Wie en wat

WOENSDAG 1 OKTOBER 2003

Identiteit is soos ’n eksterne kenteken (of versameling kentekens) wat ons ronddra en vertoon om aan ander te wys wie ons is. Identiteit help ons ook om die verhouding te verstaan tussen ons en ons omgewing en alles en almal wat deel is daarvan. Wát ons is, strek egter veel dieper as wié ons is. Ek glo verder dat identiteit ’n oorlewingsmeganisme is wat ons spesie aangeleer het in die proses van ewolusie, omdat vroeër meganismes wat dieselfde funksies gehad het as identiteit vandag, tot ’n groot mate afgestomp geraak het.

Elkeen van ons kan ’n hele lys dinge aframmel, wat almal wat wou weet sou oortuig dat ek nie Ronald Reagan is nie, en jy heel moontlik nie Napoleon Bonaparte nie. Ons het name, nasionaliteite, moontlik beroepe, telefoonnommers, selfoonnommers, identiteitsnommers, paspoortnommers, kredietkaartnommers, adresse, bloedtipes, alma maters, herinneringe van hoërskool, belangstellings, gunsteling vakansieplekke, ambisies en drome … net om ’n paar te noem. Maar nie een van hierdie dinge, of die hele klomp saamgegooi, is meer as net inligting óór ons nie.

’n Plant, hoe diep sy wortels ook al in die grond is, ís nie die grond nie. Die plant bly ’n plant, en die grond bly grond. Ons identiteite is moontlik iets soortgelyks. Die plant het die grond nodig om te oorleef in die tuin. Ons – vlees-en-bloed, verstandelik aktiewe, lewende organismes – het identiteit nodig om te kan oorleef, in die eerste plek, en dan verder, om behoorlik te kan funksioneer in die omgewing waarbinne ons lewens uitgeleef word. Al die elemente waaruit individuele identiteit saamgestel word, is groter as die individu en sy of haar identiteit: taal, nasionaliteit, voorouers, geskiedenis, en so meer. Die manier hoe ’n individu elemente van identiteit onttrek – by wyse van spreke – uit sy of haar omgewing, is dus, op ’n manier, soortgelyk aan ’n plant wat voedingstowwe onttrek uit die grond ten einde te kan oorleef.

As die formulering van jou ware identiteit nie die einddoelwit is nie, wat is? ’n Aanvanklike antwoord blyk te wees, “plek in die wêreld”. Geen mens kan sy of haar plek in die wêreld vind of definieer sonder om eers uit te sorteer wie hulle is in verhouding met alles om hulle nie. Identiteit is die middel tot hierdie doel.

Hoekom wil ons weet waar ons “plek in die wêreld” is, waar ons “behoort”?

Alle tekens dui daarop dat ’n spanningslose toestand die primêre strewe is van alle organismes – insluitende die mens. Soos ons almal weet, is daar meer dinge wat spanning veroorsaak in ons lewens as wat ons in een leeftyd kan aftel. Daar is dinge wat ons fisiese bestaan bedreig; dinge wat ons sielkundige welstand bedreig; die oervrees om te verdwyn in die nietigheid die dag wanneer ons sterf. Dan is daar die kakofonie van tale, kulture, subkulture en ander verskille tussen ons dat ’n mens amper wil glo dis ’n wonderwerk dat ons mekaar nie uitmoor ter wille van ons eie kanse op oorlewing nie … of eerder, dat dit nie méér gebeur as wat alreeds die geval is nie. Die primêre strewe van ’n spanningslose toestand manifesteer in die begeerte om veilig te voel, in die sterk drang om onsself te beskerm.

Een relatief effektiewe manier om onsself te beskerm, om ietwat veiliger te voel, en ’n bietjie beter te voel oor die moontlikheid van verdwyning, is om te wees tussen ander “soos ons”. Hierdie beginsel is so oud soos die lewe self, en dit manifesteer in nasionalisme, godsdiens, bloed-is-dikker-as-water, vriendskappe, subkulture, die manier hoe wilde diere van dieselfde spesie saam groepeer, en in die geblaf van honde in die nag.

Die behoefte om veilig te voel stimuleer die behoefte daaraan om êrens te behoort. Ten einde lidmaatskap van een of meer groepe te bewerkstellig, benodig ons inligting oor onsself – daarom die soeke na identiteit.

Die probleem is dat hierdie “soeke na identiteit” in baie gevalle ’n uitgerekte proses is, en die drang na veiligheid – soos die redes om te vrees vir ons lewens – kan nie wag tot jy jou regte naam van die dakke kan uitskree nie.

Wat op aarde kan help om hierdie proses minder traumaties te maak, om jou angs te verlig as jy nog nie mooi weet wie jy is, en waar jy inpas nie? Anders gestel, wat kan jou angs verlig terwyl jy nog “soek” na jouself, en na jou plek in die wêreld? Die antwoord so naby soos die naaste beursie vol banknote: GELD.

