SONDAG 23 MEI 2004
Ek is nie ’n wese van die buitenste ruim nie. Ek maak hierdie stelling omdat gerugte van my alternatiewe kosmiese herkoms nou al vir maande dik lê in die kringe waarin ek soms gesig wys, en die vermoede word gereeld sterk gefluister onder mense wat klaarblyklik nog nooit een soos ek gesien het nie. Die reaksie na aanvanklike kontak met die “vreemde wese” is altyd dieselfde: Behandel hom met beleefdheid, bejeën hom met agterdog – hy is nie “soos ons” nie.
Tog is ek nie ’n wese van die buitenste ruim nie. Ek is ’n mens, selfde as die karakters wat verkeerdelik veronderstel hulle het voldoende verstand om ’n mening oor my te formuleer. Ek het ingewande, en organe, en arms en bene. Ek het hare op my lyf, tande in my mond, en oë in my kop wat, dit erken ek, miskien met te veel kritiek kyk na die wêreld om my.
Maar ’n wese van die buitenste ruim is ek nie. Soos enige sterflike siel het ek behoeftes wat bevredig moet word. Ek meen, eet ek nie immers elke dag ontbyt nie? Hunker ek nie soos alle sterflinge na die vriendelike aanraking van ’n ander mens nie? Het nie ook ék soms behoefte aan ’n beskermende hand nie? Soek nie ook ék troos ná pyn en teleurstelling nie?
Nee geliefdes en ander belanghebbendes, wat ek is, is ’n verligte individu … en indien nie altyd verlig nie, verseker op pad. En dít, geagte lesers, is vir sommige mense net so skrikwekkend soos ’n groen, jellie-druppende, vyf-oog kreatuur van ’n ander kosmos.
Maar ’n wese van ’n ander ruim, wees gerus, is ek nie.
Ek weet maar te goed ons almal leer om te vrees wat ons nie verstaan nie. Ons almal leer om met agterdog te bejeën wat nie soos ons is nie. Ons dink etikette uit, en hang dit figuurlik om nekke as ons agter ons hande fluister, ons oë dartelend agter ’n vreemde figuur aan om seker te maak hy of sy drentel nie in ons rigting nie.
Die teenwoordigheid van ’n verligte individu is soms ’n skrikwekkende ervaring vir sommige mense. Maar wat ís ’n verligte individu? Dit is die persoon wat ons eie onkunde blootlê; so ook ons vrese, en soms ons eie intellektuele tekortkominge. ’n Verligte individu breek die ongesproke ooreenkoms wat bestaan tussen ’n betekenisvolle persentasie volwassenes – as ek nie weet (of verstaan) nie, en jy weet (of verstaan) ook nie, dan’s ons albei orraait.
Verligte individue beskik oor unieke selfkennis. Hy of sy verstaan die motiverings agter meeste van hul eie aksies. Hulle verstaan hul begeertes – waar dit vandaan kom, en wat dit beteken. Hulle verstaan ook hul vrese, en wat dit veroorsaak. Hulle begryp wat agter ’n hele paar “geheimenisse” van die lewe sit, en hulle weet dat hulle nooit al die geheime kan ken nie.
Verligte individue erken hul eie tekortkominge; hulle erken hul eie onkunde en hul eie vrese; en hulle erken hul eie nietigheid. Hulle het nie rede om andersins voor te gee nie, en hulle kan die gedagte aan selfverloëning in elk geval nie verduur nie.
Verligte individue verstaan die waardes van die gemeenskap waarbinne hulle gebore is en/of waarbinne hulle hulself bevind as volwassenes – ongeag óf hulle hierdie waardes aanvaar as hul eie óf nie. Hulle verstaan ook die instellings en konvensies van hierdie gemeenskap, en die verwagtinge wat maak dat een individu aanvaar word deur ’n gemeenskap, en ’n ander verwerp word.
Verligte individue verstaan hulself beter as wat enige ander persoon hulle verstaan. Hulle verstaan ook die konteks waarbinne hulle hul lewens uitleef beter as die kollektiewe begrip van ’n dosyn onverligtes.
Is die VERLIGTE INDIVIDU dus ’n wese van ’n planeet ligjare verwyderd van ons eie?
’n Mens kan amper simpatie hê vir VERLIGTES as dit soms vir hulle voel asof hulle net sowel vreemde kreature kon wees wat ’n onwelriekende slym sal afgee as jy aan hul vel krap. En die VERLIGTES het soms begrip vir die ONKUNDIGES as hulle eersgenoemde vermy asof die woorde wat hulle uiter, gif is wat ’n stadige, pynlike dood kan veroorsaak.
Kan daar, helaas, ooit iets anders as antagonisme wees tussen ONKUNDIGES en VERLIGTES? Kan daar ooit harmonie wees tussen TROPDIERE aan die een kant – wat vasklou aan instellings asof dit totempale is en aan konvensies asof dit opdragte van God is, en aan die ander kant die VERLIGTE ENKELING?
Ek weet wie ek is, en wie ek wil wees. Die vraag is nou, waar staan jy met hierdie aangeleentheid?
______________________