Die man, die kind, en ’n spesiale toebroodjie

VRYDAG 24 OKTOBER 2014

Toe ek vyf jaar oud was, het ek een oggend in ’n boom in ons voortuin gesit en wag vir die kleuterskoolbussie om my te kom haal. My ma was in die kombuis besig om vir my ’n toebroodjie te maak. Die volgende oomblik stop die bussie voor ons huis. Ek spring uit die boom uit, maak die tuinhekkie oop, en klim in die bussie in.

Soos die bussie wegry, sien ek hoe my ma by die voordeur uitkom met my toebroodjie in haar hande.

Dit het my hart gebreek. Ek het jare later nog vir haar vertel hoe diep dit my geraak het.

Ek is nou 43. Ek het vanoggend vir myself ’n toebroodjie gemaak, my vrou totsiens gesoen, en na die moltreinstasie toe gery.

Terwyl ek wag vir die trein, sit ek my plastieksakkie met die toebroodjie op ’n bankie neer. Ek herinner myself daaraan om nie die sakkie te vergeet nie (ek raak maklik verlore in gesprek met myself).

Dis toe dat ek onthou van die insident met my ma en die toebroodjie toe ek vyf was.

Ek wonder toe, as my vrou vir my die toebroodjie gemaak het, en ek het die toebroodjie in die stasie vergeet, hoe sou ek gevoel het daaroor?

Tot my groot vermaak besef ek dit sou my diep ontstel het.

______________________