[Omdat nie almal bekend is met die verwysings nie, die volgende: 1) Een van die eerste maniere van geldmaak op die Internet waaraan mens blootgestel word wanneer jy begin ondersoek instel na hierdie dinge, is sogenaamde “affiliate marketing” waar jy mense oortuig om sekere produkte te koop. Hoe maak jy geld daarmee? Jy voorsien aan mense ʼn skakel om op te kliek (“Click here for more information!”); ʼn stukkie kode word op die persoon se rekenaar geplant; wanneer die persoon betaal vir die produk, tel die maatskappy wat die betaling behartig op dat die transaksie ʼn sekere roete gevolg het; jy kry krediet vir die transaksie; ʼn paar weke later word jy ʼn kommissie betaal vir jou moeite. Een van die maniere hoe jy mense kry om op jou spesiale skakel te kliek, is deur die skakel te plaas in ʼn artikel wat handel oor ʼn sekere probleem of belangstelling wat die persoon het, of aan die einde van ʼn produk resensie. 2) Squidoo.com was ’n webwerf waar enige iemand ’n blad kon begin oor enige onderwerp waarin hulle geïnteresseerd was. Die blaaie was “lense” genoem. 3) “Private label” verwys na teks of enige ander digitale inhoud of media wat mense produseer en dan verkoop aan ander mense met ’n lisensie om dit te kan verander soos hulle wil en te publiseer onder hul eie name. 4) “Pay-per-click” is klein teksadvertensies wat verskyn langs of bo Google se soekresultate (en op die resultate van sommige ander soekenjins) en op sommige webblaaie; adverteerders betaal vir die advertensies volgens die hoeveelheid kere wat mense daarop kliek of die hoeveelheid kere wat dit verskyn. 5) “PDF” is ’n elektroniese dokument formaat. 6) “Article directories” is werwe met duisende artikels oor honderde onderwerpe. In 2008, toe hierdie teks geskryf is, was “article directories” gewilde plekke waar jy inhoud kon kry vir jou webwerf met die enigste voorwaardes dat die artikel onveranderd moes bly en jy die skrywer se naam en persoonlike skakel moes insluit wanneer jy dit op jou eie werf publiseer. Dit was derhalwe ook ’n goeie manier om blootstelling te kry vir jouself en vir jou eie webwerf.]
DONDERDAG 3 APRIL 2008
10:41
Ek het geen aptyt om te soek na ’n rede hoekom ek nog nie miljoene dollars kontant op my woonstelvloer kan uitpak om na te staar nie.
’n Vraag kom nietemin by my op: Hoeveel van die projekte wat tans op my lys is, vereis dat ek iets moet skryf? Die antwoord: alles behalwe die sport en finansiële markte.
Die volgende vraag: Hoeveel skryfwerk het ek geproduseer die afgelope 26 maande om iets te bemark? Antwoord: Enkele paragrawe hier en daar; ʼn paar produk resensies; drie artikels; ’n paar Squidoo lens inleidings; en een PDF met ’n inleiding, tien kort stukkies oor verskillende maniere om geld te maak, en ’n advertensie vir die “private label” weergawe. In kort, nie veel nie.
Enige iemand wat enige iets weet van Internet bemarking sal vir jou sê een noodsaaklike vereiste vir enige een-persoon vertoning om êrens te kom, is unieke materiaal (meestal geskrewe teks). Dosyne produkte word bemark of gratis beskikbaar gestel om mense te help om iets te doen wat vele uiters moeilik vind – daar is sagteware, templates, en inligtingsprodukte wat alles ontwikkel is om mense deur die proses te help om artikels te skryf. Daar is webwerwe waar mense kan gaan soek vir skrywers wat teen ’n paar dollar per artikel vir hulle materiaal kan produseer. Daar is “private label sites” waar mense bundels artikels kan koop wat hulle dan kan verander soos hulle wil en onder hul eie name kan publiseer. Daar is boeke wat poog om mens te leer hoe om ’n voltydse inkomste te verdien deur “private label” materiaal te produseer vir ander mense, want … mense het inhoud nodig vir hulle webblaaie, en hulle het nie altyd die tyd of die vermoë om die inhoud self te skep nie.
Die vervaardiging van teks is inderdaad ’n industrie wat ontstaan het omdat mense geld wil maak op die Internet. Jy leer vinnig: Geen inhoud vir jou webblaaie nie; geen wins nie.
