Skepping, ewolusie, intelligente ontwerp, en soos gewoonlik, taal en waarheid

SATERDAG 6 OKTOBER 2012

Hier is my kursoriese opinie oor “skepping”, ewolusie, en “intelligente ontwerp”. Soos enige redelike opinie is dit oop vir gesprek en teen-argumente.

Ek glo nie die ontwikkeling van lewe op Aarde was ’n “random event” nie. Ek glo daar was een of ander vorm van intelligensie agter die vroegste vorms van lewe.

Ek glo verder dat die skeppingsmitologie wat gepredik word deur geïnstitusionaliseerde religieë dieselfde doel dien as wat dit twee en drie en vier duisend jaar gelede gedoen het. Iets wat deel kan vorm van mense se geïntegreerde wêreldbeeld moet die ontstaan van lewe verduidelik. Die skeppingsverhaal gee aan volgelinge van hierdie religieë presies dit.

Nietemin, ek glo dit is hoogs onwaarskynlik dat lewensvorme ontstaan het sonder … een of ander vorm van intelligensie.

Laastens, ek glo selfs geleerde mense se pogings om die ontstaan van lewensvorms te probeer verduidelik, is tot ’n mate vergelykbaar met die tipe gesprek wat Org die Grotbewoner met sy neef kon gehad met oor die son en die sterre 10 000 jaar gelede. Selfs al het Org en sy neef oor genoeg woordeskat beskik om daaroor te praat, was die data tot hulle beskikking onvolledig – om dit akademies te stel.

Natuurlik is taal ook hier ’n faktor, soos dit is met meer dinge as wat vele mense bereid is om te erken. Wat presies bedoel ons met “intelligensie”? Wat bedoel mense met “ontwerp”? Wat presies word bedoel met “random event”?

Die goeie nuus? Die waarskynlikheid is sterk dat ons binne die volgende paar honderd jaar ’n beter begrip sal ontwikkel van dinge – mits ons koppe oop bly en die gesprek aan die gang.

Lees meer:

Kwantum Fisika, almagtig en alwys

Intelligent Design Creationism: Fraudulent Science, Bad Philosophy.

Evolution vs. Intelligent Design: 6 Bones of Contention

______________________

“Gaan nou huis toe en LEEF!”

DONDERDAG 20 SEPTEMBER 2012

Dis soos dit is: iets sleg gebeur … en jy moet aanbeweeg, en aanhou beweeg. Dis net hoe dit is.

SATERDAG 22 SEPTEMBER 2012

1. ’n Begrafnis vier die lewe van die persoon wie se finale afskeid dit is.

2. ’n Begrafnis gee ’n geleentheid aan vriende en familie om op seremoniële wyse afskeid te neem van ’n geliefde.

3. ’n Begrafnis verleen troos aan vriende en familie.

4. ’n Begrafnis voorsien ’n bevestiging van lewe aan die mense wat die begrafnis bywoon – om vir hulle die deur te wys na die diens verby is, en te sê: “Gaan nou huis toe en LEEF!”

______________________

Gideon Gerber: 1955-2012

______________________

Die minste wat ’n ouer behoort te doen

MAANDAG 10 SEPTEMBER 2012

Ouers moet hulleself weerhou daarvan om hulle kinders te probeer skep in hulle eie aangesig. Kinders sal uiteindelik moet oorleef in ’n wêreld wat anders lyk, en waar vele dinge anders werk, as die wêreld waarin die kind se ouers grootgeword het.

Ouers se plig is om hulle kinders toe te rus om te oorleef in ’n soms vyandige wêreld, en om ’n werkbare identiteit te definieer wat hulle uiteindelik as volwassenes in staat sal stel om te kan funksioneer in hierdie wêreld, om verhoudings te kan aanknoop met ’n wye verskeidenheid mense, om ’n doel te kan formuleer waartoe hulle hul lewens kan aanwend, en om gelukkig te kan wees.

Kinders moet toegerus word om te oorleef – fisies, verstandelik en emosioneel, en om vervullende, produktiewe, gelukkige lewens te lei.

Ouer moet ten minste probeer om ten minste hierdie dinge vir ’n kind te doen, siende dat die kind in die eerste plek nie self ’n keuse gehad het daaroor om gebore te word nie.

______________________

Hou jouself staande, anders sál jy stof byt

WOENSDAG 5 SEPTEMBER 2012

Mislukking, en die hernude indruk dat, omdat ek nie geld maak nie, ek nie werk nie. Dit ten spyte van boeke gepubliseer – beide persoonlike materiaal en kommersiële projekte, talle webwerwe en ander internet eiendomme, en jare se dag in en dag uit, week in en week uit, en maande aaneen se gesukkel met pogings om geld te maak wat opeindig as geskrapte projekte en pakke weggooipapier.

Wat mens laat wonder hoekom jy nog probeer. Wat, presies, is die punt? Probeer, want dis beter as opgee? Dan spandeer ek eerder al my tyd daaraan om te skryf – oggend, middag en snags, weeksdag en naweek, twaalf maande van die jaar tot ek verstryk, en om te publiseer wat ek geskryf het, en te bemark wat ek gepubliseer het.

