Geloofwaardigheid – die omgewing en proses van die intieme verhouding

WOENSDAG 15 JUNIE 2005

’n Hele paar gedagtes staan in lyn vir ’n stukkie papier […] Ek kom agter dat ek ’n hang-up ontwikkel wat betref geloofwaardigheid. Ek kan honderde bladsye teks op die tafel neerlê wat ek sover geproduseer het, maar … tot nou toe is niks gepubliseer nie! […] Aag tog! Iets moet gedoen word!

Papier is papier; ink is ink; en soos ek hier sit in my grys onderbroek en grys T-hemp, op die rooi stoeltjie by die lessenaar in die kombuis met die blou waaier wat raas en die reën wat buite drup, is gevoelens, gevoelens. En soos dit is, slaag mens nie altyd daarin om in ’n nota aan jou latere self te probeer verduidelik, op papier, in ink, presies hoe jy gevoel het op daai oomblik nie.

So, wat ek voel is frustrasie … nee, ongeduld, want ek sien die wenstreep, of die bestemming waaroor ek vir jare al profeteer. Ek sien dit, want dit is naby. Die probleem is dat ek nie reguit soontoe hardloop nie. Ek skuifel-draf teen ’n halwe sentimeter per uur, van links na regs en regs na links, dan slaan ek bollemakiesie en stap eers terug na die begin voor ek besef ek moet omdraai, dan gly ek eers oor my eie broekspype, skuifel voort teen een sentimeter per uur vir twee ure, raak aan die slaap van verveling en verloor weer my spoor … en so karring ek aan.

Ek het nodig, ter wille van geloofwaardigheid, om te produseer, met amptelike verifikasie van sukses.

DONDERDAG 16 JUNIE 2005

Reën – al vir vyf dae aaneen, eindelose wasgoed, skottelgoed, geloofwaardigheid as ’n skrywer en entrepreneur, en ’n nuwe vraag: is ek ietwat verleë oor die effek wat ’n intieme verhouding op my het? Dit beïnvloed wat ek sê en hoe ek dit sê; dat, en waaroor ek soms apologeties is; en dit laat my verskyn aan iemand soos ek voorheen net aan myself verskyn het – bedoelende finansiële status, my status as ongepubliseerde skrywer, die werklikheid dat ek werk aan talle sogenaamde geld projekte … wat nog nie geld maak nie.

Nog ’n vraag (’n noodsaaklike een): voel ek so goed oor myself in ’n intieme verhouding soos wat ek gevoel het op my eie?

Soos ek besig was om die vraag neer te skryf, het ek besef dis gelaai met misverstand en ongesproke detail. Was ek altyd gelukkig op my eie? Het ek verwag dat ek in ’n verhouding te alle tye gelukkig sal wees? Die antwoord op beide is, nee.

Hier’s my advies aan myself: ’n Intieme verhouding is ’n omgewing waar jy weereens gekonfronteer word met jouself – ’n omgewing wat op kardinale wyses verskil van die een waarin jy op jou eie was. Dit bied aan jou ’n nuwe spieël waarin jy na jouself kyk. Dit is ’n omgewing waar konflik, beide groot en klein, ’n gereelde verskyning maak. ’n Verhouding is ook ’n proses waartydens jy jouself weereens moet definieer – wie jy is, wat jy is, waar jou plek in die wêreld is, wat jou ideale rol is, wat jou relatiewe waarde is as ’n mens (en as moontlike rolspeler), wat jou sterkpunte en jou swakhede is, wat die toekoms moontlik vir jou kan inhou, hoeveel geld jy nodig het om nie net te kan oorleef nie, maar om te wees wie jy wil wees en te doen wat jy wil doen.

Soos die omgewing van die Woestyn (selibaatheid en alleenheid), so ook is hierdie omgewing en die gepaardgaande proses beide konstruktief en destruktief, beide positief en negatief; soms lei dit tot ’n bewussyn van geluk, soms tot frustrasie; soms lei dit tot ’n afname in positiewe selfbeskouing en vertroue in jou potensiaal en vermoëns, soms bevestig dit jou bestaande positiewe selfbeskouing en vertroue in jou potensiaal en vermoëns, en soms is dit bevorderlik vir ’n versterking van laasgenoemde.

