Identiteit, onbekende situasies, en ’n onbewaakte oomblik

SATERDAG 10 MEI 2014

My identiteit funksioneer optimaal binne sekere situasies. Hierdie situasies sluit in

– ’n verhouding met ’n spesifieke persoon;

– om ’n buitelander te wees in Taiwan;

– om in Taiwan te woon spesifiek as Suid-Afrikaner;

– om op my eie te wees; en

– om te werk as Engelse onderwyser.

Sal my spesifieke identiteit goed genoeg werk as ek skielik onderhandelings moet doen met iemand in Meksiko vir twee ton staal? Wat van as ek moet gaan werk op ’n skaapplaas in Australië?

’n Uitdaging soos hierdie sal afhang van hoe aanpasbaar my identiteit is. Dalk is daar aspekte van my identiteit in ’n intieme verhouding wat van toepassing kan wees. Of dalk is daar aspekte van my identiteit as Suid-Afrikaner in Taiwan, of as Engelse onderwyser, of waar ek op my eie aan my eie projekte werk, wat aangepas kan word vir ’n situasie wat betekenisvol verskil van die omgewings en van situasies waar my identiteit optimaal funksioneer.

As ek nie my identiteit kan aanpas by ’n nuwe omgewing nie, of in ’n situasie waarmee ek nie bekend is nie, is ek in die moeilikheid.

Dit volg derhalwe dat ek óf moet bly in omgewings en situasies waar my partikulêre identiteit optimaal kan funksioneer, óf ek sal noodgedwonge my identiteit moet … verbreed. (Hoe verbreed ’n mens jou identiteit? Onder andere deur jouself bloot te stel aan ’n wye verskeidenheid situasies, omgewings, ervarings, en aan ’n wye spektrum van mense.)

Die vraag is ook, hoe goed wil jy hê moet jou identiteit funksioneer in daai onbekende situasie of omgewing? Wil jy ’n goeie indruk maak op álmal wat jy teëkom? Wil jy erken word as gesaghebbend op een of ander gebied? Of wil jy net ’n sekere taak verrig, waar jou unieke identiteit en persoonlikheid vir tyd en wyl tot ’n mate opgehef kan word?

MAANDAG 19 MEI 2014

As jy 23 is, het jy nie veel méér nodig as jou ambisie, jou drome, jou energie, en jou geloof in jou toekoms nie … of eerder, min mense in jou lewe verwag dat jy meer op die tafel moet kan neerlê as dit.

As jy 43 is, is ambisie, drome, energie en praatjies nie meer goed genoeg nie. Vriende, familie, kollegas, selfs vreemdelinge verwag dat jy op 43 ’n huis sal hê, ’n lewensmaat, ’n stabiele werk, ’n goeie inkomste, en heel waarskynlik kinders. As enige van hierdie dinge ontbreek, is sommige mense geneig om te wonder wat verkeerd gegaan het, en wanneer.

En so nou en dan, in ’n onbewaakte oomblik, wonder jyself.

____________________

’n Brokkie advies vir ’n aaklige realiteit

DONDERDAG 8 MEI 2014

Hoeveel mense ontmoet jy elke dag?

Jy tel dalk op jou vingers af enkele mense wat jy ontmoet op die trein, of by die werk, of by ’n sportklub.

Ek sê, jy ontmoet dosyne mense indien jy tyd op die pad spandeer.

Het mense dieselfde persoonlikhede as padverbruikers as wat hulle in die res van hulle lewens het?

Ek glo hulle het.

Nou, as ek reg is, is dit slegte nuus. Dit sal beteken ’n groot persentasie van die algemene publiek – onder andere mense saam met wie jy werk en skouer skuur op ’n daaglikse basis, is onrusbarend onnosel, ontstellend immoreel, en van vieslike lae karakter.

Die aaklige realiteit: Baie mense kom weg met wie en wat hulle is op die pad, en in die res van hulle lewens.

