Weer tyd vir ’n “dom” vraag

WOENSDAG 6 JULIE 2011

Hoekom maak ek nie geld met my skryfwerk nie? Hoekom dink ek feitlik nooit eens daaraan nie? Hoekom kan dit amper as ’n “dom” vraag beskou word?

Een van die belangrikste lesse oor bemarking en entrepreneurswese wat ek geleer het, is die volgende: om suksesvol te wees, moet die entrepreneur ’n groep mense identifiseer wat óf gretig is om weg te beweeg van iets (soos om oorgewig te wees), óf gretig is om nader aan ’n sekere punt te beweeg (soos om ’n gholf-voorgee te verbeter). ’n Verdere vereiste is dat hierdie groep mense bereid moes wees om te betaal om óf weg te kom, óf nader te beweeg aan hulle ideale punt. Die idee is dan dat die entrepreneur sal dink aan iets wat hierdie mense in staat sal stel om te kry wat hulle wil hê, of om te kom waar hulle wil wees; of vir die bemarker om ’n produk te identifiseer wat dit moontlik sal maak, en dan teen ’n kommissie hierdie produk te bemark aan die regte groep mense.

Hoe pas my skryfprojekte in by bogenoemde begrip? Wie sou my mark wees? Op watter demografiese teikengroep sal ek my visier draai? Hoe aggressief sal ek my “produk” bemark as die “oplossing” vir hulle probleme of strewes?

Feit van die saak is, ek is ongemaklik daarmee om te dink aan my notas oor identiteit, oor die gesukkel om sin en betekenis van die lewe uit te sorteer, en oor die proses om my plek in die wêreld te vind, as ’n produk. Ek is oukei daarmee om aan die einde seleksies van my materiaal in gedrukte of elektroniese vorm te publiseer en ’n prys daaraan te heg. Ek is nie oukei daarmee om daaraan te dink as ’n produk nie – soos ’n gids wat jou leer om jou tennisafslaan te verbeter, of om gewig te verloor (belangrik soos hierdie dinge mag wees).

Maar ek het steeds nodig om die vraag te beantwoord. Is daar enige manier hoe ek materiaal kan produseer wat kommersiële waarde het? Is daar onderwerpe waaroor ek kan skryf wat ’n groter mark se aandag kan trek? Is dit moontlik dat ek werk kan produseer aan ’n mark wat bereid is om te betaal daarvoor?

Op ’n stadium het ek die idee gehad dat ek iets moet doen wat niks te make het met literatuur nie waarmee ek huur- en kosgeld kan verdien, en om dan die res van my tyd te spandeer aan die vrye uitdrukking van my werklikheidservaring, onbesoedeld deur bekommernis of die agente van kommersiële waarde die materiaal aanvaarbaar sal vind of nie.

Tot ’n mate is dit wat ek doen deur my brood en botter te verdien as Engelse onderwyser.

Ek dink wel die tyd is ryp om ten minste weer te wonder of ek ’n bestaan kan maak as ’n skrywer. Kan ek myself aan die lewe hou as my aardse bestaan afhanklik was van wat ek skryf?

______________________

As ek terugkyk oor die laaste vyftien jaar

DINSDAG 5 JULIE 2011

As ek terugkyk oor die laaste vyftien jaar (klink skielik nie so lank nie), dan kry ek amper lus om te sê: Ek moes nooit moeite gedoen het met geldmaak nie. Dis duidelik nie my ding nie. Dis nie wat ek veronderstel is om te doen nie …

Natuurlik kan ek nie te ver gaan met die hele veronderstelling-storie nie. Dit impliseer Goddelike Roeping, of Kosmiese Opdrag, en hoewel ek hierdie tema aanraak vir literêre waarde, kan ek dit nie deel maak van ’n rasionele argument nie – of ek kan, maar hierdie is nie die plek daarvoor nie.

Die vraag wat wel by my opkom as ek dink aan ’n alternatiewe persoonlike geskiedenis sedert 1996, is waaroor sou ek geskryf het?

