Twaalf minute op my fiets

Kort na ses op Vrydagaand 5 Augustus 2005 vertrek ek vanaf ’n naskoolsentrum terug huis toe. Wat volg is die waarnemings en gesprekke met myself wat meeding om my aandag oor die volgende twaalf minute.

Gedagte nommer 1: “Ek het Zhang heeltemal verkeerd verstaan toe sy begin praat het oor die Chinese onderwyseres en haar probleme.”

Respons op gedagte nommer 1: “Nee wat. Ek ken die storie, en dis nie regtig belangrik nie.”

Onderdeur die tempelhek, oor ’n groen verkeerslig, net voor ’n scooter wat roekeloos oor die rooi lig jaag …

Gedagte nommer 2: “So ek kom toe by die sentrum aan met die gedagte dat ek eintlik tussen 2 en 14 September Suid-Afrika toe wil gaan. Net toe ek my skoene uittrek by die deur, lui ’n klokkie. ‘Drie September, drie September … hoekom klink dit so belangrik?’ Toe, net soos ek die deur oopdruk, onthou ek: Ernesta se afskeidsnaweek! Maar …”

’n Man met ’n pakkie sigarette in sy hand loop na ’n kar geparkeer in die middel van die pad. My aandag is afgetrek. Ek ry om die draai, en sien ’n vrou. Sy’s swanger. Ek kyk na haar voete: vetterige tone met die naels te kort geknip. Sy’s nie baie aantreklik nie. Sy’s nie in ’n deftige deel van die stad nie. My verbeelding skop in.

Gedagte nommer 3: “Sy herinner my aan ’n karakter in ’n movie … die vrou was nie vreeslik slim nie. Is hierdie vrou se man dalk ook ’n lid van ’n misdaadsindikaat? Hoe gaan hy voel as sy kind gebore word? Gaan hulle die kind behoorlik kan grootmaak? Gaan die kind aan die einde in sy ouers se voetspore volg? As die man wel ’n lid is van ’n misdaadsindikaat en hulle ongebore kind is ’n seun, gaan hy ook eendag ’n krimineel word – ’n oop seer op ’n gemeenskap wat nie nog kriminele nodig het of kan bekostig nie? As die ou ’n krimineel is, sou hy glo dat ander gangsters hom meer respek gaan gee as hy ’n kind het? Gaan hy sy kind gebruik in argumente wat hy op geen ander manier sou kon wen nie? Dan weer, wat van rekenmeesters, en ingenieurs, en bankklerke? Maak hulle altyd húlle kinders ordentlik groot? Is dit altyd ’n goeie ding as húlle kinders in hul voetspore volg? Gebruik húlle nie ook soms hul kinders in argumente wat húlle nie andersins sou kon wen nie?”

By die verkeerslig draai ek links. Twee seuns kyk my aan asof ek nie hoort in daai deel van die dorp nie. Ek sien ’n bondel … garing? ’n Visnet. ’n Ou man sit op ’n lae stoeltjie langs die pad en trek die net uitmekaar. Voor hom op die grond lê ’n hond en speel lustig met sy voorpote in die net. Die ou man lyk ongesteurd.

Gedagte nommer 4: “Hoe moet dit voel om so te leef? Sê jy bly op ’n eiland, of langs ’n afgeleë strand. Jy spandeer jou tyd deur visnette uitmekaar te trek, en met jou hond langs die see te stap, en vis te vang, en middagslapies in die skadu van ’n boom te vat. Wat sal so ’n man sê vir iemand wat praat oor hongersnood in Afrika, of oorlog in Irak, of bomme in Londen? Sal hy sê, ‘Dit maak nie aan my saak nie’? ‘Hierdie stukkie strand, hierdie uitsig oor ’n stukkie oseaan, dis my wêreld. Ek gee regtig nie om oor wat op ander plekke gebeur nie.’ Dan sal die ander persoon sê, ‘Wat van as daar ’n situasie is waar, as net een persoon wil help – en daai een persoon kan jý wees, dit lewens sal spaar?’ ‘Wel, as dit hulle tyd is, is dit hulle tyd,’ sal die ou seker antwoord.

“Die probleem met hierdie houding is dat die bad guys nooit so ongeërg is nie. Om die waarheid te sê, dis een van die grootste fokops wat jy kan kry – dat lusteloosheid en ongeërgdheid nooit kenmerke is nie van dié wat lewens bedreig, en vernietig, wat korrupteer, en tot die laaste druppel bloed uitbuit en onderdruk! So die ou met sy lewe op die strand, met sy visnet en sy hond en sy klein stukkie see, sal ook uiteindelik moet kies.”

“Dit moet ek neerskryf as ek by die huis kom,” dink ek soos ek die laaste honderd of so meter trap teen die effense helling uit.

En toe onthou ek van die gedagte oor die moontlike besoek aan Suid-Afrika waarmee ek besig was toe ek by die sentrum weggetrek het. “Al het ek dus geld gehad vir vakansie in September, sal ek nie my vriendin so in die steek kan laat in haar laaste week in Taiwan nie. Jammer dat ek nie daaraan gedink het toe ek vir die familie moes verduidelik hoekom ek nie volgende maand kan kom kuier nie.”

______________________