Fantasties, het ek van die begin af gedink. Ek het nie geld om te gooi in enige projek se rigting nie, maar ek kan skryf. Dit gaan maklik wees! En ek kan oor enige iets skryf. Ek kan lees wat ander mense geskryf het, en dan my eie spin daarop sit. Ek kan dosyne PDF’s deurgaan en dan artikels skryf waarbinne ek my kommersiële skakels kan plak, en – dan wag ek net vir daai eerste vet kommissie tjek!
Ses-en-twintig maande later. As ek alles moes vat wat ek sover geskryf het om iets te bemark, dit saam moes snoer in ’n dokument en dit ’n boek moes noem, sou ek my klere geskeur het en op my tande gekners het (nie te hard nie, want my een tand het reeds ’n kraak in). Die drie artikels wat ek verlede jaar aan “article directories” voorgelê het, was heel oukei. Dit kan ek nog onder my regte naam publiseer. Een vrou het selfs ’n opmerking gelaat waarin sy gesê het, “That was exactly what I needed to hear today!”
Jy kan meeste mense soms om die bos lei, maar jy moet nooit probeer om jouself om die bos te lei nie. Ek probeer artikels skryf oor “horse racing betting systems” en “affiliate marketing”, en in die pyplyn is onderwerpe soos “dog training”, “tattoos”, en “muscle building”. Imagine dit. G’n wonder die ware skrywer is op ’n go-slow nie.
Die goeie nuus is, daar is maniere van geldmaak op die Internet waar jy nie nodig het om enige iets te skryf nie, soos Betfair ruilhandel, sportweddenskappe en handel op die finansiële markte.
Beteken dit alle geleenthede waarmee ek geld kon maak wat geskrewe teks benodig, is vir altyd verlore omdat die ware skrywer binne my dit sielkundig ondraaglik vind om te skryf oor enige iets wat nie ʼn saak van lewe of dood is nie?
Gelukkig nie. Daar is immers “private label content” – en die skrywer het nie ’n probleem met redigering en oorskryf nie, gratis artikels wat mens kan publiseer op jou eie werwe, materiaal waarop kopiereg verval het, en die moontlikheid om alle essensiële teks uit te kontrakteer. Die probleem is dus, in werklikheid, glad nie ’n probleem nie, solank ek nie van myself verwag om enige iets meer te doen as die redigering of oorskryf van teks wat reeds bestaan nie.
Snaaks dat ek gedink het die groot probleem was dat ek nie ʼn bemarker wou wees nie …
Dit wil dus blyk dat ek inderdaad nie ’n eksistensiële probleem daarmee het om bemarking te doen nie, en dit is nog minder van ’n probleem as ek dit kan doen onder een of ander skuilnaam, of selfs beter, anoniem. Internet bemarking is immers nie dieselfde as om worsrolletjies buite ’n rugby-stadion te verkoop, of “Wen ’n Ford!” kaartjies te probeer afsmeer aan mense wat vreedsaam by ’n inkopiesentrum indrentel nie.
* * *
“Breek die dooiepunt, of bly platsak,” skryf ek anderdag op ’n stuk papier teen die kombuismuur. In my notaboek skryf ek op Dinsdag 25 Maart 2008: “As ook dit te veel is vir my sensitiewe karakter wat nooit wil kompromitteer nie, is ek amper lus om te sê, ‘Dis dit! Ek stap nou weg van wat ek geword het, want dit is nou duidelik dat ek gedoem is tot ’n leeftyd van ander mense leer Engels praat! Ek gaan vir my ’n nuwe liggaam soek om myself in tuis te maak!’” Op die kop elfuur dieselfde aand skryf ek: “Die nuwe idee [iets waaroor ek opgewonde was vir ’n paar weke] het twee opmerkings wat in potlood daaroor geskryf staan: ‘kritiese sukses’ en ‘tipiese mislukking’. Die vraag is: Watter een gaan met pen geskryf word?”
Wat sê dit alles? My notas oor die proses van geld probeer maak op die Internet is hier en daar bruikbaar vanuit ’n literêre perspektief. Enige iets meer as dit – of minder literêr as dit, moet eenvoudig uit ʼn ander bron kom.
17:31
Ek kyk na die notas van die afgelope 26 maande, en ek sê aan myself: Kyk daarna nie as ’n verhaal van ontwikkelende sukses of ʼn reeks mislukkings nie, kyk daarna met een vraag op jou lippe: Het die sekretaris sy plig gedoen en getrou notas gemaak oor hierdie nuutste periode in die lewe van die mens, “Brand Smit”?
______________________