Waardig om te bestaan – teleologie – redelike filosofie

DONDERDAG 12 MEI 2005

Ek het die afgelope … sê, twintig jaar of so in die gewoonte verval om te glo ek moet die heeltyd bewys dat ek, Brand Smit, waardig is om te bestaan, dat my geboorte nie ’n swak oordeelsfout was nie, dat ek moet bewys – voortdurend – dat ek inderdaad die bloed in my are waardig is. Wat ook al die rede hiervoor, dit gaan my dryf tot in ’n vroeë graf.

VRYDAG 13 MEI 2005

Born from incredible self-loathing, a conviction that you should prove the validity of your life.

SATERDAG 14 MEI 2005

10:06

Indien ’n volwassene (ouer, of onderwyser) nie streng is met ’n kind nie, gaan sy of haar aanmoediging en lof geen geloofwaardigheid hê nie.

* * *

Ek moet laat gaan. Ek moet aanvaar dat my lewe een of ander tyd gaan eindig, dat die wêreld sal voortgaan sonder my, amper … amper asof ek nooit hier was nie.

Sien die ware verhouding tussen dinge, en jou eie plek in die Groter Werklikheid.

Ek moet insien dat my lewe nie naastenby so waardevol is as wat ek graag reken nie. (Kan ’n suicide-of-sorts ingewerk word in hierdie begrip?)

10:51

’n Geval dus van erken dat jou grootste vrees tot ’n groot mate waar is? Daar’s ’n aangename element aan hierdie tipe aanvaarding …

SONDAG 15 MEI 2005

11:05

Al die begrip wat ek op hierdie oomblik bymekaar kan skraap oor die mens en sy bestaan, is die eindresultaat van waarneming en dataverwerking – ongeveer drie dekades daarvan, of meer as dit van dag een af getel word.

So dink ek toe vanoggend by die teestalletjie: Oorweeg die resultaat van 15 000-plus jaar se waarneming en die verwerking van biljoene mense se data. Sou dit God kon wees? Sou ons werklik so ’n “god” kon begryp? Sou ons so ’n bestaan in ons beperkte woordeskat kon beskryf?

20:18

“Aristotle came more and more to think of the universe as a vast complex of organisms each striving to attain the end assigned by Nature to it. […] The Aristotelian system is often described as ‘teleological’.” ~ Uit die inleiding tot Aristotles se Ethics

17/06/15:

“A teleology is an account of a given thing’s purpose. For example, a teleological explanation of why forks have prongs is that this design helps humans eat certain foods; stabbing food to help humans eat is what forks are for.

A purpose that is imposed by a human use, such as that of a fork, is called extrinsic. Natural teleology contends that natural entities have intrinsic purposes, irrespective of human use or opinion. For instance, Aristotle claimed that an acorn’s intrinsic telos is to become a fully grown oak tree.

Though ancient atomists rejected the notion of natural teleology, teleological accounts of non-personal or non-human nature were explored and often endorsed in ancient and medieval philosophies, but fell into disfavor during the modern era (1600-1900).

In the late 18th century, Immanuel Kant used the concept of telos as a regulative principle in his Critique of Judgment. Teleology was also fundamental to the speculative philosophy of Georg Wilhelm Friedrich Hegel.

Contemporary philosophers and scientists are still actively discussing whether teleological talk is useful or accurate in doing modern philosophy and science. For instance, in 2012, Thomas Nagel proposed a neo-Darwinian account of evolution that incorporates impersonal, natural teleological laws to explain the existence of life, consciousness, rationality, and objective value.”

Bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Teleology

MAANDAG 16 MEI 2005

13:51

Die Griekse filosowe, of dan spesifiek Aristoteles, het nie vanuit die staanspoor op gesag aanspraak gemaak op teologiese gronde, wat hulle veronderstel het almal, of dan die meerderheid, aanvaar nie. Hulle fondasie was een van rede, van ’n groep mense wat om ’n spreekwoordelike tafel sit en sê, “Laat ons ooreenkom dat ons intelligente wesens is, dat ons bewus is van ons bestaan, en dat ons in staat is tot goeie aksies, en ook in staat is tot die teenoorgestelde van goeie aksies. Laat ons voortgaan om te definieer wat ‘goed’ beteken, in die praktyk, en wat ‘sleg’ beteken, hoe ons eersgenoemde kan nastreef, en ook die redes hoekom dit beter is.”

