MAANDAG 9 MEI 2005
13:23
Twee mense spandeer tyd saam. Hulle raak toenemend gemaklik met mekaar. Hulle vertrou mekaar meer en meer – ook met hul eie vrese en tekortkominge. Hulle raak meer en meer afhanklik van mekaar vir geselskap, kameraadskap en ondersteuning. Hulle word maats, minnaars, sielsgenote – ’n universele verskynsel wat sny oor tyd, kultuur, historiese era, sosio-ekonomiese agtergrond, godsdiens en alle ander divisies tussen mense.
Dit is ’n proses wat gekoester moet word.
16:56
Besig om die woordeskatlys voor te lees aan die 16:30 tot 18:00 klas toe die woord “irrelevant” in my gedagtes opduik, soos in, “Ek is bang na al my pogings is my lewe in werklikheid irrelevant, met slegs waarde vir enkele ander mense …”
– a mundane life –
– a life of no significance –
[16/06/15: “slegs waarde vir enkele ander mense …” – so wat is die magiese nommer? 7? 53? 125? wanneer ’n mens se lewe waarde het vir hoeveel mense sal jy nie meer dink jou lewe is irrelevant nie? jy red een persoon van verdrinking – kyk jy rond om te sien of daar nie dalk nog mense is wat verdrink nie want een is te min? jy red een persoon van sieldodende armoede – nie goed genoeg nie? nie eens die moeite werd nie, sal jy dink?]
20:26
Die “verlossingplan” soos gepredik deur sogenaamde “Evangeliese Christene” rus op een beginsel: die identiteit van God, en die individuele “Christen” se bevestiging van hierdie gepredikte identiteit.
* * *
Die grense van vele mense se ambisies, en beskouing van die tipe lewe wat hulle kan leef, berus tot ’n groot mate op een ding: “Jy moet bly wees dat jy ten minste …”
____________________