’n Intieme verhouding is ’n lewende omgewing, waar geduld, liefde en wedersydse aanvaarding sal lei tot vervulling van veel meer as net fisiese behoeftes. In die ideale situasie sal dit lei tot ’n ryker ervaring van menswees. Natuurlik sal ’n intieme verhouding ook soms lei tot pyn, teleurstelling en frustrasie. Dit is ’n omgewing waar eerlikheid en opregtheid hoog op die prys gestel moet word. Dit is ’n proses wat gekoester moet word, selfs al moet jy ook soms die minder aangename aspekte verduur wat deel sal wees van enige situasie waarin twee mense in gereelde en intieme gemeenskap verkeer.

SONDAG 26 JUNIE 2005

Sê ’n Christen karakter in ’n movie vir ’n ander ou, “Jesus will save us.”

Antwoord die ander ou met, “I don’t believe that.”

Slaan die Christen ou terug met, “Your beliefs have no bearing on the facts.”

MAANDAG 27 JUNIE 2005

01:22

’n Gekrap deur bokse, ou gemors, en stukkies papier wat A.W.O.L. gegaan het oor die jare lei my tot die hernude besef dat ek nie gister ontstaan het nie. Ek kom al ’n lang pad.

17:58

Hoe dink ’n mens? Mens praat in klanke, en lees visuele voorstellings van die klanke – maar hoe dink ’n mens? Wat is die woorde in jou kop?

______________________

Sekerheid – onsekerheid – wonderwerke

DONDERDAG 9 JUNIE 2005

13:43

Mense in ’n movie op TV vlug vir ’n reuse slang, en kruip weg agter ’n muur.

Moral of the story? As jy nie verskyn nie, is jou kanse op oorlewing soms beter.

16:25

Waar staan ek? Waar ek die afgelope paar jaar al staan – op pad na dieselfde bestemmings.

Waaroor wonder ek? Selfde as voorheen: Waar kom ons vandaan? Wat is ons? Is daar iets wat ons moet doen? Indien wel, wat?

VRYDAG 10 JUNIE 2005

10:18

Nie meer my Plekkie in die Son nie, maar my Stukkie van die Legkaart.

* * *

Daar is mense wat sal kyk na ’n omvattende verslag van hoe die mens funksioneer – al die sielkunde, al die keuses wat mens moet maak wat neerkom op jy wat jy is. Hulle sal daarna kyk en sê: “Fair enough. Maar vat gerus die verslag terug. Ek is ’n besigheidsman (of ’n kolonel in die weermag, of ’n Engelse onderwyser) – dis goed genoeg vir my. Ek het nie nodig om al daai ander slim goed te weet of te verstaan nie.” Of: “Ek verstaan hoe die brein werk, hoe die psige werk, maar ek is 100% toegewyd aan my rol, my funksie en my arbeid. Ek het nie meer as dit nodig nie.”

17:31

Sy is gespanne daaroor om huis toe te gaan. Sy sien uit daarna om haar familie te sien, maar jy weet hoe dit is met hierdie dinge – sy weet wie sy was in haar algemene gedrag, in haar houding jeens mense en dinge, wat sy besig was om te doen met haar lewe, en waarheen sy op pad was toe sy laas aan haar familie verskyn het. Dis nou ’n jaar later. Sy is steeds dieselfde mens … of is sy? Sy’t dinge gesien, dinge ervaar, verhoudings aangeknoop met mense wat haar familie nog nooit ontmoet het nie. Sy het dinge gedoen wat niemand in haar familie al gedoen het nie, en op plekke waar haar familie nog nooit was nie. Sy is gekonfronteer met vraagstukke, en met haarself, op wyses waarop sy nooit voorheen gekonfronteer is nie. Het hierdie dinge verander hoe sy oor haarself dink? Het hierdie ervaringe haar verander op maniere wat sal maak dat sy nie meer dieselfde persoon sal wees wat haar familie by verstek verwag nie? Sal sy effens ongemaklik voel tussen mense wat sy liefhet, en wat al haar hele lewe aan haar bekend is? Sal sy effens vervreemd voel van die omgewing waar sy drie weke lank sal vertoef?

