Aangetrokkenheid tot stilte

SONDAG 15 AUGUSTUS 2004

Ek is skielik baie aangetrokke tot stilte, soos om by of in ’n oop stuk veld te sit, en net te luister, en miskien met myself ’n fluistergesprek te voer.

Mens sal moontlik reken dit het te make daarmee om nie te wil verskyn nie, en die instink om jouself te beskerm. Ek glo dat ek toenemend vervreemd raak van mense omdat meeste mense wat ek ontmoet, nie op dieselfde reis is as ek nie – intellektueel gesproke, maar dit kan ook gesien word as ’n spirituele proses.

As ek myself byvoorbeeld bekeer het tot ’n ortodokse weergawe van Judaïsme, sou my verhouding met familielede en sommige ou vriende op ’n soortgelyke vlak van vervreemding gewees het as wat nou die geval is. Maar nou is die oortuigings wat ek vir myself uitgewerk het, my eie geloof, met geen eksterne parafernalia soos kleredrag en spesifieke styl gesighare wat gedeel word met ander in ’n geloofsgemeenskap nie, soos in die geval van byvoorbeeld ortodokse Jode. Ek probeer dus steeds herkenbaar wees (“soos julle my nog altyd geken het”), maar dit raak toenemend moeilik.

———–

[Tot ’n mate neem ek nie my familie kwalik nie. Hulle is lief vir my, en wens moontlik dat ek “meer soos ander mense kon wees” omdat hulle oortuig is van die feit dat ek miserabel is meeste van die tyd. Dit is ook moontlik dat as ek nie so hardkoppig was nie, en nie soveel vreemde oortuigings gehuldig het nie, hulle miskien makliker met my kon vereenselwig.

In terme van baie dinge waaroor ek praat is ek inderdaad ’n vreemdeling vir húlle wat my al ’n leeftyd ken, en omdat hulle nie die proses dag-in-en-dag-uit met my saamleef nie, weet hulle nie aldag waar ek uit die spreekwoordelike bus val nie.]

____________________

Gemeenskap – verligting – maatreëls – identiteit

VRYDAG 13 AUGUSTUS 2004

Gemeenskap, of intellektuele/spirituele verligting

09:07

Terug na die gedagte van gemeenskap, of intellektuele/spirituele verligting. Dis ’n praktiese en waardevolle illustrasie van die proses van identiteitsvorming.

Die persoon wat kies vir Verligting, sê: Ek spandeer baie tyd op my eie; ek konformeer nie onnodiglik aan konvensies nie; ek streef na kennis en begrip.

Iemand wat Gemeenskap kies, sê: Ek spandeer heelwat tyd met familie en vriende; ek is deel van ’n intieme gemeenskap op ’n daaglikse basis.

Ek kan verder gaan en name gee aan hierdie twee opsies (ongelukkig albei mansname): Johannes die Doper vir Verligting, en Jack Campbell vir Gemeenskap (vernoem na die Nicolas Cage karakter in die film, Family Man).

Die vraag is dan: Wie is jy, Johannes die Doper, of Jack Campbell (of die vroulike weergawes van hierdie karakters)?

My eie voorlopige antwoord (hoewel dit effens skrikwekkend klink) is, Jack die Doper – of dan, Johannes “Family Man” Campbell.

10:13

Ek is uit die aard van die saak baie gemaklik met die idee van die Woestynloper, wat homself nie onnodiglik steur aan konvensies nie.

Ek is baie gemaklik daarmee om Johannes die Verligte te wees, vandag, en môre, en volgende week. Maar op die langtermyn is dit ’n ander saak – dan skop sterk visioene van Jack the Family Man in.

Maatreëls en “werklike” identiteit

Ons tref maatreëls om ongerieflikhede soos eensaamheid te verlig, en hierdie maatreëls raak verweef met hoe ons onsself sien, en hoe ons verskyn aan die wêreld. Tot watter mate is “ek-as-resultaat-van-maatreëls” die “ware ek”, en tot watter mate is die maatreëls amper ’n hindernis tot wie jy “werklik” is? Of moet maatreëls eenvoudig aanvaar word as een van die boustene van identiteit op dieselfde wyse as wat ’n mens die erflike inligting in DNS aanvaar as boustene van identiteit? Tog, maatreëls verander maklik met omgewing … wat jou terugbring by die glibberigheid van “werklike” identiteit.

______________________

Drie sake na middagete

DONDERDAG 12 AUGUSTUS 2004

12:32

* werksgeleentheid by my ouers se pottebakkery

* komplekse verduidelikings van jou “situasie” as jy nie net kan sê, “Ek bespreek dit met my lewensmaat nie.”

