Om voortdurend te leer wat jy verkeerd doen

VRYDAG 29 APRIL 2011

’n Internet bemarker wie se advies ek so nou en dan oorweeg, skryf in die artikel, “Sheena was a man”*, hoekom meeste mense wat probeer “Internet market”, misluk. Ek het geweet ek is die teikengehoor vir wie die stuk geskryf is.

Sy verwys ook na Merlin Mann se uitstekende artikel, “Cranking”, en ’n goeie artikel van Ed Dale getiteld, “Burn The Ships and Hail Mary’s”*.

Na ’n paar minute kom ek toe tot die insig dat wat ék besig is om te doen met my reeks kommersiële projekte wat veronderstel is om ’n inkomste te genereer, is ook om te crank – soos Merlin Mann se ma wat sy pa se hospitaalbed voortdurend probeer crank het in ’n vergeefse poging om hom ’n klein bietjie gemakliker te maak. Ek leer voortdurend, misluk voortdurend, moet myself voortdurend motiveer om voort te gaan, val voortdurend plat, moet myself voortdurend aan die kraag regop trek, en myself voortdurend aanpor.

Goed en wel, ek weet hoekom. Ek moet geld maak, want dis hoogs onregverdig om te verwag dat my maat meeste van die geld moet inbring in ons huishouding, dat sy meeste van die bekommernisse oor geld moet dra, dat sy dag na dag na ’n besigheid toe moet ry om ’n werk te doen waarvoor sy lankal lus verloor het. Ek moet geld maak, vir myself, vir ’n beter lewe, en om te verseker dat die vrou wat ek liefhet, nie suffer ter wille van my nie.

Tog, ek kan weereens nie anders as om die groot verskil te sien tussen wat ek noem “besigheid”, en my skryfprojekte nie. Met laasgenoemde is dit soos om in ’n kar te klim wat soms maande lank onder ’n boom staan en stof vergader. Ek sal die duiwe verjaag wat nes gemaak het op die dak, die hond uit die bestuurdersitplek lig, die sleutel draai … en ’n sekonde later trek die kar weg met die entoesiasme en vuur van ’n opgewarmde sportsmotor uit die sewentigs. Ek het geen praatjies nodig om myself te motiveer nie. Ek het nie nodig om goeie artikels te lees oor wat ek verkeerd doen, en wat ek moet doen om weer op die regte pad te kom nie. Ek het nie nodig om enige iets op te crank nie.

Ek tweak voortdurend aan my materiaal; ek crank nooit. Ek mors min tyd met my skryfprojekte. Ek weet waarheen ek op pad is. Ek sien die eindresultaat in my geestesoog. Ek jaag dit na. Ek raak nie onseker van wat ek moet doen nie. Ek raak nie die pad byster nie.

Maar die realiteit is dat ek moet geld maak. Ek moet geld maak nie vir status of luuksheid nie, maar om beter na myself te kan omsien. Ek moet geld maak om beter bystand te kan verleen aan my maat in háár poging om vir haarself ’n beter lewe te bewerkstellig.

Omdat ek geld moet maak vir die regte redes, is ek verplig om maar soms te leer wat ek verkeerd doen, en moet ek maar voortdurend verbeteringe aanbring.

Die hoop, aan die einde van die dag, is dat ek nie net kosmetiese veranderinge aanbring aan wat op tye lyk soos ’n redelik hopelose situasie nie.

———–

* Hierdie artikels is nie meer aanlyn beskikbaar nie.

______________________

As jy nie vervelige werk wil doen nie, moet jy slim wees

VRYDAG 8 APRIL 2011

Ek hou beslis van geld. En dit kan beslis gesê word dat ek dit haat om nie geld te hê nie.

Verskeie dinge wat ek geleer het oor geldmaak het ook al gewerk presies soos dit op die spreekwoordelike boks sê. Ek kan dus sê dat ek weet hoe om ten minste ’n bietjie geld te maak.

Maar dis amper asof dit daar stop. Geld het uitgekom nadat ek ’n knoppie gedruk het. Dan maak dit tog sin om weer die knoppie te druk, dan nie? (By wyse van spreke.)

Wat egter gebeur, is fassinerend. En frustrerend. Ek sal iets mompel – wat neerkom op knoppies druk, en dalk ’n paar ander los gedagtes. Dan sal ek lusteloos weer druk na die knoppie – dieselfde een wat ’n dag of ’n week gelede geld geproduseer het.

En dan is dit amper – kan dit waar wees?! – asof ek belangstelling verloor.

Ek hou tog van geld! En dit kan sekerlik gesê word dat ek dit haat om nie geld te hê nie.

Werksetiek is ook nie ’n probleem nie. As ek moet werk aan ’n skryfprojek, kan ek so produktief wees soos ’n hele kantoor vol mense. Ek sal sewe dae per week daaraan werk, van kort na ek my ontbyt afgesluk het, tot voor bedtyd. Dis ’n natuurlike proses. Ek hoef nie myself te motiveer, of op te psyche nie.

Is dissipline die probleem? En is “dissipline” ’n kodewoord vir, “Jy móét kan werk aan dinge wat vervelig is”?

Dan moet ek dit aanvaar: Jy moet óf kan werk aan dinge wat vervelig is, óf jy moet arm bly. Of jy moet ander mense betaal om meeste van die vervelige werk te doen, en jouself toespits op, onder andere, die kwaliteit van die eindproduk.

In kort, as jy nie vervelige werk wil doen nie, moet jy slim wees.