In hierdie opsig is my eie beskeie pogings van die afgelope paar jaar nader aan die Griekse filosowe van meer as 23 eeue gelede, as aan moderne predikers en teoloë.

18:24

Is ek net nog ’n toevallige samesmelting van sperm- en eiersel wat sover 33 jaar en ’n paar maande oorleef het, en daagliks, saam met biljoene ander op die planeet, of miljoene ander op hierdie eiland, of duisende ander in hierdie stad, ’n stryd voer om kos, skuiling, ’n bietjie gemak en vermaak elke dan en wan – in kort, wat stry vir my plekkie in die son, OF … kan ek ’n bydrae maak tot ander mense se lewens, wat die waarde van my eie lewe sal transendeer verby hierdie tyd en hierdie plek?

[31/12/2015: Die antwoord op die eerste deel van die vraag is, ja. Die antwoord op die tweede deel: dit sal goed wees indien jy kan.]

* * *

“[William of Normandy’s] aim was simply to overcome insecurity and construct a strong basis of power and wealth; to achieve this end he pragmatically used any form or institution which he encountered and which he felt capable of molding to his will.”

Ook: “… exploitation of the lower orders by their predatory lords was the general rule.”

Bron: “William – From Bastard To Conqueror”, by Brent A. Riley and Joe Bageant, Military History, April 2002, Vol. 19 Issue 1

______________________

“Brand” se Woensdagklas – Rick Warren se boek

WOENSDAG 11 MEI 2005

09:25

“Now we know that animals get bored, and that they try to enrich their environment so that they don’t feel it.” ~ uit ’n program op Animal Planet

15:38

“Brand” het vanmiddag opgedaag by sy Woensdagklas, soos hy doen elke week. Hy’t vandag sy swart broek aangehad – want hy het gedink dit gaan reën, en ’n nat kol op sy agterent sou nie so prominent vertoon op die swart materiaal nie, en ’n grys T-hemp – want dit het nie knope nie, wat dit die maklikste item gemaak het waarmee hy sy bolyf kon bedek.

18:35

[Rick Warren is ’n “Evangeliese Christen” met konserwatiewe politieke en sosiale waardes. Ek het daai sosio-kulturele groep meer as twintig jaar gelede al verlaat. Maar beteken dit dat iemand soos hy nooit enige iets kan sê wat enige waarde kan hê vir ’n persoon met ignostiese* oortuigings en progressiewe politieke en sosiale waardes nie? Dit sal redelik kortsigtig wees, dan nie?

Soos duidelik blyk uit die volgende notas, haal die religieuse verwysings uit, en genoeg bly oor van heelwat stellings wat hy maak in sy boek, The Purpose Driven Church, om handige advies daaruit te kry.]

Rick Warren skryf in The Purpose Driven Church dat mense nie moet vra wat hulle kan doen om hulle kerke te laat groei nie, maar eerder watse struikelblokke groei inhibeer. ’n Goeie punt vir my eie lewe ook, veral vir doelwitte wat jare gelede al gestel is.

Ook: “For the past twenty years, I have been a student of […]. In my travels as […] I have visited hundreds of […] around the world. In each instance I made notes on why some […] and why others […]. I’ve talked to thousands of […] and interviewed hundreds of […] about what they’ve observed […]. Years ago I wrote to the one hundred largest […] and spent a year researching […]. I’ve read nearly every book in print on […].”

[Of of hy nou regtig met duisende mense gesels het oor X, Y of Z of nie, gee bogenoemde mens ’n idee van hoe navorsing behoort gedoen te word oor enige onderwerp rakende die menslike kondisie.

Dit gee ook bietjie insig in hoekom mense my soms met minagting hanteer as ek met hulle verskil oor godsdiens. Hulle dink dalk aan ’n boek soos Rick Warren s’n wat hulle gelees het, of besig is om te lees, en dan kyk hulle na my en dink: Wie de hel dink jy is jy? Op grond van wat dink jy jy weet beter as ek?]