* Intellektuele Verligting vs. Gemeenskap (Taiwan of Suid-Afrika)

Moet nou eers Spur toe gaan …

Later … ± 16:30

Die posisie by my ouers se pottebakkery is Personal Relations, part-time. My jonger suster noem toe die redes hoekom sy by haar vorige werk (ook op Bronkhorstspruit) bedank het, en hoekom sy derhalwe nou by die bedryf werksaam is. My pa noem toe die idee dat dit inderdaad ’n familiebesigheid moet wees.

Ek meen toe dat dit ’n goeie tyd is om te noem dat dit nie vir my dieselfde sal wees as vir my jonger suster wat net kon bedank, nog steeds in dieselfde huis kon bly, en toe by die besigheid kon inskakel nie. Dat ek my hele lewe in Taiwan stuk-vir-stuk sal moet afbreek, moet inpak, en dit wat verskeep kan word, hiernatoe bring. Ook vriendskappe wat ek in Taiwan het, sal nie meer op dieselfde wyse deel wees van my lewe nie. Nuwe verhoudings sal bewerkstellig moet word op ’n nuwe plek om te kompenseer vir die sosiale gemeenskap wat ek nou het op ’n ander plek.

Ek noem toe ook verder dat in die tien jaar wat dit gevat het om die familiebesigheid op te bou, ek ander maatreëls getref het om in my eie welstand te kan voorsien. Hierdie maatreëls kan nie net oornag laat vaar word omdat daar ’n posisie vakant geraak het in die familiebedryf nie.

’n Paar minute later besef ek die ongenoemde faktor in die hele bespreking is die feit dat ek alleen is. As ek getroud was, het ek bloot gesê, “Hmm … goeie moontlikheid. Ek sal dit met Sannie bespreek.” En dit sou die einde van die gesprek gewees het. Maar Alleenloper Brand het soos gewoonlik die opsie geneem van lang, vervelige verduidelikings, wat “almal in elk geval weet”.

Ek reken toe ook, tydens die smoke break onder die boom kort daarna, dat een van die dinge wat my ongemaklik maak daaroor om Taiwan te verlaat, is die Omgewing en Daaglikse Roetine wat Bevorderlik is vir ’n Proses van Intellektuele Verligting. Reken ek toe, ek kan moontlik enige tyd in Taiwan iemand ontmoet met wie ek meer tyd wil spandeer, en dan is my Daaglikse Roetine ook in sy moer in.

Ek besef toe dat dit ’n kwessie is van Gemeenskap (hier of in Taiwan), óf Intellektuele Verligting (of dan my beskouing van Intellektuele Verligting).

Laastens dring die gedagte homself ook by my op dat my soeke na Intellektuele Nirvana nie volhoubaar is nie. Ek het Gemeenskap nodig. En as ek uiteindelik Gemeenskap moet kies bo Verligting, hoekom dan nie in Suid-Afrika nie?

(Het ek ’n week gelede geweet ek gaan hierdie tipe notas maak sodra die Hoëveldse lug my neusgate tref? Ja, ek het geweet dinge sal noodwendig weer bedink word.)

______________________

PLEK – en hoekom daar?

DINSDAG 10 AUGUSTUS 2004

’n Man (die aantekenaar van hierdie nota om presies te wees) is gebore in Suid-Afrika, en het data verkry van ’n partikulêre Suid-Afrikaanse omgewing wat dit vir hom moontlik gemaak het om uitdrukking te gee aan die bestaan waarvan hy tans bewus is, en waarvan hy al bewus is vir die laaste 397 maande. Vir die afgelope 66 maande is hy woonagtig in Taiwan. Tans bevind hy hom weer in die partikulêre omgewing wat aan hom sy primêre self-uitdrukking instrumente gegee het, tussen die mense met wie hy sy hele lewe lank al ’n intieme emosionele verbintenis het.

Binne die eerste drie dae na sy herverskyning in die Suid-Afrikaanse omgewing is hy weereens gekonfronteer met die konsep van plek; spesifiek waar hy kies om te woon, en waar sy familie sal verkies hy homself moet tuismaak.

Om lig te werp op die konsep – waarmee hy vir die soveelste maal gekonfronteer is – stel hy die volgende vraag: Wat bepaal die plek waar ’n persoon leef?

Die antwoord is vrye wil, of geen vrye wil.

Gestel dus die persoon kan wel ’n keuse maak onder verskeie moontlikhede, watter oorwegings moet in ag geneem word?

1. Wat maak die lewe vir hom die moeite werd?

2. Hoe “sien” hy homself – wie en wat hy is, en wie en wat hy wil wees?

3. Wat doen hy, of wat is hy bereid om te doen, of wat kan hy doen, om in sy eie behoeftes te voorsien, en moontlik in die behoeftes van enkele ander mense vir wie hy verantwoordelik mag wees?

