Die tyd loop uit

MAANDAG 7 FEBRUARIE 2011

Ek sien vanaand die nuus dat Gary Moore gister oorlede is.

Vanmiddag, terwyl ek die video gekyk het van die Traveling Wilburys se “End Of The Line”, het ek twee besluite gemaak:

1. Ek het ’n vennoot nodig. Ekstra kapitaal sal handig wees, maar dis meer vir die kritiese stem wat nie beïndruk sal wees met nog ’n “fantastiese” idee nie. “Oortuig my,” het ek nodig om te hoor.

2. Ek is amper veertig. Ek reken ek het vyf jaar op die meeste om iets te doen met die skryfwerk wat ek geproduseer het in my twintigs en dertigs. Indien ek werk maak daarvan, kan my diens as skrywer van min of meer eiesoortige materiaal voortgaan. Indien ek aankarring met my skryfwerk op dieselfde trant as die laaste vyf jaar – met elke nou en dan ’n beweging in die regte rigting net om weer momentum te verloor … kan ek maar vergeet. Dit sal oor en verby wees.

Gary Moore is gister oorlede. Maar soos ek luister na sy meesterstuk, “The Messiah Will Come Again”, besef ek: hy het musiek gemaak, en sy musiek is sy nalatenskap.

[Elf dae later, op 18 Februarie 2011, is een van my gunsteling Afrikaanse sangers, Lucas Maree, ook oorlede. Dit het die belangrikheid van die gedagtes van 7 Februarie 2011 bevestig: As jy iets het om te sê, as jy reken jy het iets om by te dra, moenie uitstel nie.]

______________________

Hoop op ’n beter inkomstestelsel, en ’n paar ander dinge

WOENSDAG 2 FEBRUARIE 2011

Die gemiddelde buitelandse Engelse onderwyser in Taiwan se inkomstestelsel het vier nadele:

1. Die werk is vervelig en herhalend.

2. Hulle werk vir mense wat soms slegte besluite maak wat hulle werk bemoeilik, en hulle kan nie veel daaraan doen nie.

3. Hulle inkomstestelsel is gekoppel aan spesifieke plekke, wat beteken hulle moet elke dag enige iets tussen dertig minute en twee ure op die pad spandeer, heel waarskynlik op ’n bromponie, en soms in drukkende hitte en/of swaar moesonreëns.

4. Die inkomstestelsel is nie volhoubaar nie – in vele gevalle kan hulle nie steeds hierdie werk doen in tien of vyftien jaar se tyd nie, en daar is nie veel geleentheid vir beroepsontwikkeling nie.

Dit gesê, beny ek soms onderwysers met ’n redelike vol skedule hulle inkomstestelsel, as gevolg van een voordeel: hulle moet ’n stel reëls volg elke dag van die week, Maandag tot Vrydag, en die eindresultaat is ongeveer NT$3 000 [ongeveer US$100] per dag. Drie duisend nuwe Taiwan dollar. Per dag. Vyf dae per week.

DONDERDAG 3 FEBRUARIE 2011

Ek hoop om minder entoesiasties te raak daaroor om standpunt in te neem sonder dat ek behoorlik oor iets gedink het, of genoeg feite onder oë gehad het; ook om sonder versuim ander te wil inlig hoekom ek dink iemand is verkeerd, en hoekom ek reg is.

Ek hoop om toenemend ’n beter luisteraar te word, want selfs wanneer iemand verkeerd is oor een ding, kan hulle steeds ’n paar geldige punte maak oor iets anders. En selfs al is iemand in jou opinie verkeerd, kom hulle argument steeds van êrens af, en dit is altyd beter om begrip te ontwikkel vir die oorsprong van ’n ander persoon se oortuigings, as om dit nie te verstaan nie.

______________________

Ek doen my eie ding, nie seker of ek gaan oorleef nie

WOENSDAG 8 DESEMBER 2010

1. Baie mense klou vir al wat hulle werd is aan hul besoldigde posisies, en hoop op godsgenade as hulle die posisie verloor.

2. Vat enige besigheid met, sê vyf werknemers – insluitende die bestuurder, en dank almal af behalwe die bestuurder. Vat dan 90% van die besigheid se bedryfskapitaal weg, en verduidelik vir die bestuurder dat hy maar net sal moet klaarkom daarsonder. Dan sê jy vir hom, “Doen jou bes. Ek is seker daarvan jy sal oukei wees.”

DINSDAG 14 DESEMBER 2010

“I was once free. Now at least I have money.” ~ uit ’n dagdroom

DONDERDAG 13 JANUARIE 2011

Ek sal nie graag ’n poster teen my kombuismuur wil opsit wat sê, “Death to all new ideas!” nie, maar kom ons sê maar net dit sal beter wees, veral oor die volgende paar maande, om byvoorbeeld eerder iets te produseer om te verkoop, as om nog notas te maak oor hóé om iets te produseer om te verkoop.

