DINSDAG 28 JUNIE 2005
’n Frase wat gereeld gehoor word om braaivleisvure, op stoepe of balkonne, langs ’n tafel in ’n restaurant of ’n toonbank in ’n kroeg, of ander plekke waar middelstratum mid-twenties hul tyd verwyl, is dit: “Ek weet nou wat belangrik is in die lewe. Ek weet nou wat ek uit die lewe wil hê.”
Ek is in geen posisie om wat vir hulle belangrik is, of wat hulle uit die lewe wil hê, te bevraagteken nie. Die versoeking bestaan wel om vir hulle te vra: Wat was jou proses? Op watse wyse het jy te werk gegaan om uit te vind of uit te werk wat vir jou belangrik is, of wat jy wil hê? Het jy nagte wakker gelê en gedink daaroor? Het jy jare lank die moontlikhede opgeweeg en oor en oor bedink? Vir maande lank? Weke, dalk? Het dit jou “getref” een oggend op pad werk toe? Was dit iets wat iemand gesê het by ’n braai, of op TV, of in ’n movie, of op kantoor, of op kampus een dag? Het jy ’n deeglike proses van eliminasie gevolg, waartydens jy ’n dosyn, of ten minste ’n halfdosyn moontlikhede oorweeg het, met al die moontlike pluspunte van elke moontlikheid opgeweeg teen al die moontlike nadele en al die moontlike risiko’s? Wie se spore volg jy bewustelik of onbewustelik na? Hoekom hierdie spore? Watse behoeftes hoop jy om te vervul met jou uiteindelike keuse van wat vir jou, as jong volwassene, belangrik is? Watse doelwitte sal vervul word in die nastrewing van wat jy uit die lewe wil hê? Wat is belangrik vir jou vriende, jou broers, jou susters, jou neefs en niggies? Stem wat vir jou belangrik is en wat jy uit die lewe wil hê naastenby ooreen met wat hulle wil hê, en wat vir hulle belangrik is? Indien jy ’n ander pad wil volg as hulle, wat is jou redes, jou motiverings? Indien dit wel ooreenstem, wat reken jy sou die redes wees daarvoor? En nou dat ons op hierdie vraaglyn is, wat was belangrik vir jou ouers, of jou ooms en tantes (net vir interessantheid)? Het hulle soortgelyke dinge nagestreef as wat jy nou meen om te doen vir die volgende veertig of so jare van jou lewe? Is, of was hulle gelukkig met hul keuses? Om watter redes sou jy reken was hulle tevrede met hul keuses? Was daar dinge waaroor hulle spyt was? Wat is hierdie dinge? Is daar drome of ambisies wat jy nou reeds afskryf as onrealisties en onvervulbaar? Hoe spyt sal jy moontlik oor tien of twintig jaar wees oor hierdie dinge wat jy as onbereikbaar beskou het in jou middel-twintigs? Wat sal opmaak vir die drome en ambisies wat jy nooit gaan nastreef nie?
Hierdie is maar enkele vrae waarvoor jy ’n uur of wat kan afknyp as dit net jy is – as jy jouself bevind in ’n plek waar jy niemand ken nie, waar bekende stemme vir die oomblik nie jou eie weergalm, of stil praat, of ondersteun nie.
______________________