’n Plek waar ek nie hoort nie

MAANDAG 5 APRIL 2004

Ek was gisteraand in die “Bread of Life Church” in Kaohsiung. Ek het gedink ek sou voel soos ek Saterdagaand gevoel het toe ek ’n ander roete probeer het terug huis toe en opgeëindig het op ’n donker, verlate pad in ’n industriële area. Die gevoel wat ek gehad het tussen die donker fabrieke, na middernag op ’n Saterdagaand, was vars in my geheue op pad na die kerk. Ek het gereken ek gaan myself weer bevind in ’n plek waar ek nie hoort nie.

Na 45 minute het ek uitgestap en … ek was teleurgesteld. Teleurgesteld in die “preek” wat hoofsaaklik bestaan het uit ’n pseudo-wetenskap/geskiedenislesing om te “bewys” dat Christus werklik gesterf het. Die wat-dit-beteken-deel was uiteindelik ingelei met die woorde, “Just a few final words …” (of iets dergeliks).

Ek was ook herinner daaraan dat mense “kerk doen” op ’n Sondagaand, soos ander mense (of dieselfde mense) “sport doen” op ’n Saterdag. Dit was ’n sosiale geleentheid met die byvoordeel van religieuse identiteit bevestiging.

Ek kon nie anders as om te kyk na die mense, die “pastoor” met sy mikrofoon, en die parafernalia van “Christelike geloof” en tot die konklusie te kom dat die Kerk van Christus gekaap is deur mense wat nie die helfte van hulle eie “geloof” verstaan nie.

Hierdie is kritiese aantygings, en ek is bewus van die feit dat ek slegs 45 minute gespandeer het in die “gemeenskap van gelowiges”.

Een vraag kom egter by my op: As dit is wat ek dink, het ek ’n verantwoordelikheid om my opinies bekend te maak – in die geskrewe woord en in privaat gesprek, of moet ek dit vir myself hou en sê, “Laat die mense voortgaan om in vrede kerk te doen en hulle identiteite te bevestig”?

Verantwoordelikheid aan wie? Soos gewoonlik is ek nie seker nie. Al wat ek weet – en ek is immers nie ’n algehele vreemdeling in die hele kerk-besigheid nie, is dat iets nie lekker was by daai byeenkoms nie.

* * *

Die klem op “bewyse” in die lesing gisteraand het my ook laat dink die pastoor het aangeneem hy “preek” vir ’n groep ongelowige thomasse vir wie geloof nie genoeg is nie; asof hy weet die mense moet eers hul vingers insteek in die wonde van Christus voor hulle kan glo.

* * *

Dit mag vreemd wees vir sogenaamde gelowiges om dit uit te lig, maar dit wil voorkom asof die Christelike geloof vir vele “Christene” gaan oor regte aksie en beloning – doen dit, kry dat. Wat gedoen moet word vir die beloning is dat die persoon “in God moet glo”. Sodra dit natuurlik ’n voorvereiste raak vir verlossing, is dit letterlik ’n saak van lewe en dood om korrekte oortuigings te definieer, en ewe belangrik, om verkeerde oortuigings vas te pen. En sodra jy die grens vasgestel het tussen korrekte oortuigings en verkeerde oortuigings, is dit oop seisoen teen ketters wat “mislei word”, wat op “die verkeerde pad” is, mense wat “nie werklike gelowiges is, soos ons nie”.

______________________