Hoekom laat geld – of dan, om oor meer as genoeg geld te beskik – jou beter voel as jy nie seker is van jou identiteit nie? Geld verminder die noodsaaklikheid van (’n goed gedefinieerde) identiteit deurdat dit die oorspronklike behoefte aan ’n bewussyn van persoonlike veiligheid en sekuriteit bevredig. Geld koop kos, klere, ’n dak oor die kop en deure en hekke met grendels en slotte; geld koop ook die dienste van ’n tandarts wanneer jou tande pyn, die hulp van dokters as iets anders verkeerd is, en dit koop medisyne in die geval van siekte en ’n bed in ’n goeie hospitaal in ernstiger gevalle; geld koop vermaak, geselskap, en in meer gevalle as wat meeste sal erken, is geld ook direk of indirek bevorderlik vir die ontwikkeling van vriendskappe. Om op die langtermyn toegang te hê tot voldoende kapitaal, is om te weet dat al bogenoemde beskikbaar is wanneer dit benodig word; om te weet dat al bogenoemde beskikbaar is wanneer dit benodig word, is om veilig te voel.

Beteken dit hoe ryker die ou is, hoe minder hoef hy te weet oor homself? Nie heeltemal nie. Hoe ryker die ou is, hoe beter die kans dat hy gaan voel sy bestaan, vir nou, is beter verskans as dié van die boemelaar in die rioolpyp. En hoe beter hy voel oor sy kanse op oorlewing, hoe minder sy dringende behoefte aan alternatiewe maatreëls om ’n bewussyn van sekuriteit te bewerkstellig – naamlik die oortuiging dat hy êrens behoort, saam met iemand of ’n groep mense. Om te verskyn buite die gemak en beskerming van sy veilige tuiste, mag wel die persoon se sin van persoonlike veiligheid verminder, wat die behoefte sal stimuleer om te wys waar en hoe hy behoort – dat hy [X] is in ’n omgewing waar meeste mense verstaan wat [X] beteken. Natuurlik sal geld uiters handig te pas kom in die aanskaffing van toepaslike (en in vele gevalle voorafverpakte) Kentekens van Identiteit – vryelik beskikbaar op die Internet, uit bestel-per-pos katalogusse, of ’n wye keuse van poetsblink inkopiesentrums.

Wat ook al die verskil tussen die kind van geld en die res van die samelewing se kinders wanneer dit kom by identiteit, dit verander niks aan die feit dat, selfs al kan jy ’n boek skryf oor jou eie identiteit en oor jou persoonlike agenda in hierdie wêreld, dit steeds nie die volle waarheid omsluit oor wát jy is nie.

In terme van materie is jy soveel pond vleis, soveel liter bloed en soveel meter vel. En het jy regtig wetenskaplikes nodig om aan jou uit te wys tot watter graad jy dieselfde is as ’n hond of ’n bobbejaan?

Die vraag na WIE jy is, is so prakties soos die regte moersleutel in ’n werkswinkel: Dit dien ’n doel, en die doel is ’n bewussyn van persoonlike sekuriteit.

WAT jy is, is egter moeiliker om vas te vat. As ons net soveel pond vleis en bloed en vel en bene minder of meer is as ons troeteldiere, met (meeste van die tyd) ’n brein wat meer ontwikkeld is, dan moet selfs ék wonder of ek my tyd mors deur te doen wat ek doen. Dan maak dit mos ten volle sin om skaamteloos geld na te jaag vir geen ander rede nie as die sekuriteit, en die vermaak en gemak wat dit kan koop.

Wat daarvan, moet mens uiteindelik vra, as ons net soveel pond vleis en been meer of minder is as ’n wilde dier, en niks meer nie? Of is die feit dat ons breine soveel meer ontwikkeld is, so belangrik dat ooreenkomste in organiese samestelling tussen die mens en ander “minder ontwikkelde” lewensvorme regtig nie eintlik saak maak buite die laboratorium nie?

Nog ’n vraag: Hoe affekteer dit ons ambisies, ons beskouing van gemeenskap, ons drome oor die toekoms, ons hoop vir die volgende geslag, as ons glo dat niks buite ons fisieke bestaan lê nie, as betekenis in die lewe en definisies vir goed en sleg gevind moet word binne dit wat ons kan dink en voel en ervaar – individueel, en as individue in gemeenskap met ander wat soortgelyke ervarings het? En hoe verander dit die onderwerp as dit moet blyk – bo redelike twyfel – dat ons meer ontwikkelde breine ’n aanduiding is dat die mens deel is van iets wat verder strek as dit waarvan kameelperde en kokkerotte en spinnekoppe deel is?

______________________