Hierdie is vrae waaroor sy moontlik nie bewustelik wonder nie. Voel sy nietemin die onsekerheid? Ek glo so.

SONDAG 12 JUNIE 2005

Ek sit in die sitkamer en kyk Proof of Life. [N.] slaap nog ’n bietjie. Ek moet myself inhou om haar nie te gaan pla nie – om met haar te gesels, om te begin om nog ’n dag met haar te spandeer. Ons het gisteraand vir mekaar stories vertel van ons jeug – eerste soene, trekkery, vriende, my skandes op Stellenbosch [eerste paar maande wat ek ’n kamer “gehuur” het by ’n gesin in hulle huis maar nie die huur kon betaal nie, en so aan]. Soms moet ek myself daaraan herinner (en ek word daaraan herinner as ek deur my notaboeke lees) dat daar ’n tyd in my lewe was – so onlangs as ’n jaar gelede, wat ek gedink het ek gaan op my eie wees tot ek … veel ouer is. Tensy, so’t ek gereken, ’n wonderwerk gebeur.

______________________

Huishoudelike items – eie belangrikheid

MAANDAG 6 JUNIE 2005

18:57

Identiteit word uitgedruk in die taal, klere en meublement van die tyd en omgewing waarin ons bestaan gevoer word: my antwoord op die vraag, “Is dit wie ek deesdae is?” na ek in ’n Working House ietwat verleë gevoel het oor die idee dat sekere huishoudelike items goed sal lyk in my woonstel.

[Laat mens weereens dink: Wie sou jy wees as jy gebore was in, sê, Moskou? Of, wie sou jy wees as jy gebore was in Parys, in 1871? Of, wie sou jy wees as jy gebore was in 1771 as die agtste kind van ’n arm kleinboer wie se familie ’n bestaan probeer maak op ’n stukkie grond buite Bratislava?]

20:20

Aan die einde kom en gaan 99.9% van die mense op aarde, en dra óf by tot die handhawing en groei van Beskawing, óf dra by tot die vernietiging daarvan. Van slegs 0.01% van mense en dalk selfs minder sal daar in terugskouing gesê kan word dat hulle buitengewoon was, verhewe bo meeste van hul tydgenote, selfs dat hulle “bestem” was vir belangrike rolle.

21:01

Dit wat sy GEGEE is, manifesteer krag. Dit wat sy sover GEKIES het, manifesteer karakter.

22:20

Almal wil weet dat hulle belangrik is. Die gedagte dat jy vir niemand – geen mens of dier – van enige belang is nie, is vir meeste mense te veel om te verduur. Hoe bevestig mense hul waarde? Hoe maak hulle op daarvoor as hulle van mening is dat hulle waarde onbeduidend is?

WOENSDAG 8 JUNIE 2005

Ander mense het ander stories, ander pyne en skete, en het ander lyding ondergaan. Hulle ag hul eie stories as waardevol en as geldige dele van die Groot Legkaart.

So ook het ek my eie stories, my eie pyne en onsekerhede, en het ek ook my eie moeilike tye deurgemaak. Soos die ander mense se stories, is my eie stories ook geldige en unieke stukkies van die Legkaart.

Siende dat elkeen se stories geldig is en waarde het vir hulle, is dit onsinnig om ander mense se stories te vergelyk met jou eie, en dan die waarde en geldigheid van iemand anders se stories te bevraagteken.

Hoekom het mense in elk geval hierdie begeerte om dit te doen? Is dit omdat hulle onseker is oor die geldigheid en die waarde van hul eie lewens? Reken hulle dat hulle meer oortuig sal wees van die belangrikheid, die geldigheid, die waarde van hulle lewens as hulle die geldigheid en die waarde van ander mense se lewens bevraagteken? (En hoe gereeld maak ek myself skuldig aan hierdie onsinnige gedrag?)

______________________

Waarde in die Groter Beskouing

WOENSDAG 1 JUNIE 2005

15:41

Die feodale orde en die georganiseerde samelewings wat gevolg het op die feodale orde is goeie illustrasies van hoe mens gebore word met sekere gegewens – nooit in sement geanker nie, maar waarvolgens mense nietemin hul lewens slyt.