4. Wat doen hy wanneer hy nie besig is om sy behoeftes te bevredig, of besig is om maatreëls te tref om behoeftevervulling moontlik te maak nie?

5. Vrye en kreatiewe uitdrukking aan sy partikulêre werklikheidservaring – moontlik in die plek in oorweging, of nie?

______________________

Notas op lughawens en in die lug

SONDAG 8 AUGUSTUS 2004

Die punt, en die kinkel

00:26

(Kuala Lumpur Internasionale Lughawe, veertig minute of so voor ons weer vertrek)

Die punt is, as wie jy is nie voorbestem is nie, kan jy wees wie jy kies om te wees (Friedrich Nietzsche: “Will a self, and thou shalt become a self”). Die kinkel is wel dat wie jy kies om te wees of wie jy kies om te word, beperk is tot jou gegewenheid – gene, sosio-kulturele en etniese agtergrond, ensovoorts – en ook deur partikulêre tyd en plek.

Steeds, om gegewenheid as ’n verskoning te gebruik om nie meer te word as wat jy veronderstel jy veronderstel is om te wees nie as gevolg van dit wat aan jou “gegee” is, is om die ongelooflike vermoë wat die mens het om hom- of haarself te transformeer, te onderskat.

Konfronteer die kluisenaar

01:09

(Steeds wagtende in die masjien)

Ek kan verstaan hoekom sommige mense kies om hulleself te isoleer van die gemeenskap, van ander mense. Dis nie noodwendig dat hulle nie van mense hou nie, dis eerder ’n geval dat hulle ’n punt bereik wat hulle nie meer gekonfronteer wil word, op ’n daaglikse basis, met dinge wat meeste mense wonderbaarlik regkry om te ignoreer nie, of wat meeste mense bloot aanvaar sonder om dit te veel te bevraagteken.

Die gemoed van die enkel-reisiger …

01:21

Die vrou in die pienk trui sit in ry, ek dink 23 of 28. Nadat ek met haar gesels het in die bussie op pad na die lughawe, het sy gewag vir die volgende hysbak na die vyfde vloer. Toe ons later wag om aan boord te gaan, het sy op dieselfde bank as ek, twee sitplekke van my af, kom sit. Ek vra haar toe, “Ni yizhi feidao Agenting ma?” (Vlieg jy non-stop na Argentinië?) Ons gesels toe ’n bietjie, en toe ons moet gaan, staan sy eerste op en stap vinnig genoeg om etlike plekke voor my in die ry te wees. Toe ek verby haar stap in die vliegtuig (na my sitplek in die gat, nommer 63D), het sy nie spesifiek na my gekyk nie, maar ek was in haar gesigsveld. Ek het myself verbeel dat sy gereed was met ’n Engelse frase as ek in die verbystap iets moes sê soos, “Lekker vlieg.”

Het ek al genoem dat ek moeg is daarvoor om alleen te reis? Ek het verlede Saterdagaand in Nommer Nege vir myself gesê dit is my volgende groot ambisie – om nie meer alleen te reis nie. Die vrou in die pienk trui sou lekker gewerk het …

Ons begin spoed optel. (Het die mense voor my nie gehoor die loods het almal beveel om hulle monde te hou nie?) Die jazz oor die luidsprekers raak al hoe jazzier, die mense praat al hoe harder, die ligte van die lughawe flits vinniger en vinniger en ons is … in die lug!

Dis ellendig om alleen te wees.

Die tuiskoms

04:55 (Suid-Afrika tyd)

Die land van my Gegewe Self kom in fokus. Die tydsberekening kon nie beter gewees het vir die musiek in my ore nie: Juluka se “Akanaki Nokunaka” (He Doesn’t Care, Even About Caring).

06:45

(Johannesburg Internasionale Lughawe)

“I was the only one / to witness my homecoming / so I asked myself / Brother Josef, how’ve you been …” (uit Africa, deur Juluka)

Een Mail & Guardian, twee sigarette, ses poskaarte – ek is immers ’n toeris – en ’n halwe bottel Orange Powerade later sit ek voor die Bureaux de Change, en vul nog ’n bladsy op in ’n notaboek wat gewoonlik ooplê op my antieke kassie in Benewelde Lig.

Oor ’n kwartier gaan ek my ou vriendin J. wakker bel, en oor hopelik ’n uur of so maak ek my dramatiese herverskyning in Dronkwordspruit.

Gaan my opinies van die afgelope paar maande verander oor die volgende vier weke? Gaan ek nuwe insigte opdoen wat huidige planne in heroorweging sal roep? Tyd sal leer.

Tyd vir ’n koppie koffie …

____________________