Die feit dat ook ék moes geld maak om te oorleef, het my geforseer om, ongemaklik soos dit was, te onderhandel met die wêreld, soos ek die wêreld gesien het oor die laaste vyftien jaar. Ek moes op een of ander manier my plek vind, of my plek definieer, of uitkrap, of oopbaklei. Ek moes uitvind wie en wat ek was – en is – IN HIERDIE WÊRELD.

Ek moes dit doen omdat ek geld nodig gehad het, en niemand het geld aangebied vir niks nie. Soos meeste ander van my geslag en dié voor my, moes ek op die arbeidsmark my ware uitstal en hoop iemand sien iets waaruit hulle ’n wins kon maak. Indien die proses dan nie kon werk in my geboorteland nie, dan enige ander plek in die wêreld.

Om te sê hierdie proses van maak-jouself-bruikbaar-vir-iemand-met-geld-of-word-’n-boemelaar was nie regtig waaraan ek my tyd wou verwyl die afgelope dekade en ’n half nie, is om net die oppervlak te krap. Punt is, ek moes dit doen. En dit het my storie geword: Hoe ek vanaf my middel-twintigs probeer het om te onderhandel met die sogenaamde establishment. Hoe ek probeer het om, soos ek geskryf het in Mei 1998, my rekening met die establishment te vereffen – sodat ek die vryheid kon hê om te kon kies wáár, hóé en op watter terme ek ’n verhouding met hierdie wêreld sou hê.

Waaroor sou ek geskryf het as ek uit ’n “ou geld” familie gekom het, as ek die opsie gehad het om te onttrek na die kothuis op die familie landgoed? Sou my skryfwerk beter gewees het? Interessanter? Sou dit meer literêre waarde gehad het? Sou ek materiaal geproduseer het met meer kommersiële waarde?

Wie weet. Dalk was, en is dit, nie deel van my Kosmiese Opdrag, of my Goddelike Roeping nie.

En as daar geen opdrag of roeping is nie?

Dan weet ek steeds: Ek moet skryf.

______________________

Die einde van my jeug begin

DINSDAG 21 JUNIE 2011

Dit pla my kwaai dat ek amper veertig is, en [besonders min geld het]. Ek onthou tien jaar gelede, op my dertigste verjaarsdag, was ek more or less broke. Ek het gedink: “Wow, dertig en broke.” Volgende Woensdag is ek veertig.

Om alles te kroon, dink ek gereeld ek mors my tyd deur geld na te jaag terwyl my taak in die lewe is – of dalk was op ’n stadium – om te skryf. Dis amper asof ek ’n kans gewaag het vanaf 2006 om voltyds geld na te jaag, met die idee dat ek later kan terugkeer na my skryfwerk. Vyf jaar later, en ek begin paniekerig raak. Om meer as een rede.

WOENSDAG 22 JUNIE 2011

Mens kom agter wat ander 39/40-jariges ook al besef het: Die stryd gaan voort.

MAANDAG 27 JUNIE 2011

Dit het gebeur met die hippies van ’69, en met die punks van ’79. Dit het gebeur met die grunge rockers van die vroeë negentigs. Dit gebeur met super-modelle, en dit het gebeur met ’n tennisspeler wat in die laat sewentigs en vroeë tagtigs Wimbledon vyf keer in ’n ry gewen het. Dit het selfs gebeur met die “teenage queens” waarvan Roger Waters gesing het in 1992. Almal raak ouer. (Behalwe as jy jonk doodgaan.)

DINSDAG 28 JUNIE 2011

Die laaste dag van my dertigerjare. Dit was ’n lang dekade. ’n Goeie een …

Ek vermoed ek voel soos vele ander 39-jariges gevoel het op die vooraand van ’n nuwe dekade: Kan ons nie net klaarkry hiermee nie? Ek wil regtig aangaan met die res van my lewe.

Wat beteken dit in elk geval om veertig te wees? Is daar ’n universele betekenis daaraan wat van toepassing is op almal wat wonder oor hulle lewens op die vooraand van die veertigste herdenking van hul toetrede tot die lewe?

Wat beteken dit vir mý om te sê ek is môre veertig? Wat sal dit môre beteken om te sê ek is vandag veertig?

Ek leef.

Ek is dankbaar daarvoor.

Ek is lief vir iemand, en daarvoor is ek baie dankbaar.

Dieselfde iemand is lief vir my. Ek is besonders dankbaar daarvoor.