’n Belangrike brokkie advies is derhalwe nie onvanpas nie: As jy sukkel om die bestaan van hierdie onnosel en immorele segment van die bevolking te aanvaar, moenie die pad gebruik nie, want dit is waar hulle gedrag jou dood kan veroorsaak.

Wat betref die res van jou lewe het jy nie veel van ’n keuse nie. Hierdie imbesiele, hierdie sedelose mense van skokkende lae karakter, is oral. Jy kan hulle probeer vermy, maar jy gaan gereeld misluk. Jy sal eenvoudig moet leer om met hulle saam te leef.

______________________

Onverwagse lesse uit die finansiële markte

VRYDAG 2 MEI 2014

Handeldryf op die finansiële markte is ’n skrywer se droom. Daar is die storie dat jy (in teorie) geld kan maak op jou eie tyd en in jou eie werksplek. Omdat die “trader” nie hoef te verskyn aan enige iemand nie, wat nog te sê om te probeer om iets aan iemand te verkoop, is dit ook ’n eerlike manier om geld te maak.

Wat ’n mens egter nie altyd verwag nie, is die spektrum van emosies: teleurstelling, optimisme, hoop, en hoe jy voel wanneer jy ’n fout maak wat veroorsaak dat al die klein winste wat jy oor die laaste uur opgebou het, weer in die sloot beland.

Goed en wel, as jy so ’n wye reeks emosies ervaar in een sessie, maak jy sekerlik te veel foute, en het jy sekerlik nog ’n pad om te gaan. Maar selfs hierdie foute voorsien die skrywer van goeie materiaal. Dat jy besig is om foute te elimineer en meer en meer regte aksies te neem is ’n reis, ’n proses van selfontdekking – ’n storie vol versigtige optimisme.

Deur hierdie hele proses leer jy dat die einddoel nie net is om geld te maak nie, maar om jou emosies onder beheer te kry, om kalm te kan bly onder druk en te doen wat jy weet reg is. Dit gaan daaroor om vertroue op te bou in wat jy doen, om te weet hoekom jy dit doen, en hoekom jy op die regte pad is. Dit gaan daaroor om te weet hoekom jy uiteindelik suksesvol sal wees, en om te glo in jouself as ’n agent om hierdie eindresultaat te bewerkstellig.

______________________

Kritiek oor die gewoontes en leefstyl van die bourgeoisie

WOENSDAG 2 APRIL 2014

Ek lees tans die boek, Mrs. Bridge, deur Evan S. Connell, gepubliseer in 1959. Dit vertel die storie van die hoër-middelklas Bridge-familie van Kansas City in die 1920’s en 1930’s, meestal vanuit die perspektief van Mevrou Bridge van die titel.

Mevrou Bridge se lewe draai om haar kinders en haar sosiale lewe. Die sosiale omgewing waarbinne sy beweeg word beskryf as “unity, sameness, consensus, centeredness”.

Nie veel dramaties gebeur ooit in haar lewe nie, hoewel sy soms gekonfronteer word met ongemaklike kwessies soos klasbewussyn. Sy onthou ook dat haar een vriendin haar een keer gevra het of sý ook soms voel asof sy uitgehol en leeg aan die binnekant is. Hierdie vraag kom by haar op die dag toe sy verneem dat dieselfde vriendin haarself om die lewe gebring het.

Volgens die Wikipedia artikel oor die boek het dit nie heeltemal die aandag gekry wat dit dalk toegekom het nie:

By 1962, when critic Michael Robbins proclaimed that Mrs. Bridge answered the question asked by writer and social critic, “what kind of people we are producing, what kinds of lives we are leading”, the novel was already out of print: readers of College Composition and Communication were urged to write the publishers in hopes of getting the book reprinted. In 1982, when both Bridge books were republished [Mr. Bridge het gevolg in 1969], Brooks Landon, in The Iowa Review, commented that “Connell seems to have become one of those writers we know to respect but may not have read”.

