Gemoed, “trading”, en veilige padgebruik

SONDAG 7 SEPTEMBER 2014

’n Man op ’n motorfiets sny voor jou in sekondes voor jy by ’n verkeerslig kom. Jy moet skielik briek. Die ou jaag oor die oranje lig, en jy moet, as gevolg van die feit dat jy moes briek trek, by die rooi lig staan en wag.

Ses blokke later ry jy in iemand vas. Nie omdat jy ’n slegte bestuurder is nie. Nie omdat die ander persoon iets vreeslik verkeerd gedoen het nie. Jy het in hom vasgery omdat jy nog opgestoom was omdat “daai ander vark” jou afgesny het – ses blokke tevore. Nou moet jy geld opdok vir skade aan iemand se voertuig, want jy het in hóm vasgery. Omdat jy nie jou emosies kon beteuel nie. Omdat jy alles waaroor jy gebelgd is, al jou onsekerhede, saam met jou op die pad gevat het.

Selfde met “pre-race trading”. Ek kom toenemend agter dat my begrip van die storie nie meer so ’n groot probleem is soos agt maande gelede nie. Die wyse hoe ek “trade”, is ook aansienlik beter. Maar omdat my gemoed nie is wat dit moet wees nie – vanweë die hitte en die humiditeit, die feit dat my fiets se ketting elke dag afval en dan moet die oorgewig Uitlander met die ouma-fiets op die brug staan en met sy sleutels sy ketting regmaak, en wie weet wag nog alles, laat ek elke nou en dan toe dat ’n “trade” gaan waar hy wil, in stede daarvan om dit te beheer. En dis nie omdat ek ’n slegte “trader” is, of omdat ek nie mooi verstaan wat aangaan nie. Dis omdat ek nie my emosies kan beteuel nie. Omdat ek ’n vertroebelde gemoed saam met my na die “trading” sessie toe vat. En die resultaat is dat ek nie geld maak nie – of nog erger, dat ek geld verloor.

Mens vertel graag vir jouself dat jy gelukkig moet wees, dat dit beter is vir jou gesondheid, en vir jou verhoudings en so aan. Voorwaar, voorwaar sê ek vir myself: Werk daaraan om gelukkig te wees, verduidelik mooi vir al jou onsekerhede wat hulle met hulleself kan doen, en maak meer geld.

’n Gelukkiger mens met minder onsekerhede sal dit waarskynlik ook makliker vind om kalm te bly in die verkeer. Wat dalk net eendag jou en/of iemand anders se lewe of ledemaat sal spaar.

______________________

My perfekte lewe

MAANDAG 18 AUGUSTUS 2014

Ek kyk vanaand in ’n plaaslike supermark na ’n man en vrou wat kombuisware in hul waentjie laai. Ek dink toe so by myself: “Stel jouself voor dít was jou droom toe jy 28 of 29 was – om getroud te wees en ’n familie van jou eie te begin.”

Nie te veel sekondes daarna nie, onthou ek dit wás my droom toe ek in my laat-twintigs was.

Daar was wel ’n probleem. Ek het geen vertroue gehad in die proses van maak-jouself-bruikbaar, pleit of smeek vir werk, of glimlag blink en doen jou toertjies mooi genoeg sodat jy in diens geneem kan word deur een of ander maatskappy of instansie nie. (En dan, wanneer dit die maatskappy of instansie pas, of wanneer hulle ’n ander rigting ingaan, of as jy net te veel begin kos, werp hulle jou uit in die parkeerterrein met jou kartonboksie vol skerp potlode, tip-ex, en ’n fotoraam met ’n foto van jou en jou vrou en julle twee kinders. En ’n hond en ’n kat. Wat by die huis wag en nie weet daar gaan nie nuwe geld inkom aan die einde van die maand nie.)

Vir die volgende vyftien minute fokus ek toe op my kruideniersware, stap uit na die parkeerterrein, klim op my fiets, en ry huis toe.

Soos ek ry, gaan ek weer oor die kern van die trou-kinders-werk gedagte. Teen die tyd wat ek die deur oopsluit by die huis, het ’n alternatiewe opinie in my gedagtes vorm aangeneem: As ek graag genoeg getroud wou wees in my laat twintigs en ’n gesin van my eie wou begin, sou ek harder probeer het om werk te kry in my eie land. Ek sou steeds nie die proses vertrou het nie, maar soos meeste ander mense, sou ek my oë toegemaak het, gespring het, en gehoop het vir die beste.

Feit is, ek wóú in my laat twintigs en my vroeë dertigs getrou het en ’n gesin begin het, maar daar was ander dinge wat vir my belangriker was. Ek het daai ander … drome, ambisies … nagestreef.

Uiteindelik het ek wél getrou – met ’n vrou wat my maat is, wat my verstaan, en wat my liefhet. En hoewel ons nie kinders het nie, voltooi een vet kat met karakter en sy eksentrieke neef ons gesinsportret.

En vir my, is dit perfek.

______________________

Middelmatigheid of steek jouself aan die brand

WOENSDAG 30 JULIE 2014

13:15

Meer as ’n maand van stilte … en dan hierdie:

Is Brand Smit ’n middeljarige verloorder? Wie maak die aantyging? Wie verdedig my? Wie argumenteer teen my? Wie is die magistraat? Die samelewing? Onmoontlik. Die samelewing se waardes en standaarde is primitief.