So ook is dit vandag. Tensy jy gebore word met uitstekende – inderdaad, voortreflike – afkoms en ander gegewens in terme van posisie, welvaart en voorgeskrewe rol en funksie – val jy in die groep waarin meeste mense hulself bevind: waar jou posisie asook jou waarde vir alle praktiese doeleindes by verstek neerkom op fokkol in die Groter Beskouing van Dinge, of Slegs van Waarde vir Vriende en Familie.

Dit kom dus daarop neer dat, teen die tyd wat jy ’n funksionerende volwassene is, jy in een van drie groepe sorteer: a) Fokkol in die Groter Beskouing van Dinge, Slegs van Waarde vir Vriende en Familie; b) rol, funksie en waarde wat verder strek as jou Kring van Vriende en Familie; c) Fokkol in die Groter Beskouing van Dinge, en van Geen Waarde vir Enige Lewende Wese. (Trein arriveer. Die punt: as dit nie gegee is nie, maak dit ’n werklikheid.)

16:08

Stelling: Sommige mense se lewens het slegs waarde vir vriende en familie, en per toeval moontlik ook vir enkeles buite hierdie kring. (Kom ons noem dit vir die oomblik Tipe A.)

Stelling: Sommige mense se lewens het waarde vir vriende en familie, en deur eie wil ook vir enkeles buite hierdie kring. (Tipe B)

Stelling: Sommige mense se lewens het waarde vir vriende en familie, en deur eie wil ook vir mense wat hulle nooit persoonlik sal ontmoet nie, op plekke wat nooit deur die persoon besoek sal word nie. Sy of haar waarde oortref dus die tyd en plek waar sy of haar bestaan gevoer word. (Tipe C)

Stelling: Sommige mense se lewens het waarde vir vriende en familie, asook deur eie wil vir mense wat hulle nooit persoonlik sal ontmoet nie, op plekke wat hulle nooit sal besoek nie; hierdie individue se name sal opgeteken word in die amptelike politieke geskiedenis van ’n nasie. (Tipe D)

Stelling: Selfde as Tipe D, maar grootliks vanweë gegewe faktore eerder as eie wil, byvoorbeeld die kroonprins van die Britse koningshuis. (Tipe E)

Nota: Sommige Tipes A aanvaar hulle redelik beperkte waarde. Ander murmureer, maar doen nooit iets om dit te verander nie (kan dus genoem word, onderskeidelik Tipe A en Tipe A2).

Stelling: Sommige mense se lewens het geen waarde vir vriende en familie nie (moontlik vanweë die afwesigheid van die persoon in familie en voormalige vriende se lewens, en/of die afwesigheid van vriende en familie in die persoon se lewe), en het ook geen waarde vir enige ander mens of dier nie. (Tipe A2)

VRYDAG 3 JUNIE 2005

01:45

Ek skryf te min dat sy wonderlik is, dat my lewe sonder haar vaal was, en dat ’n lewe sonder haar wetende dat sy bestaan, ondenkbaar is. […] Ek hoop inderdaad dat sy die einde is van ’n baie lang pad, en die begin van een wat nog veel langer gaan wees.

19:10

[…]

Wonder ek tog:

Moet die lewe geniet word,

of moet die lewe produktief benut word om resultate te bewerkstellig,

of moet die lewe aangewend word tot die verwesenliking van ’n doel wat gegewe tyd en plek transendeer?

Of al drie, miskien?

19:25

Jong Taiwannese bendelede is van die mees konserwatiewe lede van die gemeenskap. Hulle is gehoorsaam aan hul base; hulle doen wat vir hulle gesê word; hulle bevraagteken niks, en hulle dra gedienstig elke dag dieselfde uniforms.

[Bogenoemde is my observasie. Ek het nog nooit tyd spandeer in ’n Taiwannese kriminele sindikaat of organisasie nie, so ek sal nie weet hoeveel jong lede inderdaad rebelleer teen die ouer garde nie, hoe gereeld bevele verontagsaam word, en hoe gereeld planne bevraagteken word nie. Oor die uniforms is ek wel redelik seker.]