Ek glo nog aan dinge. Ek glo nog aan my eie potensiaal. Ek glo nog aan my drome.

En daarvoor is ek dankbaar.

Die stryd gaan voort – om te wees wie en wat ek kán wees. En vir dit om goed te wees.

SATERDAG 2 JULIE 2011

Terwyl ek druk besig is om angstig te raak oor wat ek nog moet doen voordat ek vyftig tref, het ek nog ’n obskure mylpaal verbygesteek: Vyftien jaar (en twee dae) gelede het ek gearriveer in Noordoos Asië.

Ek het een dag tevore 25 geword.

______________________

Die plaag van vals intellektuele

VRYDAG 10 JUNIE 2011

’n Plaag bederf openbare debat al vir maande lank – op TV, die internet, radio, en in ander media. Hierdie plaag kan slegs op een manier beskryf word: vals intellektuele.

Hierdie mense sal hulleself nooit kwesbaar maak tydens debatte deur volgens die reëls van intellektuele diskoers te speel nie. Verifieerbare feite is skaars tydens hulle vertonings. Selfvertroue en stemtoon word ingespan as wapens om die argument te “wen” – of dan ten minste die indruk te skep dat dit die geval is.

Hierdie mense dra niks by tot die gesprek nie. Of eerder, dit wat hulle soms bydra word totaal oorweldig deur hulle ongegronde aantygings, kritiek wat nie gestaaf word met ’n redelike, goed uitgelegde argument nie, en stellings met min of geen verbintenis met die werklikheid – wat slegs gemaak word vir die vermaaklikheidswaarde daarvan, om ’n toejuiging van hulle ondersteuners te kry.

Vals intellektuele is die vyand van intelligente gesprek.

______________________

Elke man het sy plafon

DONDERDAG 19 MEI 2011

My fiets se binneband het gisteraand op pad huis toe ontplof, so ek moes vanoggend die fiets stoot na my ou buurt toe waar my “kantoor” is. Toe ek by die fietsherstelwinkel kom naby my ou woonstel, was dit nog toe. So ook toe ek twee ure later weer gaan kyk het. Derhalwe moes ek vanmiddag skool toe stap. En terug. Op pad terug loop ek toe verby die fietswinkel – wat toe uiteindelik oop is. Tien minute later is ek daar met my fiets en die gebarste binneband.

“NT$450,” probeer die ou my beroof toe ek hom vra hoeveel dit sal kos om die binneband te vervang.

Sekondes later stoot ek toe maar weer my fiets kantoor toe, en kort daarna pak ek weer die twee kilometer aan terug huis toe. In my sandale.

Twee insigte:

1. Dis ’n jammerlike waarheid dat nie elke donker wolk ’n silwer randjie het nie. Maar as jy nie die silwer rand raaksien nie omdat jou houding verkeerd is, moet jy jouself afvra: Is my probleem terminaal, of kan ek iets daaraan doen?

2. “Every man has his price, Bob, and yours was pretty low,” sing Roger Waters. So het elke persoon ook sy plafon waar hy sê: “Ek kan nie verder nie. Ek kan nie meer nie …”

Vraag is: Waar is jou plafon?

Dalk is jou bitter ervaring iets van die verlede oor vyf minute, of oor twee dae, of oor ’n week. Gaan jy dan, wanneer dit verby is, terugkyk en verleë sê: “Deksels, ek wens ek het nie so gou ingegee nie … Ek wens ek het nie so gou opgegee nie … Ek wens ek het nie op daai punt al so hard begin kerm en kla nie …”

Naby aan die einde van my stappery vanmiddag was my bene al stokstyf, en ek het ’n dosyn klein klippies opgeskep met my sandale soos ek geskuifel-stap het. Ek het gedink aan soldate wat kilometers ver moes marsjeer in haglike omstandighede, net om die volgende oggend in ’n sloot te moet lê, en op ander stappers te moet skiet.

Dis toe wat ek dink aan die Roger Waters lirieke: “Every man has his price … and yours was pretty low.”

Ek besef toe, as ek op daai punt hard aan die kerm gegaan het, sou dit my plafon gewees het. En dit sou pretty damn laag gewees het.

______________________