Stilte. En stemme.

WOENSDAG 10 NOVEMBER 2004

22:59

Ek het geleer dat om nie te verskyn nie, beteken stilte. En dat stilte, indien jy dit kan hanteer, goed is.

23:57

Toe ek jonger was, het dit gevoel asof ek iets verkeerd doen as ek “te veel” tyd op my eie spandeer. Wat nie verbasend is nie, want van jongs af word dit ontmoedig; “Jy moet meer uitkom,” “Spandeer bietjie tyd saam met ander mense,” “Dis nie goed om so alleen te wees die heeltyd nie!” sal mense gereeld hulle goed bedoelde menings uitspreek.

Dit vat soms jare van alleenwees voordat jy alternatiewe insigte kry oor hierdie aangeleentheid, soos dat sosiale verskynings – wat terloops baie meer persoonlike informasie vereis as anonieme verskynings, en selfs verskynings in professionele kapasiteit – baie “geraas” beteken. En hierdie geraas maak stemme stil wat baie mense vrees – en miskien in sommige gevalle nodig het om te vrees.

Hierdie “stemme”, indien jy lank genoeg jou “ore” spits, en lank genoeg nadink oor wat jy “hoor”, openbaar uiteindelik insigte wat net beskore is vir dié wat bereid is om te luister, en wat bereid is om die lugweë skoon te hou ter bevordering van hierdie proses.

———–

[Vele mense in die geskiedenis van die wêreld het al “stemme” gehoor, en gereageer daarop deur aksies te neem wat die rigting van duisende, selfs miljoene mense se lewens beïnvloed het, en steeds doen.

Daar is ook vele mense wat nooit enige tasbare impak sal maak op hulle omgewings nie, wat ook stemme hoor elke dag. Die feit dat baie van hulle in inrigtings opgesluit is, of opgesluit gaan word, spreek van hoe hierdie figure bejeën word deur die gemeenskap – ongeag of dit regverdigbaar is of nie.

Watse “stemme” hoor ek? Hoewel die term ’n handige een is om te gebruik, moet ek noem dat ek nie (meeste van die tyd, in elk geval) werklik stemme hoor nie. Die tye waarna ek verwys wanneer ek kwansuis iets “hoor”, is eerder tye waar my eie stem die lugweë vul soos ek met myself in diepe gesprek verkeer. Dat my self-gesprekke ongeïnhibeerd is – ek probeer niemand beïndruk in ’n sosiale verskyning nie, om een voorbeeld te noem – beteken dat ek die spreekwoordelike tafel vol kaarte kan gooi. Hierdie “kaarte” is moontlike antwoorde op vrae, moontlike oplossings vir probleme waarmee ek gereeld myself teister ongeag of ek op my eie is, anonieme verskynings maak, of as “Brand Smit” verskyn aan die gemeenskap. As hierdie kaarte eers op die tafel is, kan die geldigheid van elkeen op meriete oorweeg word. Geen antwoord of oplossing word uiteindelik blindelings aanvaar omdat een of ander stem dit vir my gedikteer het nie.]

______________________