______________________

Die beste ding wat met ’n kultuur kan gebeur

SONDAG 20 MAART 2011

Stel jouself voor ’n Taiwannees-Afrikaanse skrywer.

Stel jouself voor honderde Zoeloe skrywers wat hulle werklikheidservaring en hulle stories uitdruk in Afrikaans.

Hoe sou ’n Brasiliaanse skrywer se essays lees wat nie vertaal is in Afrikaans nie, maar wat oorspronklik geskryf is in Afrikaans, met die agtergrond van beide Afrikaanse en Brasiliaanse kultuur? Of ’n Russies-Afrikaanse skrywer se stories. Of ’n Filippyns-Afrikaanse digter se gedigte.

Hoe sou die kortverhale lyk van ’n Afrikaanse skrywer wat grootgeword het in Afghanistan, of in die suide van Indië, of in Sri Lanka?

Afrikaanse romanskrywers uit Lagos, Kinshasa, Istanboel, of Buenos Aires?

Wat van Afrikaans-Viëtnamese filmregisseurs, beeldhouers, grafiese kunstenaars?

Afrikaans-Japannese strokiesprentkunstenaars?

Afrikaanse skilders uit Chicago of Hyderabad of Fidji of Hong Kong of Riyadh?

______________________

Ek besluit die doel van my bestaan

DINSDAG 1 MAART 2011

Ek kyk na ’n stortkop, en ek sien iets wat se bestaan ’n doel dien. Ek weet ook dit is iets wat ontwerp is met ’n bepaalde doel in gedagte, en vervaardig is om hierdie doel te dien.

Sommige mense glo dit is logies om af te lei as daar ’n doel aan jou bestaan is, dat jy – jy spesifiek – deur ’n Onsigbare Mag ontwerp en vervaardig is met sekere spesifikasies om hierdie doel te dien.

Dit sal oneerlik van my wees om te laat blyk dat ek ook so glo.

Waar laat dit my? Een moontlikheid is om te aanvaar dat my lewe geen doel dien nie.

Gestel egter ek besluit my lewe moet een of ander doel dien. In so ’n geval kan ek my lewe, selfs my persoon sover dit moontlik is, ontwerp vir hierdie doel. Ek sal moet werk binne beskikbare middele, maar is dit nie wat die mense agter die stortkop ook gedoen het nie? Ek sal dus vir alle praktiese doeleindes ’n lewe vervaardig om ’n sekere doel te dien.

My lewe sal dan uiteindelik hierdie doel dien, omdat ek besluit het dit is die doel van my bestaan.

______________________

Die noodtoestand is verby

WOENSDAG 9 FEBRUARIE 2011

’n Noodtoestand het geheers in my lewe die afgelope vyf jaar. Hierdie eksistensiële toestand dikteer dat ek moet … dat ek nodig het … dat ek absoluut verplig is om eers geld te maak voordat ek kan bekostig om weer enige ernstige tyd te spandeer aan my skryfwerk. Dit impliseer dat skryfwerk ’n luuksheid is wat ek nie kan bekostig in ’n tyd van nood nie.

Wel, ek dink dit is pynlik duidelik dat die noodtoestand nie werk nie. So, ek gaan dit laat vaar. (Of het ek die noodtoestand nodig om myself sover te kry om werk te doen wat geld maak? Ek glo: Nee.)

Waarop kom dit neer? Dit beteken eerste skof van die dag, na ontbyt tot aandete, werk ek aan literêre projekte. Tweede skof, na aandete tot slaaptyd: besigheid, insluitende Engelse klasse.

Ek het ’n goeie idee wat ek moet doen met al my besigheidsprojekte. Indien van die projekte egter soveel werk behels dat ek nie aan enige iets anders kan werk nie, sal dit beteken ek byt te veel af. Ek sal in so ’n geval eenvoudig ander mense moet betaal om van die werk te doen, en as ek dit nie kan bekostig nie, sal ek dit moet laat gaan.

Feit van die saak is, sonder my skryfwerk is ek net ’n ou wat sy bes probeer om geld te maak. Soms slaag hierdie ou, soms misluk hy. Die res van die tyd lees hy sy geskiedenisboeke en kyk hy TV. Is dit ek? Dalk oor vyf jaar, in alle eerlikheid, of oor tien. But I’ll be doomed, if not damned as well, as ek my skryfwerk verlore laat gaan.

“Maar jy werk mos aan jou skryfprojekte – soort van,” sal my denkbeeldige gespreksgenoot van vele jare laat hoor.

Nie regtig nie, sal ek antwoord. Die bietjies werk wat ek so nou en dan doen, kan vergelyk word met die droë korsies en bene wat iemand vir ’n hond onder die tafel voer. Dis nie genoeg nie. Dis nie genoeg om ’n hond wat veronderstel is om wag te hou, lewendig te hou nie.

Ek kies nie my skryfwerk hier bo pogings om geld te maak, of soos ek dit graag noem, “besigheid” nie. Ek kies beide. Ek weet wat ek moet doen. Ek doen dit. Ek hoef nie die heeltyd myself daaroor te bekommer nie. En ek hoef beslis nie te glo dat ek een of ander geldgod moet beïndruk met hoe hard ek probeer nie.

Ek herhaal: Ek weet wat ek moet doen, ek is reeds besig om dit te doen, en ek sal voorgaan om ses dae per week te werk daarvan. Maar die tyd het gekom om weer aandag te gee aan iets wat verder strek as net geld.

______________________