Betyds, maar ek kon nie bewys wie ek was nie

MAANDAG 10 APRIL 2017

Ek droom gisteraand dat ek deur “immigrasiebeheer” moet gaan, maar ek kry nie my “paspoort” nie. Ek gee vir die amptenaar ’n dokument, maar dit blyk slegs ’n groen Suid-Afrikaanse “ID-boekie” te wees, en dit is nie eens my eie nie. Ek raak effens opgewerk, want ek was seker daarvan ek het geweet waar my “paspoort” is. Na herhaaldelike gekrap in my “sak” vind ek dit toe wel.

Ek het nou al vir jare drome dat ek inpak om lughawe toe te gaan, of na ’n treinstasie, maar ek het eenvoudig te veel bagasie. Of, ek mors tyd met onbenullighede en ek kry nie klaar gepak nie. Keer na keer in elke een van hierdie drome, mis ek die trein of vlug.

Duidelik is hierdie nuutste droom deel van die reis-tema, maar ten minste het ek dit hierdie keer gemaak tot by die lughawe. Ek kon net nie bewys het wie ek was nie – by wyse van spreke.

Blykbaar bewys van jou identiteit

______________________

Tyd stap aan, en voorbladnuus vervaag

SONDAG 9 APRIL 2017

Vyftig jaar van nou af sal slegs sommige Geskiedenisonderwysers, historici en mense wat werklik belangstel daarin vir langer as sestig sekondes kan praat oor die Tweede Wêreldoorlog. Vir meeste ander mense sal dit eenvoudig te lank gelede gewees het, en daar sou te veel dinge gebeur het in hierdie eeu wat hulle koppe vol sal maak.

Ek meen, hoeveel mense vandag kan vir langer as dertig sekondes intelligent gesels oor die Eerste Wêreldoorlog? Hoeveel mense tydens die Eerste Wêreldoorlog kon intelligent en vir soveel as een minuut gesels oor die Napoleontiese oorloë? En onthou: die gebeure van die eerste twee dekades van die 1800’s was voorbladnuus in ten minste groot stede in die tyd toe dit plaasgevind het, en warm onderwerpe van gesprek rondom etenstafels en in die strate!

Dieselfde vraag kan gevra word oor die Franse Rewolusie aan die einde van die agtiende eeu, of die Protestantse Rewolusie en die godsdiensoorloë van die sestiende eeu. Hoeveel mense kon honderd jaar na hierdie gebeure nog intelligent hierdie gebeure bespreek?

Feit is, tyd stap aan. Ou geskiedenis moet plek maak vir nuwe geskiedenis. Veterane van die grootste oorlog vir ’n geslag of meer sterf een vir een tot daar niemand oor is wat nog daai oorlog eerstehands ervaar het nie. En mense se belangstellings verander.

Geskiedenis waaroor jy slegs vandag onkundig sal wees omdat jy onopgevoed is of in ’n grot woon, sal in vele gevalle oor ’n paar dekades so obskuur wees dat mense jou snaaks sal aankyk as jy wél vir langer as een minuut ’n gesprek kan voer daaroor – of, afhangende van die onderwerp en die dekade, ’n monoloog.

______________________

Huiskatte is nie noodwendig waansinnig nie

VRYDAG 7 APRIL 2017

Enige skerp waarnemer van ’n huiskat se daaglikse bestaan sal die indruk kry dat die dier in ’n waan leef. Hy dink duidelik hy’s die baas van die huis, en dat alle beddens, die rusbank, die tapyt in die sitkamer en die kombuistoonbank alles sy persoonlike eiendom is. Hy reken verder dit is heeltemal aanvaarbaar vir hom om drie-uur in die oggend ’n bloeddorstige gegil die lugweë in te stuur omdat hy verveeld is en nie ’n enkele een van sy persoonlike slawe die ordentlikheid het om sy toutjie oor die vloer te kom trek nie.

Mense, aan die ander kant, het hierdie aardige siening dat dit goed is om ’n eerlike beskouing van die werklikheid te hê. Ons glo ons moet ons tekortkominge erken. Ons glo ons moet erken as ons nie dink iets is redelik of moontlik nie. Omdat dit ons beskouing is, tree ons dan ook daarvolgens op. Ons waag nie sekere dinge nie. Ons ken ons plek. Ons hou nie daarvan om uit ons beurt te praat nie.

As huiskatte meer soos baie mense was, was hulle beslis in die moeilikheid. Hulle sou moes erken hulle is uiters weerlose diere wat tussen een-kwart en een-vyf-en-twintigste die grootte is van meeste diere om hulle – naamlik mense, en ander diere soos honde. Hierdie eerliker beskouing van hul werklikheid sou lei daartoe dat katte aansienlik kleiner ego’s sou hê, stil sou sit in ’n hoekie sodat iemand nie dalk met hulle raas nie, en geduldig sou wag totdat iemand so genadig is om vir hulle ’n bietjie kos uit te sit.

Katte sien beslis nie realiteit soos wat dit werklik is nie – hulle sien dit soos dit hulle pas, en tree daarvolgens op.

As enige mens dit durf waag om hulle bewus te maak van hulle waan, sal die kat eers verveeld gaap, en as hy dink jy kry steeds nie die punt nie, sal hy verplig voel om jou nuwe lakens aan’t flarde te gaan krap. Jy kan jouself net verbeel hoe die gedagte vorm aanneem in die kat se kop: “Eerlike beskouing van realiteit? Is jy van jou trollie af? Wat dink jy is ek – ’n mens?”

Die wetenskaplike, Donald Hoffman, sê ewolusie begunstig nie mense met ’n goeie begrip van objektiewe werklikheid nie, maar eerder diegene wat die werklikheid waarneem op ’n manier wat hulle in staat stel om op effektiewe wyse te oorleef.

Duidelik werk dit baie goed vir ten minste óns huiskatte.

Een van ons huisdiere op sy persoonlike rusbank

______________________