Nuwe verhoudings en romantiese beelde

DINSDAG 15 FEBRUARIE 2005

1. Om ’n verhouding aan te knoop, is ’n kreatiewe proses. Dit is organies, vat-dit-soos-dit-kom, nie ’n stap-vir-stap, volg-net-die-stippellyne-vir-gewenste-eindresultaat proses nie.

2. Mens moet, aan die begin, bereid wees om die persoon te verloor, hoe onaardig dit ook al mag klink. Die rede is eenvoudig: Indien jy nie bereid is om te verloor aan die begin nie, gaan jy a) nie jouself wees nie, b) desperaat voorkom, en c) die proses forseer; wat feitlik alles in elk geval die onderneming sal doem tot mislukking.

* * *

Twee dae gelede toe dink ek hoe gemaklik, of relatief ontspanne ek is in die geselskap van [my jonger suster se destydse skoonouers], mense my ouers se ouderdom, wat ek nou al ’n paar jaar ken, maar met wie ek geen emosionele verbintenis het nie.

Ek reken toe dat dit heel waarskynlik te make het met die feit dat hulle geen vroeër kennis het van my nie – wat hulle nou sien, is al wat hulle nog altyd gesien het. My eie ouers het my geken as ’n pap baba, ’n sewejarige laitie, ’n twaalfjarige jong seun, ’n sestienjarige tiener, ’n twintigjare jong man … Hulle wéét wat ek nou is, is nie wat ek altyd was nie.

Ek besef toe ook dat my ma ’n groter probleem het as enige iemand anders in die gesin met die teenstrydigheid tussen vroeër-ek, en nou-ek. Sy hou steeds vas aan ’n romantiese beeld van my toe ek vir haar op my “mooiste” was – miskien so twaalf jaar oud, skoon gesig, stil, op my knieë aan die bid elke aand voor ek gaan slaap, die eerste tekens van erns met godsdiens, die idee dat ek dalk ’n dominee sal word.

My pa, aan die ander kant, het nie ’n romantiese beeld van my as jong seun nie. Hoewel hy my liefgehad het, het hy my gesien as lomp, en onbevoeg om selfs die kleinste tegnologiese uitdaging die hoof te bied; plus, ek het weinig belanggestel in hoe ’n motorenjin werk. Sy beskouing van my, nou, is meer positief – ’n intelligente man, iemand wat ’n belangstelling toon in die Groter Vrae van die Lewe.

Aan die een kant dus my ma, wat steeds hoop dat ek dalk weer ’n bietjie sal word soos haar romantiese beeld van haar “mooi seun”, en aan die ander kant my pa, wat my makliker aanvaar soos ek nou is, siende dat dit ietwat van ’n verbetering is op die ek van my prille jeug.

So skop die gedagte my toe in die gesig laat vanmiddag dat ek ook skuldig is aan hierdie romantiese beskouing ding. My jonger suster het tien jaar gelede anders aan my verskyn as nou – sy was rebels, gereed om die wêreld aan te vat … en tog weerloos, en breekbaar. Nou, tien jaar later, is sy moeder, ’n vennoot in ’n huwelik, en ’n uiters waardevolle administrateur van my ouers se bedryf. Maar sonder dat ek bewus was daarvan, was ek al hierdie tyd effens teleurgesteld, want, “Wat het van die rebel geword?”

Familie is nie net mense wat saam gewoon het vir baie jare, en mekaar van tyd tot tyd bel om te hoor of alles nog orraait is nie. Familie – en in hierdie geval bedoel ek ouers en broers en susters – is mense wat jy voortdurend moet laat groei in jou eie oë. Dit is hoe verhoudings lewendig, en werklik, gehou word.

______________________