Is dit nie genoeg nie? Wie doen beter? Mense wat kinders kry? Doen hulle noodwendig beter? Laat hulle meer agter? Is dit wat hulle agterlaat noodwendig goed? Wat van as hulle kinders fokops en kriminele word? Wat van as hulle kinders gierige, korrupte bedrieërs word, of dwelmslawe en alkoholiste?

Ek probeer geld maak. Want dis die regte ding om te doen. Want ek hou daarvan om te eet. Want ek hou daarvan om met seep te was, en ek hou daarvan om ten minste twee keer per dag my tande te borsel. Want ek hou van skoon klere, al het my hemde en broeke beter dae gesien.

Ek moet geld maak. En my vrou moet geld maak. Na werk kyk my vrou TV, of sy maak die huis skoon. Na werk, wat op hierdie stadium sinoniem is met verskynings as Engelse onderwyser want dis al wat ek skynbaar kan doen om geld te maak, doen ek meer werk, want ek wil nie méér verskynings maak as Engelse onderwyser nie, en dis in elk geval nie volhoubaar nie. Ek as ek klaar die ander werk gedoen het, moet ek verder skryf, en publiseer wat ek skryf, en bemark wat ek publiseer. Werk, werk, skryf – wat ook eintlik werk is, maar net tel as werk as dit geld maak.

Elke dag byt mense stof. Elke dag. En die wêreld gaan voort. Dis nie dat mense nie omgee nie, dis net dat hulle eie lewens nie stilstaan net omdat iemand gesneuwel het nie.

Elke dag byt mense stof, slagoffers van omstandighede, slagoffers van ander mense se bose dade, of slagoffers aan eie hand.

Dis eenvoudig: Jy móét jouself staande hou, anders sál jy stof byt. En die wêreld sál voortgaan sonder jou.

______________________

Dalk is die rots langs die pad my plek

SATERDAG 18 AUGUSTUS 2012

Dis die voordeel daarvan as iemand anders vir ’n slag jou materiaal lees: hulle lewer kommentaar daarop, wat dan vir jou ’n geleentheid gee om ’n gedagte of twee by te voeg tot die oorspronklike idee.

So het dit dan gebeur dat ’n goeie vriendin onlangs vir my ’n e-posboodskap gestuur het oor ’n stuk wat ek geskryf het in 1998, getiteld, “Storie van twee reisigers”. Die “storie” het gehandel oor een “reisiger” wat by ’n kruispad kom, nie kan besluit watter rigting om te vat nie, en dan gaan sit op ’n rots naby die kruispad – vanwaar hy oor die volgende paar maande (of jare) kyk na ander mense wat besluite neem, foute maak, en oor die algemeen voortgaan met hulle lewens, terwyl hy steeds dink oor wat hy moet doen. Op ’n dag kom daar toe ’n ander reisiger by die kruispad, gaan sit op sy hurke, kyk dié kant toe en daai kant toe, snuif die lug, staan op en stap ’n rigting in, skynbaar seker dat dit die regte pad is. ’n Gesprek volg toe kort daarna tussen die “stapper” en die “sitter”.

Uiteindelik was my mening dat die ou wat vir so lank op die rots gesit het, moes ophou dink en dan nog aantekeninge maak ook oor wat hy dink, en sy gat moes roer. Hy moes besluit op ’n rigting, al kon hy nie seker wees hoe dit sou uitwerk nie, en homself toewy aan daai pad.

My vriendin het tot ’n mate meer simpatie met die ou op die rots. Sy sien hom as iemand wat kies om nie deel te neem tot hy seker is waarheen hy wil gaan nie. Sy hou daarvan dat hy bereid is om te sê: “Wag ’n bietjie, ek wil eers hieroor dink.”

Toe ek die teks geskryf het in Korea, in Maart 1998, het ek baie gefrustreerd gevoel met myself. Ek was alreeds vir maande lank besig om planne te beraam, maar ek het steeds nie geweet waarheen volgende nie. Ek was die ou op die rots, maar ek wou die ander ou wees – die ou wat die lug snuif, ’n handvol grond in die lug opgooi, en dan net ’n rigting instap.

My vriendin stel toe voor dat ek ’n stuk skryf wat vertel wat later gebeur het in die “storie”. Dit het my herinner daaraan dat ek agt maande na ek Korea verlaat het, weer by die kruispad was (in Januarie 1999), myself weer gemaklik gemaak het op die rots langs die pad, en gereken het: “Ek weet waar ek wil wees. Ek weet net nie watter pad om te vat om daar te kom nie. En ek wil nie tyd mors deur net ’n rigting in te donder, en heel moontlik te laat te besef die pad vat my verder van waar ek wil wees nie.”

Ek besef toe: Dalk is die rots my plek in die groter skema van dinge. Die rots, by die kruispad, is dalk waar ek moes opeindig. Dit is dalk waar ek behoort. Dalk hét ek ’n pad gekies, dit gestap, en dit het teruggelei tot by die kruispad. Terug tot by die rots.

______________________