WOENSDAG 21 JULIE 2004
Insigte en frustrasies van die afgelope week of so, aangehelp deur die feit dat ek skryfmateriaal van so vier jaar gelede hersien op die oomblik, het ’n patroon gevorm van onvergenoegdheid met hoe ek verskyn aan die wêreld op die oomblik – dieselfde probleem as vier jaar gelede, maar grootliks afwesig toe ek in Taiwan gearriveer het en nie nodig gehad het om betekenisvolle sosiale verskynings te maak nie.[1] Hierdie verskyningsprobleem hou direk verband met behoeftes (veral aan intieme kontak) wat nie tans bevredig word nie.
Voorheen – soos vier jaar gelede – sou ek dit nie behoorlik verstaan het nie. Ek sou net geweet het “Ek is nie gelukkig nie” of “Ek is gefrustreerd,” en ek sou gewens het ek het meer geld gehad om beter klere en miskien ’n beter ryding te kon koop, en ek sou lyste gemaak het vol items wat sou dui op ’n meer ideale self.
Nou weet ek die probleem is nie noodwendig wie en wat ek is, of die betrokke omgewing nie, maar spesifiek hoe ek verskyn aan die wêreld – hoewel dit nie geïsoleer kan word van ander dinge nie. Ek is dus relatief gelukkig met myself, op my eie, in my eie privaat herberg in Benewelde Lig, maar wat my pla is hoe ek verskyn. VERSKYNING is die probleem.
Dat ek die probleem nou beter kan identifiseer en duideliker kan verwoord is ’n aanduiding van die ontwikkeling van my begrip van dinge gedurende die afgelope vier jaar.
———-
[1] Vir die leser wat nie die depressiewe prosa van die tweede helfte van 2000 te siene gekry het nie, of wat dit oorgeslaan of geïgnoreer het, kortliks: ek moes in 2000 skielik weer sosiale verskynings maak, wat in 1999 grootliks onnodig was omdat daar feitlik geen ander Suid-Afrikaners in Kaohsiung was nie.
Net toe jy reken jy ken jouself
Vra vir iemand, “Wie is jy?” Verskerp die druk miskien effens deur by te voeg, “Ek vermoed jy weet nie regtig wie jy is nie.”
Die reaksie van menige persoon op so ’n ongeskikte stelling illustreer die uitdaging waarvoor elkeen van ons staan: Kan jy verwoord wie jy dink jy is? Kan jy uitdrukking gee daaraan?
WOENSDAG 28 JULIE 2004
Gedagte by Gebuigde Dorp stasie: Ek het nie ’n probleem met die “mooi wêreld” nie; ek het ’n probleem met die prys waarteen mense lidmaatskap aan hierdie wêreld aanskaf.
In die verbruikersamelewing offer vele mense daagliks kreatiwiteit en ure op – verloën hul ware natuur, as’t ware – ten einde krediet te bewerkstellig waarmee hulle lidmaatskap aan die sogenaamde mooi wêreld kan koop.
Dit was my posisie ’n paar jaar gelede; dit is my posisie nou.
Skoonheid sonder substansie is, in die finale telling, net ’n mooi dop.
______________________