Die Bisantynse Ryk as metafoor vir die lewe

MAANDAG 28 MAART 2016

Die Bisantynse Ryk is ’n goeie metafoor vir die menslike lewe: krag in jou jeug, hoogmoed as gevolg daarvan, verlies van mag en aansien met die verloop van tyd, verraad deur mense wat jy vertrou het, laaste desperate pogings om jou nalatenskap te red en iets te doen wat die moeite werd is om te onthou, en dan, die onvermydelike einde.

Lees meer oor die Bisantynse Ryk: https://en.wikipedia.org/wiki/Byzantine_Empire

Justinianus I van Bisantium, omstreeks 482-565

______________________

Om te werk aan jou eie uitlatings vir dekades lank

SATERDAG 26 MAART 2016

Ek werk steeds aan die redigering en vertaling van materiaal wat ek jare gelede geskryf het – in sommige gevalle soveel as twintig jaar gelede. Van die materiaal het nog nooit die buitekant van ’n notaboek gesien tot nou toe nie; in ander gevalle is die stukke reeds gepubliseer in Afrikaans, maar met die vertaling word dit ook weereens, vir die hoeveelste keer, hersien.

Dit was dus ’n aangename verrassing toe ek vanmiddag lees van die Amerikaanse digter, Walt Whitman. Die eerste uitgawe van sy versameling poësie, Leaves of Grass, is gepubliseer in 1855, maar hy het vir die volgende paar dekades voortgegaan om die materiaal te hersien en dele oor te skryf.

Toe, in Januarie 1892, twee maande voor sy dood, plaas hy ’n kennisgewing in die New York Herald: “Walt Whitman wishes respectfully to notify the public that the book Leaves of Grass, which he has been working on at great intervals and partially issued for the past thirty-five or forty years, is now completed, so to call it, and he would like this new 1892 edition to absolutely supersede all previous ones. Faulty as it is, he decides it as by far his special and entire self-chosen poetic utterance.”

Volg hierdie skakels vir meer inligting oor Walt Whitman en sy digkuns:

https://en.wikipedia.org/wiki/Walt_Whitman

https://en.wikipedia.org/wiki/Leaves_of_Grass

Walt Whitman, 1887

______________________

Probeer harder om meer te doen met minder

VRYDAG 18 MAART 2016

Dink aan ’n spesifieke probleem, en spesifieke hulpbronne tot jou beskikking. Een voorbeeld: jy sluit jouself uit jou huis uit. Jy kyk om jou rond en al wat jy sien, is ’n stuk draad, ’n besem, ’n geroeste skroewedraaier en ’n baksteen. Wat jy regtig nodig het, is jou sleutel, maar jy het nie jou sleutel nie. Wat doen jy? Jy vat daai stuk draad, die besem, die skroewedraaier en die baksteen, en jy doen jou bes.

So ook is dit met geldmaak.

Een van die wonderlike dinge van die Internet-era is dat daar soveel maniere is om vir jouself ’n inkomste te bewerkstellig. En daarin lê ook die probleem. Dit is die maklikste ding in die wêreld om jou tas so swaar te laai met dinge wat jy wil doen, dat jy dit skaars by die treinvenster kan indruk om te vertrek op jou reis na Finansiële Welstand. Soos die minute verbytik voor die trein vertrek, weet jy dat jy van die goed in die tas moet uitpak en langs die spoor moet los. Maar so hard as wat jy probeer, jy kan jouself nie sover kry nie. En uiteindelik vertrek die trein sonder jou.

Ek dink byvoorbeeld aan wat ék sal doen as ek net my Engelse klasse, my skryfwerk en so twee ander kommersiële boekprojekte het om my finansiële doelwitte van ten minste hierdie jaar te bereik. Ek kan nie verseker sê of ek my doelwitte sal bereik nie, maar een ding is seker: Ek sal meer doen, en harder probeer om geld te maak met my skryfwerk en met die ander boekprojekte as wat nou die geval is (ja, selfs met my skryfwerk).

Hoekom doen ek dit dan nie, as ek dan nou sê ek sal dit doen? Want daar is altyd ’n liggie wat aan en af flikker – daar, aan daai kant. “O,” sal ek sê, “dis [enige van verskeie dinge wat ek ook kan doen om meer geld te maak]. Laat ek net gou aandag daaraan gee.”

DINSDAG 5 APRIL 2016

Gatkant van ’n gedagtestroom: Ek glo die ou wat sit met ’n boord vol lemoene en niks anders nie, sal uiteindelik uitwerk het hoe om geld te maak met daai lemoene – vars lemoensap, gevriesde lemoensap, lemoenskille, sakke vol lemoene, gedroogde lemoene, lemoenkoek …

Sal hy beter doen as die ou wat ook begin met ’n klomp lemoenbome in sy agterplaas, wat na ’n tyd dink dis ’n mors van tyd, wat dan ’n paar dosyn skoene koop om dit te verkoop van deur tot deur, en na ’n maand die onverkoopte skoene in sy agterkamer pak, om dan ’n blitskursus te doen in tuindienste en vir hom ’n stel tuingereedskap koop om daarmee te probeer geld maak, wetende dat daar ander mense is in die buurt wat ook tuindienste aanbied, en beter is met bemarking as hy?

Ek glo die waarskynlikheid is beter dat die ou wat bly by die lemoenbome, uiteindelik vir homself ’n stabiele bron van inkomste sal opbou.

