Die laaste dag van die jaar is soos die laaste wakker uur van ’n dag: Sommige mense ly aan ligte skok en teleurstelling dat dit verby is, dat dit wat jy nie vandag gedoen kon kry nie, moet wag vir môre.
Oor ’n paar ure is 2011 verby.
Hierdie was ’n goeie jaar, ’n besonderse jaar. My en Natasja se verhouding was van die begin af van so ’n aard dat ons nie ’n dokument nodig gehad het om te weet ons hoort bymekaar nie. Nietemin, verlede maand het ons na amper sewe jaar amptelik en wettiglik trou aan mekaar gesweer. Op die werksfront het ek hoofsaaklik op twee kommersiële projekte gefokus. In Februarie het ek ook begin om weer die beste ure van my dag te spandeer aan my skryfprojekte – iets wat ’n so te sê daaglikse realiteit geword het. En laastens, ek het heelwat tyd gespandeer die afgelope twaalf maande by ’n tandarts genaamd Harmony, met die gelukkige resultaat dat ek uiteindelik weer behoorlik kan eet.
Vanuit die posisie waarin ek myself op hierdie oomblik bevind, as gevolg van wat ek gedoen het tussen Saterdag 1 Januarie en nou, Saterdag 31 Desember, lyk 2012 asof dit dalk net ook ’n goeie jaar mag wees.
’n Nota van Dinsdag 4 Januarie 2011 mag dalk gepas wees: “’n Jaar in ’n mens se lewe is soos ’n kind. Jy kan beplan, jy kan voorberei, en jy kan hoë verwagtinge koester. Maar uiteindelik moet die kind toegelaat word om sy eie gang te gaan, om sy eie karakter te ontwikkel. Jy kan, en moet, leiding gee, maar aan die einde sal jy moet vrede maak: Doen jou absolute bes, en vertrou vir die res.”
Mag 2012 ’n goeie jaar wees, vir myself, vir my beminde, en vir al ons vriende en familie. En mag dit ’n goeie jaar wees vir alle goeie mense op hierdie planeet wat elke dag hoop en stry vir ’n beter dag.
____________________