Een van Mrs Bridge se konfrontasies met klasbewussyn vind plaas een dag in ’n boekwinkel, toe sy deur ’n boek blaai met die titel, The Theory of the Leisure Class, ’n werklike 1899 boek deur Thorstein Veblen. Die boek word beskryf as sosiale kritiek oor die gewoontes en leefstyl van finansieel gemaklike lede van die middel en hoër-middelklas. Dit fokus veral op hoogs sigbare spandering van geld:

Conspicuous consumption is the spending of money on and the acquiring of luxury goods and services to publicly display economic power—either the buyer’s income or the buyer’s accumulated wealth. Sociologically, to the conspicuous consumer, such a public display of discretionary economic power is a means either of attaining or of maintaining a given social status.

Moreover, invidious consumption, a more specialized sociologic term, denotes the deliberate conspicuous consumption of goods and services intended to provoke the envy of other people, as a means of displaying the buyer’s superior socio-economic status.

Die artikel gaan voort:

In the 19th century, the term conspicuous consumption was introduced by the economist and sociologist Thorstein Veblen (1857–1929), in the book The Theory of the Leisure Class: An Economic Study in the Evolution of Institutions (1899), to describe the behavioural characteristics of the nouveau riche (new rich) social class who emerged as a result of the accumulation of capital wealth during the Second Industrial Revolution (ca. 1860–1914). In that social and historical context, the term “conspicuous consumption” was narrowly applied to describe the men, women, and families of the upper class who applied their great wealth as a means of publicly manifesting their social power and prestige, be it real or perceived.

______________________

Ten minste een brokkie goeie advies

WOENSDAG 15 JANUARIE 2014

Advies aan buitelanders om ’n gemaklike tyd te geniet in ’n vreemde land:

1. Vat dit rustig – niemand hou van ’n senuweeagtige buitelander nie.

2. Probeer om dit te vermy om plaaslike mense aanstoot te gee. Jy hoef nie alles perfek te doen nie (sien punt 1), maar jy sal baie baat daarby as jy moeite doen om ’n paar basiese moets en moenies te leer van die plaaslike kultuur.

VRYDAG 21 FEBRUARIE 2014

15:15

Vang weer so ’n gevoel van, “Wat is ek veronderstel om te doen?”

Wil eers sê, “Die antwoord is seker om geld te maak …”

Toe onthou ek: Maak die lewe die moeite werd vir jouself. Dis jou eerste prioriteit, jou eerste taak, jou eerste verantwoordelikheid.

20:53

Vra jouself: Wat het ek vandag gedoen om my lewe die moeite werd te maak?

SONDAG 23 FEBRUARIE 2014

11:37

Ons raak maklik opgewerk oor elke ongeregtigheid waarvan ons bewus gemaak word, of elke keer wat ons dink iemand minag ons, of is onredelik ongeskik met ons.

Vra jouself: “Kan ek iets daaraan doen?”

Indien nie, wat help dit om ontsteld te raak? Jy slaan net jou eie wind uit, en geen van die mense wie jy verantwoordelik hou vir die ongeregtigheid of wat die slegte gedrag vertoon, gee ’n duit om nie.

Kan jy wél iets daaraan doen?

Doen dit dan, sonder versuim.

En siende dat jy iets kán doen, en dit doen, hoekom dan jouself nog opwerk ook?

13:06

Om te weet wie jy is, is nie die einddoel nie.

Om te weet wie jy is, stel jou in staat om êrens te hoort, om deel te wees van iets groter as jyself.

Om deel te wees van iets groter as jyself en te voel jy hoort êrens, is egter ook nie die einddoel nie.

Die einddoel is om te glo jou lewe is die moeite werd om te leef.

Om te voel jy hoort êrens, is bevorderlik daarvoor om te glo jou lewe is die moeite werd om te leef.

Om oor ’n funksionerende identiteit te beskik (om te “weet wie jy is”), is bevorderlik daarvoor om te voel jy hoort êrens.

______________________