______________________

Nie ’n storieverteller – vooruitgang – sterflik/onsterflik

WOENSDAG 25 MEI 2005

12:46

’n Belangrike brokkie inligting oor my-as-skrywer: ek is nie werklik ’n storieverteller nie; ek is ’n puntmaker, ’n waarnemer, ’n kritikus, en een wat voorstelle maak.

[19/06/15: Nie dat dit noodwendig belangrik is nie, maar storievertellers is gewoonlik populêre gaste en word oor die algemeen beskou as goeie mense om mee tyd te spandeer. Puntmakers, aan die ander kant, irriteer baie mense; waarnemers word met agterdog bejeën (“Wat sien die ou as hy na my kyk?”); kritici word gereeld geïgnoreer of soos die spreekwoordelike vlieg met ’n hand weggewaai; en voorstelmakers se voorstelle word gereeld verwerp as onwelkom of ongevraagd.]

15:44

Twee tipes mense:

Tipe een: “Ek is 25 (of 35) jaar oud. Ek het ’n lewe vir myself bewerkstellig waarmee ek tevrede is, en op ’n plek waarvan ek hou. Ek wil hierdie lewe handhaaf, op hierdie plek. Ek wil sekerlik nie agteruitgaan nie, maar as dinge nie vreeslik verander of verbeter nie, dan’s dit goed so. Ek is op ’n goeie plek.”

Tipe twee: “Ek is 25 (of 35) jaar oud. Ek het sover ’n lewe bewerkstellig wat goed is, maar ek is oortuig dat dit binne my bereik is om ’n beter lewe te voer – een wat volhoubaar is, en nie ruik na gierigheid of oordadigheid nie. Ek is bewus daarvan dat daar mense is op hierdie planeet wat droom van die lewe wat ek tans my eie noem. Ek glo egter dat indien dit binne hierdie mense se bereik was om ook ’n lewe te bewerkstellig wat beter is as my huidige lewe, ook húlle nie sou stop waar ek nou is nie. Ek glo in volhoubaarheid. Ek haat gierigheid. En ek glo as iets beter binne jou bereik is, jy jouself moet inspan om dit te realiseer.”

21:14

Ek reken die mens … of voordat ek vasval in definisies van wat “mens” beteken, laat ek konkreet wees: Ek bestaan uit twee dele. Die een deel is sterflik, en bestaan op sy beurt uit liggaam, bewussyn, persoonlikheid en identiteit (gegewe en/of self-gedefinieer). Die ander deel is onsterflik. Omdat ek oor ’n beperkte woordeskat beskik, sal ek laasgenoemde “siel” noem. Hierdie twee dele is inmekaar geweef vir die duur van my aardse bestaan.

Wat die doel van hierdie kombinasie is, weet ek nie. Hoe die kombinasie ontstaan het, weet ek ook nie (behalwe vir die biologiese deel).

EK is albei dele, en tog, indien my liggaam ophou funksioneer, en my bewussyn vernietig word, hou EK op om te bestaan – al bestaan die ander deel van my steeds.

My aardse lewe, die keuses wat ek maak en die resultate wat ek bewerkstellig van my lewe, het ’n dramatiese impak op my onsterflike deel – nog ’n illustrasie van hoe nóú die twee dele gekoppel is.

Die verbintenis van die twee dele is inderdaad iets wat ontdek moet word – hierdie ontdekking kan selfs as ’n doel opsig self beskou word.

Wat is die verskil tussen hierdie oortuiging en die Christelike weergawe (beïnvloed deur die pre-Christelike filosoof, Plato)? Die Christen glo dat die liggaam sterflik is, en die gees (of siel, self, bewussyn, persoonlikheid, “innerlike wese”) onsterflik. Ek deel die “gees” of “innerlike deel” op in twee – sterflik en onsterflik.

Ek sal voortaan na bogenoemde verwys as die 25 Mei 2005 Deklarasie van Geloof.

DONDERDAG 26 MEI 2005

Wat ek dus sê is dat die “innerlike” bestaan uit twee dele: sterflike bewussyn en tyd en omgewing spesifieke identiteit, en onsterflike X (soms genoem “gees” of “siel”).

In my opinie is dit ’n radikale vertrek van Christelike dogma.

