Solank dit werk, maak dit nie saak as iemand dit mumbo-jumbo noem nie

VRYDAG 15 FEBRUARIE 2019

15:55

Ek het die laaste paar jare intens bewus geraak van die verskil wat hoe ’n mens dink oor jouself maak in jou lewe, selfs hoe jy praat – met jouself, en óór jouself.

Niemand kan stellings maak oor watse tipe uitdagings ander mense die hoof kan bied nie. Daar sal altyd mense wees wie se toestand van so ’n aard is dat “positiewe denke” dalk nie veel van ’n verskil gaan maak nie. Is dit egter voldoende rede om die uitsonderlike vermoë wat mense wel het om ’n verskil te maak in hulle lewens te onderskat? Spesifieke mense het spesifieke probleme, maar om goeie advies wat ’n astronomiese verskil kan maak aan talle mense se lewens, af te maak as onbeduidend omdat dit (in jou opinie) nie ’n verskil sal maak aan ’n spesifieke persoon se lewe nie, doen in my opinie niemand ’n guns nie.

Ek sal eerder iemand wil aanmoedig om iets te probeer, as om vir hulle ’n verskoning te gee om dit nie te probeer nie. Dalk werk iets nie. Dan probeer jy iets anders – en jy hoef ook nie verleë te voel omdat iets nie werk vir jou nie.

Ek reken die hele storie van positiewe sielkunde is meer as net ’n bufferplakker of die strooiman wat sommige mense maak daarvan en dit dan kritiseer. Ek dink nie ek oordryf as ek sê ek reken positiewe sielkunde is in vele mense se gevalle die verskil tussen lewe en dood nie, of die verskil tussen ’n miserabele lewe en ’n uitsonderlike een.

Natuurlik maak dit saak hoé jy hierdie tipe mening of advies deel met mense.

* * *

Ek kan nie sê dat ek een of ander Damaskus-pad ervaring gehad het en nou weet wat die waarheid is en alles verloop nou glad en gelukkig nie. Dit is eerder ’n geval van kyk na wat werk vir my, en kyk na wat werk vir ander mense. En as die resultate positief blyk te wees, gooi ek meer daarvan in die pot en brou voort. Dis sekerlik wat meeste mense doen, dan nie? En vir die rekord, ek gooi selfs bufferplakkers en plakkate in die pot, en as die borrelende brousel nie ontplof nie, skryf ek dit by die resep in.

* * *

Die idee is nie om oornag jou gesondheid te herstel, of die gebruik van jou ledemate te herwin nie (so goed soos dit sou wees). Die idee is om die beste te doen wat jy kan met die situasie waarin jy is, of met die kondisie waaronder jy gebuk gaan. Om aan jouself te dink as ’n slagoffer, gaan ’n dramatiese ander resultaat teweegbring as om aan jouself te dink as ’n magtige agent van vermoë en persoonlike transformasie.

Mense argumenteer graag oor die akkuraatheid van woorde of frases (“Beteken X regtig Y?”), wanneer hulle eerder moet fokus op die praktiese waarde van ’n benadering of uitkyk. “Hoe waardevol sal dit vir my wees op ’n daaglikse basis?” is die vraag wat jy jouself eerder moet vra.

19:55

’n Mens behoort glad nie betrokke te raak in ’n argument oor die eenvoudigheid al dan nie van positiewe sielkunde as faktor in ’n mens se lewe nie. Dit is ’n bietjie soos iemand wat sê groente is gesond vir jou, met iemand anders wat dan reageer met, “Maar nie alle groente is pers nie.” Om te reageer met, “Maar ek het nie gesê alle groente is pers nie; ek het slegs gesê groente is gesond vir jou,” sal ’n mors van tyd wees. Dit sal wees om weg te beweeg van die werklike punt, in die geval van positiewe sielkunde, die waarde van positiewe self-persepsie, en ’n aanvaarding van die astronomiese vermoëns wat (meeste) mense het om hul eie welstand te beïnvloed.

Die hele argument van die eenvoudigheid al dan nie van ’n faktor is in elk geval absurd – nie omdat dit absurd is dat X eenvoudig kan wees nie, maar oor die betekenis van die woorde. Wat beteken dit immers om te sê, “Dis nie so eenvoudig nie”? In die eerste plek, wat bedoel Persoon A met eenvoudig, en wat bedoel Persoon B daarmee? Tweedens, hoe seker is Persoon A hy is nie net besig om ’n strooiman te maak van Persoon B se argument, en dan die strooiman aan te val nie?