Feit is, in hierdie eksistensiële klag maak ekself die aantyging, en ekself is die aanklaer, die advokaat, en, uiteindelik, die magistraat. Jy vind jouself skuldig? Dan sal die samelewing jou as skuldig behandel. Jy vind die aantyging ongegrond, en verwerp dit? Dan het die samelewing nie ’n saak nie.

16:15

Twee moontlikhede vir my:

Opsie een: Middelmatigheid: Ek publiseer my boeke, maar ek bemark dit nie; ek weet hoe om geld te maak, maar ek doen dit nie omdat ek nie van geld wil afstand doen om kanse te waag nie; ek weet hoe om in beter fisieke toestand te kom, maar ek is te lui.

Opsie twee: Aan die brand: Leef die res van jou lewe soos ’n protesterende Boeddhis in Saigon in 1963.

______________________

Wat beteken dit om Boheems te wees?

DINSDAG 3 JUNIE 2014

Volgens Wikipedia het kunstenaars en ander skeppende mense in vroeë negentiende-eeuse Frankryk begin vergader in laer-klas Roma-buurte waar die huur meer bekostigbaar was. ’n Algemene wanopvatting destyds was dat die Roma Frankryk bereik het in die vyftiende eeu via Boheme, die Westerse deel van wat vandag die Tsjeggiese Republiek is. Bohémien was derhalwe die naam wat Franse mense gegee het aan die Roma van Frankryk. Omdat die skeppende tipes begin vergader het in die oorwegend Roma-buurte, het mense begin om dieselfde etiket te gebruik in verwysing na hulle.

Wat beteken dit om ’n “Boheemse” leefstyl te voer? Dieselfde Wikipedia artikel waar mens al bogenoemde feite te wete kan noem, beskryf ’n Boheemse leefstyl as onkonvensioneel, met min vaste verbintenisse, en ’n fokus op musikale, kunssinnige, letterkundige of spirituele ambisies. Mense wat in die negentiende eeu en die eerste paar dekades van die twintigste eeu ’n Boheemse leefstyl nagejaag het, is gereeld geassosieer met onortodokse of anti-establishment politieke en maatskaplike sienings. Spaarsamigheid en selfs vrywillige armoede was soms deel van die storie. Die assosiasie met die Roma was ook een van buitestaanders wat apart geleef het van meer konvensionele gemeenskappe, en nie veel gepla was met konvensionele mense se afkeuring van hoe hulle hul lewens leef nie.

Nog ’n paar interessante brokkies uit die Wikipedia artikel:

[It] is not enough to be one’s self in Bohemia, one must allow others to be themselves, as well.

What, then, is it that makes this mystical empire of Bohemia unique, and what is the charm of its mental fairyland? It is this: there are no roads in all Bohemia! One must choose and find one’s own path, be one’s own self, live one’s own life.” ~ Burgess, Gelett. “Where is Bohemia?” collected in The Romance of the Commonplace.

[…]

Bohemian is defined in The American College Dictionary as “a person with artistic or intellectual tendencies, who lives and acts with no regard for conventional rules of behavior.”

[…]

In 2001, political and cultural commentator David Brooks contended that much of the cultural ethos of well-to-do middle-class Americans is Bohemian-derived, coining the paradoxical term “Bourgeois Bohemians”.

[…]

By extension, Bohemia meant any place where one could live and work cheaply, and behave unconventionally; a community of free souls beyond the pale of respectable society.

Bron: https://en.wikipedia.org/wiki/Bohemianism

______________________

Die probleem met posisie inneem

SONDAG 6 APRIL 2014

Siende dat daar altyd feite is oor ’n aangeleentheid waartoe jy nie toegang het nie, dat daar altyd dinge is oor ’n persoon, ’n insident, of ’n historiese gebeurtenis waarvan jy nie weet nie, of wat jy nog nie in ag geneem het in jou argumente vir of téén iets nie, kan jy ooit werklik posisie inneem?

Wat staan jou te doen? Moet jy eenvoudig altyd op die muur sit? Moet jy dink aan ’n standaard vrywaring wat jy in elke situasie sal resiteer (“Soos gewoonlik moet ek net sê, ek weet …”)? Moet jy meer krities wees? Meer sinies?

Om te leer om jou emosies te beheer, is ’n goeie begin.

DINSDAG 3 JUNIE 2014

Wat sou ek doen as ek in Winston Churchill se posisie was in die Tweede Wêreldoorlog – Winston Churchill, wie deur vele mense as ’n held beskou word? Sou ek byvoorbeeld ingestem het tot bomaanvalle op burgerlike areas in Duitsland in die laaste maande van die oorlog, waar ek sou geweet het duisende mense, insluitende jong kinders, sou doodbrand en op ander verskriklike maniere sou sterf, of vermink sou word?

Ek sou graag wou sê ek sou nie ingestem het daartoe nie. Maar omdat ek nie in sy skoene was nie, kan ek nie oordeel nie.

Die volgende stelling kom toe by my op, veral met Winston Churchill in gedagte: “Ek kan nie oordeel nie, maar ek sal myself weerhou van verheerliking.”

______________________