MAANDAG 30 AUGUSTUS 2004
Ek kan plegtig verklaar dat my maag saamtrek met die gedagte dat ek oor vier dae hierdie realiteit weer moet verruil vir my “werklike” lewe. Ek sien uit daarna om terug te wees by my eie huis, my persoonlike hoofkwartier – maar dis omtrent al waaroor ek op die oomblik positief is.
Wat anders is daar aan my lewe in Taiwan waarna ek moontlik kan uitsien? Deep fried op ’n Saterdagaand? Goedkoop VCD’s? Afsprake by die coffee shop? Lunch boxes met olierige groente? My fiets? Al hierdie dinge kan vervang word met ander, soortgelyke dinge hier.
Waarna ek uitsien, is om weer tyd in my eie hoofkwartier te spandeer. Ek mis die gemak en bekendheid van my eie herberg.
Ek loop nou al vir drie weke rond met die gedagte dat ek hier, in Bronkhorstspruit, geluk kan vind. Wat ek nodig het, is geld, ’n huis, en ’n kameraad wat my saak verstaan. Daar is ook die idee van die “eiland”* en die vraag aan watse vasteland jy verbind is. Ses maande hier, ses maande daar …
———–
* [Die konsep van die “eiland” verwys na die tuiste wat mens vir jouself skep. Hierdie tuiste – huis, woonstel, of enige iets anders – word dan die eiland waarop jy woon. Die “vasteland” is die dorp of stad waarheen jy sal gaan wanneer jy proviand benodig, of bietjie op ’n ander plek as jou eiland wil kuier.
Die idee het by my posgevat toe ek saam met my suster en swaer by iemand op Vryheid ’n draai gemaak het. Die persoon het in ’n nuwerige uitbreiding gewoon – ek is nie regtig ’n nuwe uitbreiding tipe ou nie, en die uitbreiding was net buite Vryheid – en ek was nog nooit te gretig om my hakke vas te trap op dié spesifieke dorp nie.
Tog, die ou se huis was warm, en aangenaam, en ek besef toe mens se tuiste is soos ’n eiland – as jy daar is, tussen al jou eie goed, en onder jou eie palmboom, by wyse van spreke, maak dit nie soveel saak as jy nie van die naaste “vasteland” hou nie.
______________________