’n Eksistensiële sprokie

DINSDAG 19 OKTOBER 2004

Eendag, lank, lank gelede, was daar ’n man wat gewoon het net so ’n kluitgooi van ’n baie klein dorpie af. Sommige mense het gemeen hy was ’n reus; ander sou stry dat hy groot was, maar darem nie reusagtig nie. Maar dat hy heelwat groter was as die mense in die dorpie, was duidelik aan almal wat hom teëgekom het.

Hierdie man was … eensaam, omdat hy alleen gewoon het, en ook omdat hy … anders was as die dorpenaars. Op tye het sy eensaamheid ondraaglik geraak – so ondraaglik dat hy nie anders kon as om sy huis te verlaat, die paar honderd meter te stap deur digte bosse, en sy verskyning te maak in die dorpie nie.

Sou hy hom dan by tye bevind in die dorpie, het hy sy bes probeer om vriende te maak. Dit was egter altyd ’n stadige proses. Hoewel hy vriendelik was, kon hy nooit sy ongemak wegsteek oor sy andersheid nie. Hy’t hard probeer om die mense te oortuig dat hy soos hulle was. Hy’t klere aangetrek wat, so’t hý in elk geval gereken, soortgelyk was aan hulle s’n, en hy’t probeer om te praat oor dinge waaroor hulle saam kon gesels. Hy’t ook ’n poging aangewend om te praat op maniere wat soortgelyk was aan hulle maniere van praat, alles in ’n poging om hulle nie te vervreem nie.

Die inwoners van hierdie gehuggie het almal in klein huisies gewoon, met klein deure, klein vensters, klein stoele en tafels, en baie lae plafonne. Elke keer wat die man gaan kuier het by mense in die dorp, moes hy laag afbuk om hulle huise te betree. Sy boude het seer geraak van sit op hulle klein stoeltjies, en soms was hy ietwat lomperig by hulle klein tafeltjies. Sy kop het ook gestamp teen die plafon, en sy oë het gebrand van uitkyk by hulle klein venstertjies. Sy rug het elke keer gepyn wanneer hy terugstap huis toe – van al die afbuk, natuurlik.

Die struktuur wat hierdie man sy huis genoem het – wat hyself, met sy eie hande gebou het – was veel, veel groter as selfs die grootste huis in die dorp. In vergelyking met sy huis, het die huise in die dorp gelyk soos pophuise; in vergelyking met die huise in die dorp, het sy woning gelyk soos ’n kasteel. Natuurlik het die man nie graag gepraat oor sy woonplek nie. Hy’t geweet, of vermoed, dat die dorpenaars skaam sou voel oor hulle eie beknopte woonplekke. En die man het nooit die dorpenaars genooi om sy huis te besoek nie, want hy was bang dit vervreem hulle soveel van hom dat hulle nooit weer met hom sou wou praat nie.

So het die tyd aangestap, met die eensame, skugter, saggeaarde “reus” wat sy bes probeer het om deel te wees van die gemeenskap in wie se midde hy gewoon het – al was dit dan so ’n entjie weg.

Elke nou en dan het hy homself toegelaat om te droom dat ’n jong vrou van die dorp dalk net eendag met ander oë na hom sou kyk, en miskien saam met hom in sy majestueuse woning sou kom woon. Maar die tyd het voortgesleep, sonder dat enige jong vrou van die dorp na hom gekyk het en enige iets anders as ’n effens lelike, kaalkop reus gesien het.

Hierdie man het begin moeg raak vir afbuk die hele tyd. Hy’t moeg geraak vir die lae deurkosyne en die lae plafonne. Hy’t moeg geraak daarvoor om te probeer fokus op die uitsig buite die klein venstertjies. Hy’t selfs moeg geraak vir die boudkrampe wat hy gekry het van sit op die dorpenaars se klein stoeltjies.

Die “reus” wou so graag net één keer regop staan, in die middel van die dorp waar almal hom sou kon sien, en ’n uitnodiging bulder aan al die dorpenaars om hom te kom besoek – by sý huis, sy kasteel. Hy wou vir hulle wys wie hy regtig is. Hy wou vir hulle verduidelik waar hy vandaan kom, hoekom hy anders as hulle is, maar dat ook hý net ’n mens is.

Hy’t geweet hy sou ’n groot kans waag om dit te doen. Die dorpenaars was so gewoond aan hulle eie huisies, hulle eie klein deurtjies, hulle eie klein venstertjies, hulle eie klein meubelstukkies en hulle eie lae plafonne, dat hulle onrustig sou raak in die groot kasteel. Die groot, swaar deur sou hulle bang maak. Die hoë plafon sou hulle verskrik na mekaar laat gryp, en hulle sou baie klein voel op sy groot, sagte stoele, langs sy reusagtige tafel. Laastens sou hulle dronk geraak het in die kop van die verskriklike wye uitsig uit sy reuse vensters.

Die mense sou weghardloop, weg van hom en sy kasteel af. Hulle sou hom heel waarskynlik nooit weer wou sien nie, en hulle sou sekerlik onrustig geraak het indien hy weer geselskap kom soek het in hul klein gehuggie. Nimmer as te nooit sou hy dan ’n jong vrou van die dorp kon oortuig om saam met hom te kom woon nie!

Tog, die man was moeg vir al die afbukkery. Vir eenmaal wou hy regop staan. Net een keer wou hy hê dat die dorpenaars hom kon sien vir wie en wat hy werklik is; om die man te kon sien wat hý sien wanneer hy in die spieël gekyk het.

______________________