Woensdag 17 April 2019

Ek sal eerder die waarde van positiewe denke oorskat, as om dit te onderskat omdat ek myself definieer of identifiseer aan ander as iemand wat nie tyd het vir “New Age mumbo jumbo” nie, en myself in die proses te beroof van die potensieel enorme effek wat positiewe denke kan hê op my gedrag, op my ervaring van die werklikheid, en op die resultate wat ek produseer elke dag.

Donderdag 18 April 2019

’n Leser van die boek, Learned Optimism: How to Change Your Mind and Your Life deur Martin E.P. Seligman, maak die volgende opmerking in hul resensie oor die boek op Amazon.com:

“‘Learned optimism’ is based on the idea of ‘learned helplessness,’ or the theory that if a person believes that he/she has no control over the bad things that happen to him/her – that bad things just occur randomly and for no reason – then the person gives up trying to find ways to make his/her life better and as a result he/she becomes depressed. ‘Learned optimism’ is designed to teach a person with ‘learned helplessness’ that while he/she might not have control over life’s events, what he/she does have control of is his/her own thinking about those events.”

______________________

Vrymoedigheid om te sê wat ek wil sê

SATERDAG 19 JANUARIE 2019

Wanneer mense iets kritiseer waarvan hulle inderdaad min weet – of iets wat hulle nog nooit krities oorweeg of ondersoek het nie, is hulle soos buikspreker-poppe. Hulle monde beweeg, maar dis nie regtig hulle wat praat nie. Hulle speel eenvoudig ander mense se opinies terug wat hulle “opgeneem” het en op daai oomblik as gesaghebbend beskou het.

DINSDAG 12 FEBRUARIE 2019

’n Reeks stellings gemaak deur ’n student in ’n dokumentêre program oor Evergreen University, kom neer op die volgende:

1. Daar is ’n probleem in die samelewing.

2. Ons verwag dat daar mense sal wees wat sal sê die probleem is nie so ernstig soos ons sê dit is nie.

3. As jy beweer die probleem is nie so ernstig soos ons sê dit is nie, is jy deel van die probleem.

4. Die probleem, en almal wat dit nie aktief teenstaan nie, moet beveg word met alle mag en krag.

Skaakmat?

1. Jy’s skuldig aan Oortreding X.

2. Ons verwag dat jy sal sê jy is nie skuldig nie.

3. Jou pogings om jou skuld te ontken, bewys dat ons reg is oor jou.

4. Skuldige mense moet gestraf word.

WOENSDAG 13 FEBRUARIE 2019

Ek was vir baie lank versigtig oor wat ek geskryf het. Dit was my gewoonte om te antisipeer hoe mense sal reageer oor iets wat geskryf het, om te antisipeer watse teenargument hulle sal maak. Ek sou dan gewoonlik myself in die rede geval het om eers so ’n teenargument te stuit.

Ek sou ook as’t ware sensuur op myself toegepas het. As ek gedink het aan iets wat ek wou neersit op papier, sou ek ook dink aan etikette wat mense dalk aan my sou heg vanweë die stelling of opinie. As ek nie gehou het van die etiket nie, of ek het nie gedink ek kon ’n effektiewe verdediging loods nie – al sou die etikettering vals wees, sou ek eerder nie skryf wat ek wou skryf nie, of ek sou nie publiseer wat ek reeds geskryf het nie.

Die laaste twee jaar of so het ek egter bewus geraak van die feit dat mense op ’n amper daaglikse basis vernietig word op sosiale media vir dinge wat hulle dalk jare gelede gesê of geskryf het, en wat nou in stryd is met die aanvaarde doktrines van die dag. Selfs al het jy nie iets bedoel soos hulle beweer nie, of al jy het intussen tot ander insigte gekom, of al wil jy argumenteer dat daai een opinie of stelling nie verteenwoordigend is van jou totale persoon nie, of dat dit in die konteks gesien moet word van ’n breër bespreking of reeks stellings, besef jy gou genoeg jy mors jou tyd. Om jouself te verdedig is heel futiel – die gepeupel het jou reeds skuldig bevind.

Dit het my laat dink dat mens maar net moet sê wat jy wil sê, en basta met wat mense dink. As jy dan in die openbaar gekasty word, het jy ten minste jou eerlike opinie gegee. Is dit nie beter as om in vrees en bewing te leef vir ’n gepeupel wat daagliks meer onverdraagsaam word nie?

______________________