DONDERDAG 21 JANUARIE 2010
Ek sien vanoggend ’n groot houttafel op ’n sypaadjie, die blad vertikaal, bene stokstyf vorentoe, soos ’n bees wat langs die pad gesneuwel het.
Wat ’n vermorsing, dink ek.
Vroeër verby ’n Cadillac gery, ook langs die pad – vol stof, ’n paar krapmerke, wiele effens pap, “For sale!”-bord in die voorruit, soos al die ander verlate karre op daai stuk pad.
Wat ’n vermorsing, het ek ook gedink.
Vanoggend op pad na my woonstel toe, dink ek: Ek het soveel geleer die afgelope paar jaar. Ek is goed met navorsing, leidrade opvolg, inligting versamel, inligting sorteer, opinies opweeg, standpunte formuleer – maar as dit kom by toepassing, kan ek nie lank genoeg by een ding vassteek om ’n sukses daarvan te maak nie.
So, ek kan ook met hierdie saak nie anders nie as om te dink, wat ’n verdomde vermorsing.
DINSDAG 26 JANUARIE 2010
Wie is hierdie 20-voet boelie voor wie ek neerbuig, in wie se aangesig ek my liggaam in die stof neerlê, op my maag, arms eerbiedig na vore gestrek? Sê vir my die naam van die monster wie se kneg ek is, en heel waarskynlik sal bly my hele lewe lank. Sê vir my in wie se naam ek ly. In wie se naam dra ek dieselfde klere as vyf jaar gelede? In wie se naam bedel ek geld, leen ek geld, en bekommer ek my oor geld? Sê vir my – wat is die naam van hierdie gedrog?
DONDERDAG 28 JANUARIE 2010
Hoekom het ek sedert Mei 2006 nie harder probeer om meer teaching jobs te kry om meer geld te maak nie? Hoekom het ek nie harder probeer om saam met ander mense te werk nie?
Die antwoord op beide vrae herinner aan die ou gesegde: “Wees versigtig waarvoor jy wens.”
Dit bevestig ook wat ek gelees het wat iemand gesê het oor die onderbewuste, dat dit soos ’n kragtige towergees is, maar terselfdertyd soos ’n 3-jarige kind.
Een van my oudste begeertes was om uitgelos te word, om alleen te wees, om eenkant op my eie te kan staan en die wêreld te kan aanskou van ’n afstand af.
Dit wil dus blyk asof die vervulling van ’n begeerte die vervulling van ’n droom belemmer het.
______________________