Dinsdag 30 Julie 1996
Het in Korea gearriveer op 30 Junie. Ek het my eerste week oorleef, en … what do you know? My eerste maand het sopas sy gat gesien.
Dis weereens een van daai dinge wat jy weet gaan gebeur, maar eers moet jy deur die formaliteite gaan. Ek moes eers die eerste maand dag vir dag, en uur vir uur, deurmaak voor ek by hierdie punt kon kom.
Dis 30 Julie 1996. Ek trek óf môre, óf die naweek in my eie kamer in. En Saterdag kry ek omtrent ₩700 000 [$700/R3 500] kontant.
* * *
Natuurlik wil ek ook een of ander tyd trou en kinders kry. Tog, ek wil nie die tipe lewe hê wat my vriende nou lei nie, hoewel ek twee maande gelede gedink het hulle het wonderlike lewens.
Wat ék tans ervaar, is ’n avontuur in ’n relatief stabiele omgewing. Ek het ’n blyplek; ek het ’n werk; ek verdien ongeveer R3 600 per maand, en ek woon in ’n land in Noordoos-Asië met al die potensiaal vir ontdekking wat mens besig hou in vervelige tye. En, ek is nie in ’n posisie waar ek reken ek het nou gearriveer, this is going to be my life for the next forty years, met die eksistensiële paniek wat daarmee gepaard gaan nie.
Ek is in ’n posisie waar ek ’n redelike mate van sekuriteit ervaar. Maar ek is ook bewus daarvan dat ek net vir nog elf maande hier gaan wees, so daar is nie regtig rede vir onbeheerste angs nie.
Ek sê: “Oukei, dis my lewe vir nog elf maande. Wat dan? Engeland? Oos-Europa …”
______________________