“Everything seems new if you are ignorant of history.”

“I started [an institution] in 1980, and spend the next fifteen years testing, applying and refining the principles, processes and practices in this book. Like a research and development center, we’ve experimented with all kinds of approaches […]. [The institution] has served as a laboratory for everything written in this book […]. I’ve waited twenty years to write this book because I did not want to write it prematurely. Instead, I’ve let the concepts percolate and develop and mature. Nothing in this book is theory. […] What is needed are answers to real problems that have been proven effective in actual […] settings.”

“If I didn’t believe pastors have the best chance of making a difference in our world, I’d be doing something else; I have no intention of wasting my life. […] The key is to never stop learning.”

“My bookshelves contain more than a dozen books written by people I’ve trained who have put my ideas in print before I did. That doesn’t matter to me. We’re all on the same team.”

“‘Hasn’t enough been written yet?’ you may ask. ‘Why another book?’ What I hope to offer in this book is an insider’s perspective.”

“You’ve heard that it is ‘wise to learn from experience.’ But it is wiser yet to learn from the experience of others. It is less painful, too! Life is too short to learn everything by personal experience. You can save yourself a lot of time and energy by gleaming from others the lessons they’ve learned the hard way. That’s the purpose of books like this one.”

“I’ve learned that most can’t hear until they’ve first been heard.”

[Alle aanhalings uit The Purpose Driven Church, deur Rick Warren (1995)]

* [“Ignosticism or igtheism is the idea that every theological position assumes too much about the concept of God and other theological concepts. Some philosophers have seen ignosticism as a variation of agnosticism or atheism, whereas others have considered it to be distinct.” en.wikipedia.org/wiki/Ignosticism]

[Scott Adams het die volgende eers geskryf in 2014, maar dit sluit aan by die idee dat dit redelik kinderagtig is om te weier om ’n sekere boek te lees omdat jy nie jouself ag as deel van die skrywer se groep nie: “In recent years I’ve come to see religion as a valid user interface to reality. The so-called ‘truth’ of the universe is irrelevant because our tiny brains aren’t equipped to understand it anyway.”]

______________________

Twee mense – waarde vir ander – verlossingsplan

MAANDAG 9 MEI 2005

13:23

Twee mense spandeer tyd saam. Hulle raak toenemend gemaklik met mekaar. Hulle vertrou mekaar meer en meer – ook met hul eie vrese en tekortkominge. Hulle raak meer en meer afhanklik van mekaar vir geselskap, kameraadskap en ondersteuning. Hulle word maats, minnaars, sielsgenote – ’n universele verskynsel wat sny oor tyd, kultuur, historiese era, sosio-ekonomiese agtergrond, godsdiens en alle ander divisies tussen mense.

Dit is ’n proses wat gekoester moet word.

16:56

Besig om die woordeskatlys voor te lees aan die 16:30 tot 18:00 klas toe die woord “irrelevant” in my gedagtes opduik, soos in, “Ek is bang na al my pogings is my lewe in werklikheid irrelevant, met slegs waarde vir enkele ander mense …”

– a mundane life –

– a life of no significance –

[16/06/15: “slegs waarde vir enkele ander mense …” – so wat is die magiese nommer? 7? 53? 125? wanneer ’n mens se lewe waarde het vir hoeveel mense sal jy nie meer dink jou lewe is irrelevant nie? jy red een persoon van verdrinking – kyk jy rond om te sien of daar nie dalk nog mense is wat verdrink nie want een is te min? jy red een persoon van sieldodende armoede – nie goed genoeg nie? nie eens die moeite werd nie, sal jy dink?]

20:26

Die “verlossingplan” soos gepredik deur sogenaamde “Evangeliese Christene” rus op een beginsel: die identiteit van God, en die individuele “Christen” se bevestiging van hierdie gepredikte identiteit.

