Meetstok van jare se wegry van dieselfde plek af

DONDERDAG 19 APRIL 2012

Ek ry vroeg vanaand weg by die skool waar ek al vir meer as dertien jaar werk en wonder hoe dit sal wees om die laaste keer daar weg te ry. ’n Paar draaie later dink ek hoe ek hierdie gewoonte ontwikkel het om te dink aan my lewe aan Taiwan wanneer ek wegry na ’n klas by hierdie spesifieke skool – die groot, breë tema van my lewe in Taiwan, nie spesifieke sake wat net relevant is tot daai dag of daai week nie.

Ek werk toe uit dat ek al meer as 1 500 kere daar moes weggery het sedert vroeg 1999, wat beteken ek het seker al om en by ’n duisend keer my lewe in Taiwan gekontempleer nadat ek ’n paar ure tussen daai mure spandeer het.

Dat hierdie spesifieke skool die mees stabiele, bestendigste aspek is, en sover was, in my meer as dertien jaar in Taiwan, was die volgende trok in die gedagte-trein. Niks, nie woonplek, vervoermiddel, wat en waar ek eet, met wie ek sosialiseer, wat ek doen in die aande, hoe laat ek opstaan in die oggende, die hoeveelheid geld wat ek verdien, my finansiële verpligtinge, of my verhouding-status het dieselfde gebly gedurende die laaste dertien jaar nie. Ek het selfs deur vier verskillende rekenaars gegaan! Wat dit dus nie verbasend maak dat ek neig tot groot gedagtes wanneer ek nog ’n keer my tydkaart pons by hierdie plek nie.

Wat hierdie tipe konsekwentheid aan ’n mens gee, is ’n maatstaf.

As ’n man na dertien jaar nog steeds dieselfde werk doen in dieselfde kantoor en dieselfde inkomste verdien – aangepas vir inflasie – sal hy tereg dink sy lewe het gestagneer, veral as hy sien hoe sy kinders in dieselfde tyd verander het van kleuters met vetkryt tussen hulle vingers tot tieners met iPhones in hulle hande.

Met die skool ter sprake sou ek stagnasie waardeer. Die werklikheid is dat my situasie by hierdie skool toenemend versleg het soos die een jaar homself bo die ander jaar bly pak het. Ek het begin met ten minste vyftien ure per week, wat my gegee het omtrent NT$30 000 per maand. Ek doen nou twee ure per week by die plek, wat my omtrent NT$5 000 per maand in die sak bring (ek gee darem ook klas by een of twee ander plekke, soos ek ook dertien jaar gelede gedoen het).

As ek my lewe in Taiwan moet meet aan die maatstaf van die bestendigste deel van my lewe hier, is ek nie besig om te stagneer nie, ek is besig om agteruit te gaan.

Ek kan sê dat dit onwetenskaplik is om jou lewe te meet aan net een maatstaf. As almal hulle lewens moet meet aan die een ding wat volhardend deel van hulle lewe gebly het vir ’n lang tyd – ongeag of hulle hou van hierdie ding of nie, sal meer mense dalk soos mislukkings voel. Ander sal dalk tot hulle verbasing besef dat hulle nie die groot mislukkings is wat hulle altyd gereken het hulle is nie. Mens moet jouself ook afvra waaraan mense hulle lewens meet as daar min of niks is wat konstant gebly het oor die laaste dekade of so van hulle lewens nie.

Gelukkig vir meeste van ons bestaan die legkaart van ons lewens uit dosyne groot stukke, en honderde kleiner stukkies. Sommige van hierdie stukke is dalk dieselfde na vele jare; sommige is dalk al afgedop en vaal; ander is skitterblink nuwe stukke, gemaak uit die beste tipe materiaal waarin legkaartstukke kom.

So is dit ook met my lewe.

Ek sal nietemin erken, geoordeel aan my situasie by die plek waar ek al werk vanaf my eerste week in Taiwan, dat sommige aspekte van my lewe in hierdie land wel agteruit gegaan het.

En as dit so is? Dalk as ek ’n bietjie terugstaan vir ’n oomblik, sal ek kan sien dat dit maar net is hoe die lewe soms is.

______________________