WOENSDAG 4 AUGUSTUS 2004
As jy nie nodig gehad het om te verskyn nie, sou jy nie veel van ’n sogenaamde identiteit nodig gehad het nie. Of miskien moet ek eerder sê, die manier hoe jy wel aan jouself sou dink as jy nie nodig gehad het om te verskyn nie, sou nie die goedkeuring van die gemeenskap nodig gehad het nie – menende in daaglikse gesig-tot-gesig verskynings.
Identiteit wat herken en tot ’n mate goedgekeur word deur die gemeenskap word dus hoofsaaklik benodig vir VERSKYNING. In ag genome hierdie verbintenis tussen identiteit en verskyning op bepaalde tydstip en plek, wat sou die waarde daarvan wees om nie te verskyn nie?
[Nota op 10 Augustus 2007: Identiteit word hoofsaaklik benodig vir verskyning? Ek sit nou alleen agter my rekenaar, en ek het op hierdie oomblik nodig om te weet wie ek is.]
[Nota op 23 Mei 2012: Ek sit nou alleen agter my rekenaar en ek dink aan myself op ’n spesifieke wyse, wat vir alle praktiese doeleindes daarop neerkom dat ek identiteit het. Hoekom? Omdat ek daagliks verskyn aan mense, en dan tussen verskynings inskuif agter die rekenaar … waar ek nie ’n knoppie kan afskakel na iets wat laat flikker wie ek is nie. Plus, dalk vereis die werk wat ek doen, soos hierdie skryfmateriaal, dat ek identiteit moet hê. Hoekom? Want wat ek skryf, is verteenwoordigend van my, en sal absoluut betekenisloos wees as “ek” nie verskyn aan die leser as mens-met-identiteit nie. Die leser sal nie kan vereenselwig met wat ek skryf nie, en sal derhalwe niks ernstig opneem wat ek sê nie. Dus, hoewel ek nie tans verskyn aan enige iemand nie, het ek steeds identiteit want ek onthou wie ek was tydens my mees onlangse verskyning, en ek het nodig om oor identiteit te beskik op kort kennisgewing – as iemand byvoorbeeld aan die deur klop. En selfs as jy alleen is, doen jy dalk werk wat identiteit vereis.]
______________________