VRYDAG 24 JUNIE 2016
Vandat ek in die oggend wakker genoeg is om te registreer wat op die wekker se gesig aangaan, dink ek aan werk. Ek dink aan werk wanneer ek ontbyt eet, wanneer ek stort, wanneer ek aantrek en wanneer ek my tande borsel. Ek dink aan werk wanneer ek op pad is na ’n plek toe waar ek werk. Nadat ek gewerk het by hierdie plek, gaan ek huis toe. Dan eet ek dalk iets, en dan werk ek. Wanneer ek TV kyk, dink ek daaraan dat ek nie werk nie. Wanneer ek op die bed gaan lê om ’n bietjie te rus, dink ek aan hoe lank ek nie gaan werk nie. Wanneer ek Wikipedia oopmaak in my webblaaier, of Twitter, of Reddit of Facebook, dink ek daaraan dat ek ’n breuk vat van werk. Op Saterdagaand en Sondag is die groot ding dat ek probeer om nie te werk nie. Ek werk wanneer ek geld maak, en ek werk wanneer ek besig is met langtermyn, ambisieuse skryfprojekte wat heel waarskynlik nooit veel geld sal maak nie.
Wat ek doen wanneer ek werk verskil dalk van wat jy doen wanneer jy werk, maar meeste volwassenes aanvaar hierdie storie dat hulle lewens om werk draai sonder om te veel daaroor te dink.
Ons eenvoudige, in vele gevalle ongeletterde voorouers van vyf of meer eeue gelede het net ’n paar maande van die jaar gewerk. Die res van die tyd het hulle gedoen wat hulle moes doen om te oorleef, hulle het gerus, en so nou en dan ’n ietsie geniet van ’n lewe wat gewoonlik nie veel meer as dertig of veertig jaar geduur het nie.
So, ek wonder net: Van wanneer af het ons – die werkende massas – onsself laat programmeer met hierdie ding dat ons móét werk, ten minste vyftig weke van die jaar, ten minste vyf dae van die week, ten minste agt ure elke dag?
______________________