Sal ’n Christen, wat oor dogmatiese kennis en begrip beskik, vir my sê: “Dit is nie wat ons as Christene glo nie.”

Sal ek antwoord: “Jesus was nie ’n filosoof nie. As dit vir hom belangrik was dat mense hierdie filosofiese onderbou reg moes verstaan, sou hy sy dissipels deeglike onderrig gegee het daarin. Dan het hy miskien minder gepreek oor liefde en barmhartigheid, en meer tyd gespandeer om seker te maak almal het die korrekte filosofiese begrip. As Jesus dan nie filosofie gepredik het nie, wie het? Hoekom is Christene so oortuig van die sterflike liggaam en die onsterflike siel? Het dit dalk te make met die Kerkvaders, wat voorspoedig genoeg was om geskool te wees in Griekse filosofie?”

Sal my gespreksgenoot noem: “Miskien was dit so bestem. Miskien was dit die Kerkvaders met hul sterk filosofiese agtergrond se vooraf beskikte rol om dit te verduidelik wat Christus – ’n timmerman met visserman dissipels – nie verduidelik het nie.”

Antwoord: “Miskien. Of miskien het dit te make met die Eerste Konsilie van Nicea in die vierde eeu waartydens Konstantyn ongeduldig geraak het en die beraadgangers gedruk het vir konklusies wat betref dogma wat ter tafel gelê was? Miskien was dit ook deel van die vooraf beskikte plan. Of miskien is my begrip nader aan die waarheid? Wat is die werklike waarde van die verskil?”

___________

Westerse en Oosterse Christendom het elk vier figure wat beskou word as die Groot Kerkvaders – oor die algemeen invloedryke Christelike teoloë, van wie verskeie vooraanstaande leermeesters en belangrike kerkleiers was.

Westerse Kerk:

Ambrosius (340-397): opgevoed in Rome, bestudeer literatuur, die reg, en retoriek

Hiëronymus (347-420): bestudeer retoriek, filosofie, Latyn en Grieks

Augustinus (354-430): ontwikkel sy eie benadering tot filosofie en teologie deur gebruik te maak van ’n verskeidenheid van metodes en perspektiewe; help om die leer van die erfsonde te formuleer

Gregorius die Grote (540-604): soos die meeste jong mans van sy status in die Romeinse samelewing was Gregory goed opgevoed; hy leer grammatika, die wetenskappe, literatuur, en die wet

Oosterse Kerk:

Basilius die Grote (c. 329–379): invloedryke teoloog wat die Niceense Geloofsbelydenis ondersteun het en sterk gekant was teen die dwalings van die vroeë Christelike kerk. Sy vermoë om sy teologiese oortuigings te balanseer met sy politieke konneksies het gemaak dat Basilius ’n kragtige advokaat was vir die Niceense posisie.

Athanasius (c. 296–373): Athanasius se vroegste werk, Teen die Heiden – Oor die Menswording (geskrewe voor 319), vertoon spore van Origynse Aleksandrynse denke (soos die herhaaldelike aanhalings van Plato en die gebruik van ’n definisie uit Aristoteles se Organon). Athanasius was ook bekend met die teorieë van verskeie filosofiese skole, en in die besonder met die ontwikkeling van Neo-Platonisme.

Gregorius van Nazianze (329 – c. 389): As ’n klassiek opgeleide redenaar en filosoof werk hy Hellenisme in die vroeë kerk in. Gregorius het ’n beduidende impak gemaak op die vorm van Drie-eenheid teologie onder beide Grieks- en Latynsprekende teoloë.

Johannes Chrysostomos (347–407): Johannes het sy opvoeding begin onder die heidense leermeester Libanius, onder wie hy die vaardighede ontwikkel het vir ’n loopbaan in retoriek, sowel as ’n affiniteit vir die Griekse taal en letterkunde. Hy is bekend vir sy preke oor moraliteit en sy veroordeling van die misbruik van gesag.

Vir meer inligting:

https://en.wikipedia.org/wiki/Church_Fathers

https://en.wikipedia.org/wiki/First_Council_of_Nicaea

VRYDAG 27 MEI 2005

Die Partikulêre Ek

en

die Universele X

______________________