Postscripts, een tot vier

Postscript [een]

Dinsdag 14 April 1998

Ek is 18 dae van Singapoer af, 21 dae van Johannesburg af. Ek het nog twaalf werksdae (en een klas) oor. Twintig kilogram bagasie is reeds weggestuur. Ek gaan tans deur my ou koerante. Ek beplan om volgende week absoluut niks te doen nie, net op my rusbank te sit en te wag vir die tyd om verby te gaan.

Ek voel opgewonde, ietwat angstig, miskien so snars sentimenteel. Alle vorige verwysings na hierdie tyd was altyd gemaak binne ’n sekere konteks – werk, mense, weer, geld, ervarings, tyd, emosies, ensovoorts. Noudat die langverwagte “laaste dae” aangebreek het, dink ek aan al daai tye, maar uit die aard van die saak word ek sterker beïnvloed deur die huidige realiteit.

Die afgelope maand of drie was soos ’n vergrootglas. Ek weet ek is by ’n kruispad, ’n belangrike nuwe deel van my lewe, en die brug wat daarna lei, word eersdaags oorgesteek. Hierdie is een van daai tye wat ek later sal onthou as intellektueel en emosioneel betekenisvol. Dit is die grond waarin diep betekenis gekweek word, die tipe tyd waarna mens later sal verwys as ’n rigtingwyser, ’n bepaler van toekoms. Die pad wat ek binne ’n week of drie sal binnestap, sal vir altyd sy begin hê in Korea, en in hierdie laaste dae.

Mens voel tog lus om te vra, opsommenderwys: Wat nou?

Ek gaan fokus op dit wat vir my belangrik is – kennis, vryheid van ’n wêreld wat nie vir my sin maak nie en wat geen aantrekkingskrag hou vir my nie, en ekonomiese onafhanklikheid. Hierdie drome, en veel meer is binne my bereik in my eie land.

Ek moet my drome najaag tot hulle vervul is, of tot daar nie meer lewe oor is in my nie. Ek het dit geweet toe ek hier aangekom het. Ek weet dit nou.

Ek het ’n volle sirkel gemaak. Ek is gereed.

Postscript, twee

Sondag 19 April 1998

Ek het groot geword in ’n wêreld waar die dominee die hoogste gesag in die gemeenskap was wanneer dit gekom het by etiek, moraliteit en teologie, en waar die staatspresident die hoogste gesag was op die gebied van politieke reg en geregtigheid. As hierdie twee karakters gesê het wit baasskap is reg, dan was dit inderdaad so. Hoe anders?

Genoeg daarvan. Ek het uiteindelik lig gesien op al dié gebiede. Vandag leef ek in ’n wêreld waar daar geen duidelike lyne, of merkers is wat die pad kan aandui wat ’n mens moet stap nie. Elke mens moet dit vir homself uitsorteer.

Wat ek wel geleer het, is dat geld belangriker is as baie ander dinge in die lewe. Hoe meer jy het, hoe beter. In die wêreld waarin ek leef, is dit elke persoon vir homself. Daar’s min genade vir ’n arm ou, en baie belonings vir die ryk man of vrou.

Ek is nie geïnteresseerd in die illusie van sekuriteit wat maatskappye belowe nie. Mense bou hulle huise op fondasies wat deur ander mense of besighede verskaf of geleen word, net om een dag tot hulle skok en smart, en dié van hulle familie, uit te vind dat dit oornag kan verkrummel. Hoekom moet ek myself onderwerp aan so ’n wêreld, as ek reeds oor hierdie kennis beskik, en reeds die skok, smart en vernedering ervaar het?

Waar is mý plek in hierdie wêreld? Die antwoord is, ek het nie ’n plek nie. As ek sonskyn op my vel wil voel, moet ek dit self op my eie manier met die Bron uitsorteer. Ek moet vergeet van selfaangestelde Agente van die Son wat mens warmte en lig belowe, maar op húlle terme.

Postscript, drie

’n Brokkie inligting uit ’n ander bron:

“People who are believers in themselves are usually pessimistic about the world, but optimistic that they can make a difference, can persevere, by going against society’s grain, trends and habits because conformity is the bottom line that must never be crossed. Mad at the world but secure in their own, these people are like missionaries, seeking converts to subscribe to their own views. They are pessimistic about the fact that the majority will never change, but optimistic that they will personally make a difference.”

(Korea Herald, 25 Oktober 1996)

Postscript, vier

Vrydag 24 April 1998

Elke nou en dan kom die vraag oor ’n enkele ambisie, ’n enkele fokus weer op. In baie gevalle het dit te make met ander mense se persepsie van jou – of dan ten minste wat jý dink hulle van jou dink. Wanneer hierdie vraag opkom, voel jy soms die dringende en intense behoefte om ’n plakkaat om jou nek te hang wat sê: “This is what I am. This is what my life is about.”

Daar is ook tye wat mens in die versoeking is om uitdagend te wees en te sê: “Ek weet wie ek is. Ek weet wat my drome en ambisies is, en ek gee in elk geval nie om wat ander mense daarvan dink nie.”

Die probleem is, min mense is so selfstandig en vol selfvertroue dat wat ander mense van hulle dink, absoluut nie ter sake is nie. Ten spyte van die feit dat ek soms dink ek is immuun daarteen, is die teenoorgestelde eerder waar – ek is baie bewus van ander se opinies van wie ek is, en wat ek doen.

Dit laat my met ’n duidelike probleem. Siende dat ek nie ’n enkele woord – “Student”, “Ingenieur”, “Joernalis” of “Onderwyser” – om my nek kan hang nie, word ek blootgestel aan beskouings of indrukke van ander dat ek ’n onrealistiese dromer is – ’n man van groot woorde, maar nie van aksie nie.

Drie moontlike oplossings kan in hierdie verband voorgestel word: 1) Ek kan al die mense wie se opinies en beskouings van my ek as belangrik ag, vermy; 2) ek kan hoop op konkrete sukses binne ’n redelike tydperk, gesteun deur verbale versekering dat die sukses deel is van die “bigger picture” wat ek in gedagte het; 3) ek kan mense om die bos probeer lei met iets wat hulle sal beïndruk vir die oomblik, soos dat ek beplan om binne ’n maand of twee Europa toe te gaan, of so iets.

Daar lê ’n harde pad voor my. Ek moet verwag dat meeste mense nie beïndruk sal wees met my breedvoerige verduidelikings van my drome en ambisies nie. Ek moet verwag dat meeste mense gaan dink ek is ’n “onrealistiese dromer, ’n man van groot woorde maar nie van aksie nie.” Verwag dat dit soms gaan tref tussen die ribbes.

Ter afsluiting, en met die oog op hernude fokus, hoe sou ek antwoord as ’n vreemdeling – of ’n vriend – die vraag oor ’n enkele ambisie, “a singular determination” in my rigting slinger?

“Mag – om te kan doen wat ek wil doen,” sal ek antwoord sonder om in sy rigting te kyk, asof ek dit vir almal sê wat ooit wou weet, of wat wou vra maar nie ’n antwoord verwag het nie, of wat gevra het, maar nie voorheen verstaan het nie.


Laaste nag in Chonju
Op pad huis toe – Mei 1998

______________________