* * *

Die grense van vele mense se ambisies, en beskouing van die tipe lewe wat hulle kan leef, berus tot ’n groot mate op een ding: “Jy moet bly wees dat jy ten minste …”

____________________

Om iemand te bemin – mislukking – onafhanklike welstand

DONDERDAG 5 MEI 2005

[…]

So ry ek toe terug van die stasie af en dink aan die dinge wat ek van vanoggend af besef het. Vra ek myself toe: “Wil ek lief wees vir haar ten spyte van een of twee slegte gewoontes wat sy het?”

“Ja,” antwoord ek.

“Is dit omdat ek haar nodig het?” kom die volgende vraag.

“Ek kan nie ontken dat ek haar nodig het nie,” antwoord ek, “maar ek hou nie van wat die vraag impliseer nie.”

Links by die verkeerslig, honderd of so meter tot by die eerste verlate dorpshuisies: “Wil jy lief wees vir haar ter wille van jouself?”

“Nee,” antwoord ek beslis, en ek voel dadelik ’n briesie van welwillendheid oor my waai. “Ek wil vir haar lief wees ter wille van háár.”

Ek dis dit: suur saam met die soet, net soos sy moet vrede maak met my slegte gewoontes, en my obsessies, en my tekortkominge. Ek is, en wil lief wees vir haar ten spyte van watse gewoontes sy ook al mag hê – en ook nie net omdat hoe sy dit hanteer ’n veel belangriker manifestasie is van haar kernpersoonlikheid nie. Ek wil lief wees vir haar omdat sy, soos ek, behoort te weet hoe dit voel om bemin te word, en omdat ek nie wil hê dat sy ’n enkele dag sonder liefde moet leef nie, en omdat ek vir haar lief kán wees.

VRYDAG 6 MEI 2005

17:54

Snaakse ding is, daar’s altyd die moontlikheid vir mislukking.

“In wat?” mag jy vra.

Noem dit, en waar sukses die hoop is, is mislukking ’n moontlikheid.

Hoekom dink ek nou daaraan?

Weet nie. Vrydagmiddag, reën, somer kom nader, projekte wat nie klaarkom nie …

19:11

“Sou ek ses ure per dag kon Engelse klasse gee, geen projekte kon hê nie, lees en modelvliegtuigies bou as my enigste stokperdjies, en elke aand na werk by die huis kon kom en TV kyk – en lees en modelvliegtuigies bou?” was die vraag wat ek myself uit nuuskierigheid gevra het tussen 18:30 en 19:00. Ek het dit dalk ook gevra na aanleiding van die vorige notasie oor mislukking, en omdat ek ’n vermoede het dat ek nie sielkundig in staat is tot so ’n leefstyl nie.

My antwoord was, nee. So ’n lewe is my nie meer beskore nie. Ek moet ’n “rol speel”, ’n “doel dien” in die Groter Beskouing van Dinge. Die PUNT waarom my lewe draai moet waarde hê buite my eie klein wêreld, of die wêreld wat ek nou en hier sintuiglik ervaar. Ek het reeds te ver gestap om myself te verbeel ek het nie. Die afdraaie is lankal verby; die enigste pad is vorentoe.

Wat is hierdie lewe wat ek najaag? Dit gaan tot ’n groot mate oor twee dinge: tyd en geld – finansiële onafhanklikheid ten einde my eie tyd te kan besit, om in staat te wees om my tyd te kan aanwend tot sekere resultate, in ’n lewe wat draai om ’n sekere PUNT.

“Behoort jou tyd nie in elk geval altyd aan jou nie, al is dit net in beginsel?” wonder jy dalk.

Feit is, ek is nie in die bui om rond te fok met “in beginsel” nie. Vat byvoorbeeld die tyd waartydens ek hierdie nota maak: dit behoort nie aan my nie. Ek het dit reeds maande gelede aan [die eienaars van ’n taalskool] verkoop. Op ’n Vrydagaand tussen 19:00 en 20:30 is ek derhalwe nie vry om te doen wat ek wil nie … (19:30)

SATERDAG 7 MEI 2005

11:10

Om onafhanklike welstand te bewerkstellig deur entrepreneurskap en kreatiwiteit, ten einde (meeste van) my eie tyd te besit, om my daaglikse bestaan te kan toewy – te kan aanwend – tot die nastrewing van doelwitte wat sal strek tot die voordeel nie net van my eie lewe nie, maar ook tot die vervulling van die potensiaal van ander mense om doelgerigte, konstruktiewe, welwillende en gelukkige lewens te lei. Om sodoende my eie aardse bestaan te laat draai rondom hierdie sentrale PUNT.

