VRYDAG 24 DESEMBER 2004
Ek kan sê ek oordoen dit op die oomblik, dat ek moet ophou om tot vervelens toe ou materiaal te hersien. Waaroor dit egter gaan, is die sinchronisasie van interne en eksterne verskynings. As ek aan myself verskyn … as ek bestaan in my woonstel, is ek ’n skrywer – maar meer as dit, ek is ’n noteerder van fantastiese insigte wat ek glo ek nie soseer uitdink, as ontvang nie.
Die oomblik wanneer ek egter die wêreld buite my woonstel betree, en veral dan as ek sosiale verskynings maak, is ek net ’n 33-jarige man van Suid-Afrikaanse herkoms, Afrikaans van taal en kultuur, wat al ses jaar in Taiwan woon, en geld verdien – soos honderde ander Westerlinge in hierdie stad – as ’n Engelse onderwyser, en wat meeste van die tyd nie saam met ’n intieme metgesel gesien word nie. Dis al.
Dis nie meer goed genoeg nie. Eksterne verskynings moet noodwendig hersien word.
MAANDAG 27 DESEMBER 2004
Nog iets: self-waarneming, self-definiëring, verskyning … self-waarneming, self-definiëring, verskyning … Dis ’n deurlopende proses. Patrone word gevestig wat herhaal word; verstellings word gemaak; onakkurate inligting, en verskynings wat nie strook met jou selfbeskouing nie, word reggestel; nuwe aspekte van identiteit word gedefinieer, of aspekte wat meer gepas is vir die omgewing waarin jy jouself bevind; verskynings word weer gemaak; jy neem jou “self” weereens waar; jy dink weer, definieer weer, verskyn weer …
______________________