MAANDAG 21 NOVEMBER 2005
’n Nutsman gaan na ’n buurdorp laat een middag om ’n wasmasjien te gaan regmaak. Vir ’n driekwart uur is hy gefokus op die masjien voor hom: drade en proppe en buise, en die gereedskap wat hy nodig het. Hy lê miskien op die naat van sy rug op die kombuisvloer en sy konsentrasie is skerp ingestel op wat hy besig is om te doen. Dit is soos dit moet wees; dit is hoe hy sy werk behoorlik gedoen sal kry.
Hierdie nutsman moet egter op enige oomblik kan terugtrek van die wasmasjien voor hom, en vrae kan beantwoord oor sake belangriker as net hierdie spesifieke wasmasjien. Hy moet byvoorbeeld ’n vae idee hê in wie se huis hy is – miskien die plaaslike slagter by wie hy al ’n paar keer biltong gekoop het; hy moet weet in watse dorp hy is – nie sy eie dorp nie, maar die buurdorp; hy moet weet hoe laat hy reken hy by die huis sal wees – dalk so 18:00 se kant; hy moet ook weet hoe hy moet ry om by die huis te kom; moontlik selfs hoe die weer buite lyk – miskien hoor hy die donderweer van ’n naderende storm. As die situasie dit vereis, mag hy dalk ook ander dinge in ag neem: sy ouderdom – middel veertigs, sy gesin – vrou en twee kinders, sy inkomste – ±R12 000 per maand, en sy finansiële verpligtinge – huis- en voertuig paaiemente, inkopies, skoolgelde, polisse, ensovoorts.
Sou dit nodig wees, kan die nutsman terugsit, weg van die masjien en die gereedskap en die buise en moere en pype, en vir ’n paar oomblikke die wyer spektrum van sy lewe oorweeg.
WOENSDAG 23 NOVEMBER 2005
Op die onderwerp van paaie wat vir jou uitgelê is, en die stappe wat jy in jou jeug en twintigs neem om hierdie pad jou eie te maak, die volgende metafoor: ’n tapisserie. Die prent, die motief, is reeds uitgewerk voor jy begin met weke se tydsame arbeid met wol en naald. Aan die einde het jy ’n pragtige tapisserie. Die tapisserie is jou eie. Jy het hard gewerk daaraan. Maar dit verander niks aan die feit dat die plan, die patroon, reeds uitgelê was voor die tyd, deur iemand anders nie.
DONDERDAG 24 NOVEMBER 2005
Hoe gaan jy voort met jou lewe as jy ’n groot persoonlike verlies gely het? Ek reken jy gaan nie … kán nie voortgaan met jou lewe soos jy dit geken het nie. Daai lewe, daai bewussyn van dinge, is verby. Wat jy doen, is jy begin met ’n nuwe lewe, gebou op die fondasie, en met die boumateriaal van jou ou lewe. Ek glo alleenlik dan kan jy werklik voortgaan met jou lewe.
______________________