WOENSDAG 12 OKTOBER 2005
10:29
Ek kyk myself in die spreekwoordelike oë, en ek sien: myself, my lewe, my omgewing, alles herkenbaar van ’n jaar gelede, en twee jaar gelede …
Dan verskyn sy: ’n storie so mooi nie eens kinders sal dit glo nie.
15:50
Ek word gekonfronteer met [N.] se Stellenbosch ervarings, en na aanleiding van kriptiese beskrywings word ek weer die slagoffer van ’n bitter onaangename sensasie: teleurstelling, selfs ’n sin van mislukking.
Hoekom?!
Daai vuil aartsvyand, die groot sondebok, is weereens verantwoordelik! Veronderstellings!
Feit is, om universiteit toe te gaan, en om Stellenbosch toe te gaan, was nie oorspronklike aksies van my kant af nie. “Universiteit” was nie ’n konsep wat ek uitgedink het een middag in 1987 nie. “Stellenbosch” was nie ’n fiktiewe dorp waarmee ek een aand in 1989 vorendag gekom het terwyl ek in die bad gelê en week het nie. Albei konsepte het bestaan, vol kleurvolle beelde en implikasies lank voor ek, Brand Smit, begin dink het daaraan om op Stellenbosch te gaan studeer. En van die oomblik wat ek daaraan begin dink het – teen ’88 of ’89, het veronderstellings in my kop vorm aangeneem oor hoe dit sal wees.
Ek het myself gesien met ’n boeksak oor die skouer, stappend saam met vriende van die kafeteria na een of ander klas toe. Ek het myself gesien in ’n sogenaamde studentehuis. Ek het myself gesien met ’n mooi meisie, en ons wat hande vashou terwyl ons na klas langs die Eersterivier gaan stap, of waar ons onder eikebome op ’n bankie sit en gesels. Ek het myself gesien op ’n fiets – my eie fiets! – of in ’n goedkoop motorkar.
Dit was die beelde, die veronderstellings.
Mý Stellenbosch was aan die einde gevul met kommer en angs en finansiële probleme en eensaamheid en verlange. My eerste kamer was by ’n familie wat totale vreemdelinge was vir my tot enkele dae voor ek ingetrek het. Na ses weke het ek al hoe ongemakliker begin aansit vir aandete, wetende dat my eerste maand se huur nog nie betaal is nie. Na twee en ’n halwe maande kon nie eens die eikeblare my laat vergeet van my agterstallige huur nie. Ek het Kaap toe gegaan onder andere om nader te wees aan ’n jong dame wat ’n jaar tevore my hart laat stilstaan het, en toe weer aan die gang geskok het met die uitlating dat sy van my hou. Ses maande na ek in Stellenbosch aangekom het, het ons ooreengekom dat ons eerder net “vriende” moet wees.
Vriende? Middagetes by die kafeteria? My eie fiets? ’n Motorkar? Ek het teen die einde van my eerste jaar gewoon in ’n buitekamer wat net-net groot genoeg was vir my én die bed. Ek het lensiesop met een aartappel in gekook op ’n stofie wat in die stort gestaan het. Geld om ’n meisie uit te vat op ’n date? Koffie en koek in die dorp? Ha!
So, mý Stellenbosch ervaring was ’n teleurstelling? Kan mens verder gaan en sê dit was ’n mislukking? Net omdat dit anders was as hoe ek veronderstel het dit sou wees? Omdat dit anders was as wat dit móés wees? Watse tipe mens laat toe om soveel jare na die tyd steeds geboelie te word deur veronderstellings?
Ek sê: mý Stellenbosch ervaring was ’n triomfantlike sukses! Ek-nou is gebore uit daai ervaring! Was dit ’n pynvolle geboorte? Ja. Is die volwasse resultaat van daai swangerskap en geboorte ’n mislukking? Wat is die standaard? Wat is die veronderstelling? Eiendom, vaste betrekking, huwelik, kinders, skoolfonds, rekeninge, braaivleis op Saterdagaande saam met ou vriende? Is dit die veronderstellings van sukses as ’n volwassene, steeds? As dit is hoe dit is, is ek inderdaad fokken teleurgesteld!
Wil ek na al hierdie jare sê dat ek, Brand Smit, niks meer sal wil hê as om in ’n tydmasjien te klim en terug te reis tien, vyftien jaar in die verlede in nie? Sal ek wierook brand voor die altaar van die hoofstroom establishment, en mooi gebede resiteer voor die gode van Jan en Sannie Alleman, en mooitjies in my spoor trap om nie perdalks iets te ervaar wat nie strook met Hoe Dinge Behoort Te Wees As Jy Op Stellenbosch Studeer nie?
Is dit die saad van selfverloëning wat al die jare groei in my binneste sedert my Stellenbosch ervaring suid gedraai het? Is ek steeds teleurgesteld dat my studentejare nie gevul was met genoeg geld en ’n nice klein woonstelletjie en handjiesvashou langs die rivier en lag saam met vriende nie? Ek is wat ek is, vandag, omdat my studentejare nie so was nie!
Dis tyd om my vuis te lig, en uit te roep: “Triomf!”
Dis tyd om op ’n dak te klim en uit te skree: “My ervaring was bra kak, dis waar! Maar dank die gode daarvoor, anders was ek nie die mens wat ek vandag is nie!”
Dis tyd om, weereens, te sien dat ek lank reeds die einde van die tonnel bereik het, dat ek gebore is, dat ek geword het, dat ek nou in ’n posisie is om die bron van onnodige teleurstellings uit te wys en te sê, “Daar! Daar’s die skuldige!”
Die lewe is ’n stryd, en solank jy staande bly, wen jy. En ek, Brand Smit, het staande gebly. Ten spyte van my veronderstellings.
______________________