Regverdig jou keuses – Hiërargie van Omgewings

MAANDAG 17 OKTOBER 2005

15:42

Die kwessie van waar jy jouself vestig herinner my aan iets wat Ayn Rand geskryf het (my eie bewoording): omdat mens ’n vrye entiteit is en jou keuses uitdrukkings is van vrye wil, het jy nodig om jou keuses (aan jouself) te regverdig. As ek byvoorbeeld kies om in Taiwan te bly eerder as om terug te gaan Suid-Afrika toe, moet ek dit voortdurend aan myself kan regverdig ten einde voort te kan gaan om te glo dat dit inderdaad die regte keuse is. Soms is dit ’n probleem.

Ek wonder ook: Hoekom het ons nodig om dit te regverdig?

16:18

Is dit nie waar nie dat dit soms makliker sou gewees het as mens minder keuses gehad het, as jy minder vry was, as’t ware? Dat dit makliker sou wees om jou keuses te regverdig, want jy sou net jou skouers kon ophaal en sê, “Wat bedoel jy? Hierdie keuse was die beste onder die omstandighede.” Of nog beter: “Ek het geen ander opsie gehad nie!”

As jy egter ’n vrye individu is en jou keuses uitdrukkings is van jou vrye wil, moet jy dit aan jouself kan regverdig dat dit inderdaad, onder die omstandighede, die regte keuses was.

My vraag is steeds, hoekom?

20:40

’n Paar gedagtes van verlede week wat verdwaal het op pad na die notaboek:

I. […]

II. […]

III. Saterdagaand by [’n huweliksonthaal] by die Grand Hotel staan ek eenkant en rook. Ek dink toe so oor myself, in my deftige broek en my deftige hemp en my deftige das en my blink skoene, tussen al die ander deftige mense.

Ek dink toe: Daar’s ’n Hiërargie van Omgewings. Aan die een kant het jy die omgewing waar jy absoluut die baas is, waar jy kan sê wat jy wil, doen wat jy wil, lyk soos jy wil – jou eie agterplaas, in ander woorde. Aan die ander kant van die spektrum het jy ’n omgewing waar dit gedikteer word hoe jy lyk, wat jy moet doen, hoe jy dit moet doen, wat jy moet sê; ’n omgewing waar jy vir alle praktiese doeleindes nie juis vry is nie. Tussen in is daar dosyne ander omgewings.

Die omgewing waar ek myself Saterdagaand bevind het, was een waar ek in Basiese Beleefde Modus was.

DINSDAG 18 OKTOBER 2005

Ek het vroeër gewonder waarom ons ons keuses aan onsself moet regverdig. Ek reken ek het nou die antwoord.

As jy in ’n posisie is om elke dag keuses te maak, dan het jy nodig om te glo in jou vermoë om keuses te maak. As jy nie daaraan glo nie, is dit soortgelyk daaraan om elke dag te moet fietsry werk toe, maar elke keer wat jy op die fiets klim, is jy onseker van jou vermoë om die fiets vorentoe te beweeg en jou balans te behou. Of om elke dag ’n bepaalde werk te moet doen, en elke dag te vrees dat jy gaan opfok, en die suur vrugte daarvan sal moet eet.

So is dit met vrye wil, en keuses. Jy moet vertroue koester in jou vermoë om die regte keuses te kan maak, of die beste keuses onder die omstandighede. Dit is hoekom jy jou keuses aan jouself moet regverdig – jy bewys aan jouself dat jy bevoeg is om te kan funksioneer as ’n vry individu. Deur oortuig te wees daarvan dat jy meeste van die tyd goeie keuses maak (of dan die beste keuses onder die omstandighede), ontwikkel jy die vertroue om dit die volgende dag weer te doen – om weereens, wanneer jy gekonfronteer word met belangrike keuses, die beste keuses te maak onder die omstandighede.

———–

[In ’n nota op Maandag 17 Oktober om 09:26 noem ek dat ek glo dat “vrye wil nie heeltemal so vry [is] soos wat ons graag wil hê dit moet wees nie”. Nietemin, ons is gewoonlik bewus van die graad waartoe ons wel die vermoë het om te kan kies tussen twee of meer opsies. Indien ons moet erken dat ons die vermoë het, of gehad het, het ons nodig om ons keuses aan onsself te regverdig.]

______________________