê sy toe versigtig. “All people believe in love.”

“Love is a virtue,” help ek haar toe reg, “not really a truth.”

Na ’n minuut waartydens sy oor iets anders gepraat het, was ek gereed met ’n antwoord. “People are born. People die. Those are examples of universal truths that no one can deny.”

’n Opmerking van haar kant af oor Boeddhisme herinner my toe aan ’n leerstelling van daai religie wat ek nog altyd gereken het ’n universele waarde het. “All suffering is caused by desire,” resiteer ek toe. “That could also count as a universal truth.”

Konsensieus soos sy is, skryf sy dit toe neer in haar notaboek. “What do you think of that?” vra sy my toe.

“I think it’s not that simple,” antwoord ek. “Say I want to assist someone in need and act on this desire, but suffer painful consequences because of my assistance, where did I go wrong? Should I not have assisted the person in need? Am I being punished because of my benevolence?”

“The Buddha said …” reageer sy toe, maar ek kon nie lekker volg wat sy sê nie (sy is geneig om haarself verskeie kere in die verloop van ’n sin te korrigeer, en ek het begin dink aan my aandete wat spoedig sou aanbreek).

“That’s interesting,” sê ek toe sy klaar gepraat het.

Ons sessie eindig toe kort na ons gesprek oor die Boeddha. Toe ek by die klaskamer uitstap, kry ek die sensasie wat ek geïnterpreteer het as jaloesie. “Daar’s geen twyfel daaroor dat die Boeddha veel wyser was as wat ek is nie, en sekerlik baie slimmer,” dink ek hardop. “As ek vir ’n paar jaar in die bosse kon verdwyn en my baard en hare laat groei en nooit my tande borsel nie – wie weet waarmee ’n mens vorendag kan kom?”

Op pad terug van die groente-en-vleis plek dink ek toe verder: “Miskien moet ek meer uitvind oor hierdié man, die Boeddha, en oor die idees wat hy aan die wêreld gegee het.”

Die rede hoekom ek meer wil weet oor die Boeddha is nie om myself uiteindelik as ’n Boeddhis aan die wêreld te kan voorstel nie. My identiteit, soos ek myself op hierdie stadium van my lewe ken en aan mense voorstel, is voldoende. Ek het nie nodig om te sê “Ek is …” en dan die sin te voltooi met ’n verwysing na een of ander religie nie. Godsdiens is vir miljoene mense ’n onvervangbare bepaler van identiteit. Gelowiges voer ook aan dat die godsdienste waaraan hulle glo die draers is van universele waarhede – terwyl dit in werklikheid die draers is van ’n aansienlike hoeveelheid kulturele taboes, voorkeure, vooroordele en reëls wat voorgehou word as “waarhede”. Vir vele mense is die soektog na ’n identiteit egter van groter belang as waarheid. Godsdiens X is dan vir Persoon Y die waarheid, want hy is ’n volgeling van Godsdiens X, eerder as dat hy ’n volgeling is van Godsdiens X want, soos hy dalk kon verduidelik, “Na deeglike oorweging en jare se studie het ek gevind dat hierdie religie die mees omvattende begrip verskaf van die lewe soos ek dit ervaar, en is dit derhalwe my volgelingskap waardig.”

Nietemin, die rede hoekom ek meer wil lees oor Meneer Gautama is omdat ek nuuskierig is om te weet met watse idees ’n man vorendag kom as hy jare lank in die wildernis woon, met min, of geen kontak met ander mense nie. Met watse begrip van die lewe en van menslike bestaan sal ’n mens vorendag kom as jy vir maande lank alleen in die bosse woon, nooit skeer nie, nooit jou tande borsel nie, nooit bad nie, nooit jou klere was nie, op die grond slaap, water uit ’n rivier drink, siek word maar nie dokter toe gaan nie, tandpyn ontwikkel maar nie tandarts toe gaan nie; as jy blare en wortels en vrugte eet, en geen vleis nie, en jy dae en nagte spandeer deur meestal onder ’n boom te sit en te dink oor vrae aangaande die menslike bestaan? Met watse antwoorde sal jy vorendag kom?

——————–

Ek het ’n tyd gelede gevra: Woestyn of Stad? Verskyn of Verdwyn? In ag genome waar ek vandaan kom, en in ag genome die wêreld waarmee ek bekend is, het ek gekies vir Stad, en derhalwe om te verskyn, eerder as om te verdwyn soos ’n moderne askeet en om in stilte, en op my tyd, menslike bestaan te kontempleer.

Ek het ook gesê, as ek Stad kies, as ek kies om te verskyn as die spesifieke persoon wat ek ontdek het in my kop en in my liggaam, en wie ek gedefinieer het om te wees en wie ek kies om te wees, kan ek dit nie langer alleen doen nie. Ek het ’n maat nodig, het ek neergeskryf in een of ander notaboek.

Enkele weke na ek bogenoemde gedagtes noteer het, het ek ’n jong vrou ontmoet. Binne enkele maande het ons gevind dat ons dinge in mekaar sien, en het ons geglo dat ons iets by mekaar sal vind, wat nie een van ons tot op daai punt in ons lewens by ’n ander persoon gesien het of kon vind nie.

En so is my lewe in die Stad verseker, en my verskyning as “Brand Smit” onbepaald hernu.

Steeds wonder ek: Wat sal ’n mens vind as jy die wildernis betree vir ’n onbepaalde tyd, sonder die gerief van ’n tandarts of ’n dokter, of die luuksheid van lopende water en ’n spoeltoilet en toiletpapier, of die vermaak wat ’n TV, of die internet, of koerante en boeke, of vriende, of filmteaters mens gee. Inderdaad, wat vind ’n mens sonder liefde – as jy ’n vae idee het hoe om te soek wat jy nie noodwendig kan verwoord nie?

______________________