VRYDAG 14 JANUARIE 2011

Ek hoop om oor die volgende ses maande ’n ordentlike bedrag geld in te samel met ’n skedule wat iets lyk soos volg: tien ure per dag, vier dae per week; of tien ure per dag, vyf dae per week, drie weke per maand; of vyf ure per dag, ses dae per week.

Een ding is seker: Ek sal nie weer die fout begaan om my daaglikse bestaan te laat draai om pogings om meer geld te maak nie.

VRYDAG 21 JANUARIE 2011

Ricky Gervais sê vanoggend ’n interessante ding vir Piers Morgan op CNN: “Do your own thing, and see if you survive.”

______________________

Om nie meer te leef soos ’n voortvlugtige nie

MAANDAG 17 JANUARIE 2011

Ek leef soos ’n persoon wat ontsnap het uit ’n plek en nou wegkruip.

– Ek het ’n werkspermit, toegeken op voorwaarde dat ek ten minste elf ure per week werk by ’n spesifieke skool. In werklikheid werk ek net drie ure per week by die skool.

– Ek het nie ’n bestuurderslisensie nie, hoewel ek gereeld met ’n scooter ry, waarvoor ek ’n lisensie nodig het.

– Ek het nie ’n National Health Insurance kaart nie – die enigste wettige inwoner van Taiwan waarvan ek weet wat nie een het nie. Wat beteken ek moet altyd verduidelik hoekom ek net ’n residence card het as ek na ’n dokter of tandarts toe gaan.

– Ek huur al vir sewe jaar lank ’n woonstel, maar ek het nog nooit enige huurkontrak geteken nie. Ek weet nie eens hoe die eienaar van die woonstel lyk nie.

– Ek woon nie meer in die woonstel nie. Ek gebruik dit as kantoor en stoorplek.

– My telefoonrekening is in die naam van ene “Ma-li-ou Ma-ka-ne” – die gesinifiseerde naam van ’n Suid-Afrikaanse vriend van my wat reeds vyf jaar gelede Taiwan verlaat het.

– Die residensiële adres op my Taiwannese ID kaart dui aan dat ek in die skool woon waar ek werk. Uit die aard van die saak woon ek nie daar nie.

’n Paar jaar gelede het ek gepraat daarvan om myself te rehabiliteer vir ’n lewe in die sosio-ekonomiese middelklas. Voordat ek by daai fase uitkom, kan ek dink aan ’n hele paar voordele wat ek sal geniet as ek ten minste nie meer leef soos iemand wat skynbaar bang is om dinge reg te doen nie.

______________________

Die opkoms van die Nuwe Middeleeue

WOENSDAG 17 NOVEMBER 2010

’n Gedagte het ’n tydjie gelede al by my opgekom – tot ’n mate geïnspireer deur Michael Moore se dokumentêre film, Capitalism. Die gedagte handel oor die opkoms van ’n nuwe aristokrasie, die toenemende verval van middelklas sosio-ekonomiese stabiliteit, en meer en meer voormalige middelklasmense wie se lewens, vanuit ’n sekere perspektief beskou, ooreenstem met dié van pagters in die Middeleeue.

Waar staan ek in hierdie wêreld?

Daar was ’n tyd toe ek geïdentifiseer het met die werkersklas – of dan ten minste my idee van die werkersklas. Daar was ook ’n tyd toe ek bereid was om “vrede te maak” met die middelklas. Nou sê ek, “Don’t get caught on the wrong side of the line.”

Ek het die laaste paar jaar ’n ding of twee geleer van hoe jou agtergrond en jou opvoeding jou verhouding met geld beïnvloed, hoe dit beïnvloed hoe jy “werk” sien, en uiteindelik hoe dit bepaal waar jy opeindig in die wêreld. Ek het ook geleer hoe moeilik dit is om sekere dinge te ont-leer, en om jou houding teenoor werk en geld te verander.

Nietemin, ek glo in my eie vermoë om my lewe te verbeter. Ek glo verder dat enige mens sy of haar lewe kan verbeter as hulle glo hulle kan, en bereid is om die nodige veranderinge te maak. Laastens, ’n pagter wil ek nie wees nie. En wat die middelklas betref, glo ek nie die droom is meer wat dit was ’n paar dekades gelede nie.

* * *

Praktiese implikasie van bogenoemde teks: Leer hoe om ’n halfdosyn of meer bronne van inkomste op te bou en te handhaaf. Werk vir jou eie “maatskappy”. Verkoop slegs jou tyd op kontrakbasis as jy reeds ander bronne van inkomste het, en jy steeds in werklikheid vir jouself werk – wat in werklike terme beteken hoe minder afhanklik jy is van die persoon wat jou betaal, en hoe minder van jou tyd gekoppel is aan sy of haar profyt, en hoe minder onderhewig jy is aan hierdie persoon of persone se toestemming en/of goedkeuring van hoe jy jou tyd gebruik, hoe beter.

______________________