Wees jou eie SELF – slegte akteur

DONDERDAG 1 APRIL 2004

Wees jou eie SELF

Die eerste dekade of twee van ons lewens spandeer ons vasgevang in omgewings waar ons grotendeels ís wat ons veronderstel is om te wees (of waar die verwagting is dat ons sal wéés wat ons veronderstel is om te wees). Die idee is, wanneer ons die pad vat weg van hierdie omgewings af, dat ons dan sekere vrae sal vra. In die proses van antwoord formulering sal ons dan vind, of definieer, wie ons “werklik” is, of wil wees – hoewel realisties gesproke is wie en wat ons moontlik kán wees reeds sterk beïnvloed deur wie ons veronderstel is om te wees en wat van ons verwag word.

In sommige gevalle is wie en wat ons veronderstel is om te wees, met hier en daar ’n verfspatsel om onsself tot ’n mate uniek te maak, goed genoeg, en hierdie identiteit word dan aangebied as antwoord op wie ons is.

In ander gevalle bereik individue ’n tyd van persoonlike krisis, wanneer hulle besef dit wat hulle veronderstel is om te wees strook nie met wat hulle ontdek het oor hulleself nie, of dit strook nie met wie of wat hulle wíl wees nie. Veranderinge moet dan gemaak word, al vereis dit soms jare se onsekerheid en intense selfondersoek. In die ideale scenario sal hierdie individue na ’n periode van sogenaamde identiteitskrisis weer aan die wêreld kan verskyn, maar dié keer in ’n “nuwe gedaante”.

Hierdie “nuwe” persoon sal altyd gebou wees op die fondasie van die “ou” persoon – vroeë ervarings, beide positief en negatief, is gewoonlik reeds te verweef met die psige van die persoon om dit te verwerp as “nie langer van toepassing nie”. Sekere karaktereienskappe van die “ou” persoon mag ook steeds in takt wees; maar selfs as sekere karaktereienskappe behou word, sal die “eienaar” van hierdie eienskappe dit nou tot ’n groter mate as sy of haar eie kan bestempel, en nie (net) as die resultaat van druk wat op hulle geplaas was in hul vormingsjare om hulle te manipuleer tot dit wat hulle veronderstel was om te wees nie.

Dit word dan ook gesê dat die persoon wat sy of haar “eie self” gevind of gedefinieer het, hulle “eie mens” geword het. Hoeveel van hierdie “self” werklik jou eie is, bly natuurlik ’n ope vraag.

SATERDAG 3 APRIL 2004

Wees nou ’n slegte akteur, toe …

Dis waarlik indrukwekkend hoe ons soms karikature maak van mense met wie ons gereeld ons lewens deel sodat hulle marionette kan wees in ons eie wêreld. Nou ja, ons almal doen dit, so niemand kla te veel daaroor nie. (Weereens ’n kwessie van wedersydse ooreenkoms: “Ek sal jou nie daarop wys as jy my nie daarop wys nie.”)

Net soms irriteer dit wel, wanneer ons kan sien iemand verwag ’n sekere “act” van ons, of verwag van ons om een of ander karakter te wees, en dit strook nie met hoe ons voel op daai oomblik, of met hoe ons in werklikheid gesien wil word nie. Of daar word van ons verwag om sekere aspekte van ons karakter te onderdruk, ter wille daarvan om te wees wat ons veronderstel is om te wees in die ander persoon se beskouing van ons – soos in, “Wees nou ’n goeie vriend en speel jouself reg, toe?”

Die vraag kan natuurlik ook gevra word hoeveel mense werklik hul eie nuanses ken. En hoeveel mense is nie afhanklik van hulle vriende se karakterisering van hulle ten einde te weet wie hulle is en hoe hulle moet optree nie?

______________________