______________________

Net om te weet hoe om iets te doen, is nie genoeg nie

VRYDAG 18 MAART 2016

Ek het tussen 2006 en redelik onlangs onder die wanindruk verkeer dat mens enige iets kan doen as jy net weet hóé. Jy kan ’n webwerf ontwerp – as jy net weet hóé. Jy kan ’n roman skryf – as jy net weet hóé. Jy kan geld maak op enige van dosyne maniere – as jy net die regte PDF in die hande kan kry wat aan jou sal verduidelik wat jy moet doen. Jy kan jou eie besigheid van die huis af bestuur – as jy net die regte stel DVD’s in die hande kan kry wat die proses vir jou sal uitlê. En so kan ek aangaan.

Nodeloos om te sê het ek met kenmerkende passie inligting versamel in verskeie formate en van enige leermeester wat hand op die bors belowe om al die geheime te verklap wat slegs bekend is aan die binnesirkel.

Tien jaar later weet ek meer as ooit. Ek weet deesdae nie net van die ontdekkingsreise van die vyftiende eeu of van die Bisantynse Ryk of die Eerste of Tweede Wêreldoorlog nie, ek weet ook hoe om ’n webwerf tot stand te bring in minder as dertig minute, vanaf idee tot iemand in Paraguay of Zimbabwe kan toegang kry daartoe en lees wat ek daarop gepubliseer het (as ek so vinnig iets kan skryf). Ek weet hoe om geld te maak deur vir ander mense goed te doen. Ek weet hoe om geld te maak deur die waarskynlikheid dat ’n bepaalde perd ’n bepaalde resies sal wen te koop en te verkoop nog voor die resies eens begin het. En, eerlikwaar, ’n klomp ander goed.

Maar – ek het ook geleer, tot my groot konsternasie, dat net om te wéét hoe om iets te doen, nie genoeg is nie.

______________________

Arm skrywer of ryk entrepreneur

WOENSDAG 16 MAART 2016

’n Gedagte het gisteraand gehop van een ding tot ’n volgende, en toe ek my weer kon kry, vra ek myself: Wat sal ek eerder wil wees, ’n arm skrywer of ’n ryk entrepreneur? Die idee was argumentsonthalwe dat ek as ryk entrepreneur geen kreatiewe werk sal doen nie.

Dit was ’n moeilike vraag.

Tien blokke later (ek was op my fiets) was ek tevrede met my voorlopige antwoord: Dit is moeilik om te sê, het ek gereken, want hoe arm sal ek wees, en wat sal ek skryf?

Die implikasie was dat ek steeds bereid is om ’n eenvoudige bestaan te voer ter wille daarvan om produktiewe tyd te kan spandeer aan skryfwerk, maar ek is nie bereid om swaar te kry ter wille van een opstel elke week of twee oor die weer in Kaohsiung of iets anders onbenulligs nie.

Die vraag is ook hoe eenvoudig die bestaan sal wees. Ek wil nie in die park slaap nie, al moet ek dan ’n paar goeie, geïnspireerde stukke prysgee in die proses. (Hoeveel sal ek in elk geval produseer voordat ’n hawelose digter my notaboek en my pen steel?) Feit is ook dat ek nie alleen is nie. Verwag ek dat my lewensmaat saam met my moet suffer? Of sal ek beweer dat ek bereid is om te suffer, wetende dat dit nie nodig sal wees nie want my lewensmaat sal jammer voel vir my en haar kos met my deel?

* * *

Die gedagte het gekom toe ek gedink het aan dinge wat ek oor die volgende paar dae moet doen vir een van my bronne van inkomste – ’n vryskutdiens wat ek lewer aan ’n paar kliënte. Ek het gedink hoe ek bereid is om te doen wat nodig is om die besigheid aan die gang te hou, solank ek nie op ’n straathoek hoef te gaan staan om enige iets te verkoop nie.

Ek het ook gedink aan iets anders wat ek ’n tyd gelede geskryf het – dat ek enige ambisies om my eie besigheid te begin of te bestuur genadeloos moet vergruis. Hoekom? Ek was van opinie dat ek nie myself 100% daaraan sal kan toewy nie.

Natuurlik is daar ander mense wat beskou word as suksesvolle besigheidsmense of entrepreneurs wat sukkel met dieselfde dinge as ek. Hoekom is húlle dan suksesvol? Hoekom kom hulle weg daarmee en ek nie? Ek reken die antwoord is nie te ingewikkeld nie: hulle neem mense in diens, of werk andersins saam met mense wat die dinge doen wat hulle nie kán of wil doen nie.

Dit is dus nie ’n geval dat ek nie in staat is om ’n suksesvolle entrepreneur te wees nie; ek werk net nie saam met die regte mense nie … of eerder, ek probeer steeds om alles self doen.

* * *

Ek wonder gereeld wat ek sal kan uitrig as ek voltyds moet skryf eerder as om ’n halfdosyn inkomstebronne aan die gang te probeer hou. Dis natuurlik ’n ope vraag. Dalk sal al die oefening in woordkuns lei tot ’n paar kortverhale of artikels wat deur meer as tien mense gelees sal word, en – wie weet? – ek mag dalk genoeg geld maak om ’n nuwe fiets te kan koop. Of dalk sal ek na ’n jaar of twee met honger oë opnuut kyk na dinge wat ek voorheen beskou het as benede my.

Daar is immers niks soos hongerte en vernedering om ’n mens te laat vergeet van boheemse drome nie.

______________________