11:20

Ek verstaan, en aanvaar dat nie almal wat doelgerigte, konstruktiewe lewens wil lei wat waarde sal genereer ook in ander se lewens, nodig het om “onafhanklike welstand te bewerkstellig … ten einde [hul] eie tyd te besit” nie.

______________________

Alles draai om die PUNT

DINSDAG 3 MEI 2005

Die een advertensie op CNN reken sommige mense “live inspired lives”. Ek hou van die idee, maar wat sou die teenoorstaande wees? Oftewel, watse naam kan mens gee aan ’n lewe wat nie soseer geïnspireerd is nie … en geïnspireerd deur wat? ’n Idee?

WOENSDAG 4 MEI 2005

15:41

Soms ontvou ’n mens se lewe op ’n wyse wat jou laat verstaan dat daar ’n PUNT is waarom jou lewe draai. Wat dan gebeur is dat alles wat jy doen, gesien kan word in terme van hoe ver hierdie aktiwiteit van die PUNT af is. Basiese higiëne en voedselinname onderhou byvoorbeeld die liggaam, wat noodsaaklik is vir jou om jou lewe (wat nie moontlik is sonder die liggaam nie) te laat draai om hierdie PUNT. So ook is dit met werk, of dan inkomste genererende arbeid, wat in die eerste plek gedoen word om kapitaal te verdien om jou lewe te onderhou. (Tensy jou werk die PUNT van jou lewe is, wat ’n saak is wat jy met jouself moet uitsorteer.) Nog ’n voorbeeld is my eie EFL-projekte. Ek kontempleer tans of ’n sekere reeks uit drie of vyf boeke moet bestaan, hoeveel prente daarin moet kom, of dit in kleur of swart-en-wit moet wees, hoeveel en watse tipe oefeninge ek moet insluit, wat die grootte van die boek moet wees, en so meer. Solank ek weet hierdie besluite wat ek moet maak, is steeds verwant aan die PUNT van my lewe (in hierdie geval in ’n sekondêre/onderhoudende/bevorderlike rol), kan ek voortgaan om dit te doen sonder om ’n eksistensiële krisis daaroor te ontwikkel.

17:02

Alles draai om die PUNT.

Die PUNT is nie ’n doelwit waarna jy streef en dan bereik nie – dis iets waarom jou lewe draai. Jy streef wel vir jare daarna om iets te bewerkstellig SODAT jou lewe om hierdie PUNT kan draai.

[27/01/15: Wat is “doel”, en wat is “punt”? ’n Doel is ’n rede hoekom jy iets doen (soos leef). Jy kan óf slaag daarin, óf misluk. ’n Punt is ’n spil waarom dinge draai. Hoekom draai dinge om daai spesifieke spil? Dalk omdat dit jou in staat stel om die doel van jou lewe na te streef. Dus: om die doel van jou lewe na te streef en te vervul, moet jou lewe om ’n bepaalde spil draai.]

[13/06/15: ’n Vrou sê, “Om my kinders gelukkig te hou en hulle goed groot te maak sodat hulle self eendag produktiewe lede van die gemeenskap kan wees en kan help om beskawing te onderhou, is die doel van my lewe … Nee, wag. Die vrou sê eintlik: “Die doel van my lewe is om ’n bydrae te lewer om van die wêreld ’n ordentlike plek te maak, vir myself, vir my kinders, vir al die ander mense wat ek liefhet, en vir almal met wie ons die wêreld deel. In ag genome dat ek dit sien as die doel van my bestaan, sien ek my primêre rol op hierdie stadium van my lewe om my kinders gelukkig te hou en hulle goed groot te maak sodat hulle self eendag produktiewe lede van die gemeenskap kan wees en kan help om beskawing te onderhou. Om dit te kan doen, om hierdie rol behoorlik te kan speel, moet my kinders die PUNT wees waarom my lewe tans draai.”]

______________________