DONDERDAG 14 APRIL 2016
Punt 1.
Dit is moeilik om te sê waarin ek glo.
Punt 2.
Ek vind dit moeilik om myself toe te wy of te verbind aan iets, want ek moet 100% glo daaraan, en ek sal deurentyd toewyding daaraan aan myself moet verkoop.
Punt 3.
Ek wens ek kan meer kosmiese verslag-tipe skryfwerk ontdek: Ek is bewus daarvan dat ek bestaan; ek het leer lees en skryf; ek het identiteit ontwikkel; ek oorleef (hoe?); ek funksioneer (hoe?); ek skryf wat ek dink, hoe ek voel, en hoe ek dinge ervaar.
Indien ek so ’n langtermyn skryfprojek van iemand anders ontdek, sal ek nie my eie literêre pogings vergelyk met daai persoon s’n nie. Ek sal verheug wees. Ek sal gretig lees wat die persoon dink, hoe hulle voel, en hoe hulle die lewe ervaar.
Punt 4.
Tien of vyftien jaar gelede het ek geglo ek kan iets skryf, iemand sal dit lees, en dink: “Hierdie ou is reg. Dit moet eintlik so wees. Ek sal van nou af anders optree.”
Punt 5.
Op Dinsdag 2 Junie 2015 skryf ek: [Dalk verskil my lewe nie veel] van die volgende ou s’n nie, en ek mors my tyd met my sogenaamde skryfwerk.
Aan die ander kant is daar ’n skraal moontlikheid dat ek my volwasse lewe sover op ’n manier geleef het wat aan my ’n unieke beskouing gegee het van die mens se bestaan en die lewens wat ons leef, en dat ’n kombinasie van persoonlikheid en tersiêre opleiding dit moontlik maak dat ek iets kan skryf wat iemand anders sal laat sê, “Ek hou van die bewoording hiervan. Dis nie regtig iets waaraan ek self nog nooit gedink het nie, maar die manier hoe die ou daaroor praat, maak dit makliker vir my om my eie gedagtes agtermekaar te kry.”
Punt 6.
Op Vrydag 31 Julie 2015 het ek die tromme geroffel vir ’n belangrike insig: Mens sê graag, “Maar iemand anders het dit klaar gesê,” of “Iemand anders doen dit klaar.”
Feit is, nie almal het gehoor toe daai ander iemand gesê het wat hulle ook al gesê het nie, of hulle het nog nie daai film gesien nie, of daai boek gelees nie. En selfs mense wat gehoor het wat daai man of vrou gesê het, of wat ’n sekere film gesien het, of ’n sekere boek gelees het, het al vergeet van die liggies wat aangegaan het in hul koppe!
Almal vergeet dinge. Dit, aan die einde van die dag, is hoekom belangrike dinge herhaal moet word.
Punt 7.
Op Donderdag 28 Januarie 2016 het ek geskryf: Dalk is die beste roman wat ooit geskryf sal word in enige taal, reeds geskryf. Maar steeds moet ons aanhou om te skryf. Dalk is die mees vrygewige mens wat ooit sal leef, dekades of eeue al dood. Maar steeds moet ons aanhou om te gee.
MAANDAG 18 APRIL 2016
Ek dink nou al ’n geruime tyd aan hierdie ding dat ek nie werklik weet waarin ek glo nie. Tref dit my vanmiddag soos ’n bliksemstraal: Ek glo in bome.
Dink daaraan: bome is sag op die oog en goed vir die hart; dit voorsien beskutting en voedsel aan mense, diere, voëls en insekte; in vele gevalle is ’n enkele boom ’n ekologiese sisteem waarbinne sommige kreature hul hele lewensiklus uitleef; bome maak besoedelde lug skoon en maak dit derhalwe makliker vir mense om asem te haal; bome voorsien hout vir huise en hutte en ander skuilings, en vir meubels; bome voorsien hout vir warmte; bome voorsien papier vir boeke; ’n mens kan ’n aktivis word vir die saak van bome – om die waarheid te sê wy vele mense reeds hulle lewens toe aan hierdie saak; bome kan vir honderde jare aanhou groei; en laastens maar nie die minste nie, vind jy jouself skielik een dag nakend buite jou huis, kan jy eenvoudig oorstap na die naaste boom toe, sagkens ’n takkie vol blare afbreek, en jou gesig daarmee bedek.
______________________