SATERDAG 3 JULIE 2004
Laat my toe om enkele waarhede ter tafel te lê:
1. Identiteit speel ’n kardinale rol in die normale funksionering van ’n individu.
2. Die partikulêre gemeenskap waarbinne ’n mens gebore en getoë word, speel ’n primêre rol in die vorming van identiteit.
3. Dit is baie algemeen dat ’n partikulêre godsdiens ten nouste verweef is met ’n partikulêre gemeenskap; hierdie godsdiens is in vele gevalle ’n kardinale bepaler van identiteit vir mense wat gebore is en grootgeword het in hierdie gemeenskap.
4. Vir die aanhangers van verskeie godsdienste is dit belangrik om aanspraak te maak op die universele toepassing van ’n spesifieke godsdienstige “waarheid”.
5. Dit is te verstane as ’n persoon wat gebore is en grootgeword het in ’n gemeenskap waar ’n “universele toepassing” godsdiens ’n primêre bepaler is van identiteit, ter wille van sy of haar eie partikulêre identiteit, hierdie aansprake resiteer, en dit ook so sal oordra aan die volgende geslag.
’n Vraag: Kan rasionele mense kwalik geneem word as hulle ’n skeptiese houding koester jeens die aanspraak op “universele waarheid” deur die aanhangers van enige partikulêre godsdiens?
Anders gestel:
a) Gemeenskappe funksioneer orals in die wêreld as bronne van partikulêre identiteit.
b) Om as buitestander ’n partikulêre gemeenskap se geldigheid te bevraagteken as bron van identiteit bloot omdat jou eie identiteit nie afkomstig is van daai bron nie, is onlogies. (Dit sal beteken dat een wat buite jóú gemeenskap gebore is en grootgeword het, ook die geldigheid van jou gemeenskap as bron van identiteit kan bevraagteken omdat sy identiteit nie afkomstig is van jóú gemeenskap nie.)
c) ’n Partikulêre godsdiens is, in talle gevalle, ten nouste verweef met ’n partikulêre gemeenskap, en vervul ’n belangrike rol in die definiëring van identiteit.
d) Gemeenskap A is dus as ’n bron van identiteit gelyk aan Gemeenskap B.
e) Dit kan ook gesê word dat Godsdiens A as ’n bron van identiteit gelyk is aan Godsdiens B.
Drie vrae:
1. Op watter basis kan aanhangers van Godsdiens A, in ag genome bogenoemde punte, steeds aandring op universele toepassing van hulle “waarhede” – oor alle tydsgrense, kulturele grense, en alle ander grense heen?
2. Op watter basis kan die aanhangers van Godsdiens A – wat heel waarskynlik aanhangers van daai partikulêre godsdiens is omdat daai partikulêre godsdiens ’n primêre gegewe faktor was in die proses waaruit hulle identiteite gevorm was – die bewering maak dat hulle godsdiens waarde het wat verder strek as die waarde van Godsdiens B – wat ’n soortgelyke rol vervul as identiteitsbepaler in Gemeenskap B?
3. Waar word die lyn getrek tussen godsdiens as oordragmedium van “tydlose waarhede” (ongeag hoe waar dit mag wees), en godsdiens as bepaler van identiteit?
Na deeglike besinning oor hierdie onderwerp, is daar nog ’n vraag wat mens nie die versoeking kan weerstaan om te waag nie: WAT IS DIE WAARHEID?
Dis maklik om een van die beginsels van sekulêre religie te resiteer en te antwoord, “Die waarheid is relatief.”
Ek glo egter steeds dat daar ’n ABSOLUTE, UNIVERSELE WAARHEID is. Ek glo verder dat die partikulariteit van noodlotsdata waarmee enige mens gekonfronteer word met geboorte, die gegewendheid van die instrumente waarmee uitdrukking gegee word aan ’n bewussyn van individuele self, en die noemenswaardige rol van godsdiens as ’n mede-bepaler van identiteit, alles stukkies is van die legkaart wat die WAARHEID is.
Ten laaste, glo ek dit is moontlik vir ’n mens – ’n lewende lid van die spesie Homo sapiens – om die volle, absolute, universele, tydlose waarheid te ken?
My antwoord bly steeds, sonder twyfel, nee.
______________________