Maak jy geld deur kos te kook in ’n restaurant?

WOENSDAG 22 OKTOBER 2014

Vanoggend by die tee-winkel staan ek langs ’n ouerige man van een of ander Westerse land. (Sy pienk skouers, ontbloot omdat hy ’n moulose frokkie aangehad het, het sy herkoms verklap toe ek nog etlike meter van die stalletjie af was.) Na hy liggies, in Engels, geflankeer het met die eienares van die besigheid en met haar bejaarde moeder, het hy na my gedraai.

“Are you an English teacher?” wou hy vriendelik weet.

Op my bevestiging merk hy op dat omtrent al die buitelanders wat hy raakloop, onderwysers blyk te wees.

“There are some engineers as well,” het ek hom reggehelp.

Toe ek wegry van die stalletjie, kon ek nie help om weer my kop te skud vir die vreemdheid van die vraag nie.

Stel jouself voor die eerste vraag wat iemand jou vra, is “Maak jy geld deur kos te kook in ’n restaurant?” Of, “Maak jy geld deur karre reg te maak?” Of dalk, “Maak jy geld deur mense te verteenwoordig in regsake?”

Ek vind dit hoogs amusant dat mense dink dis heeltemal normaal om, wanneer hulle jou vir die eerste keer ontmoet, te vra, “Hoe maak jy geld?”

Sou dit onbeleefd wees om vir iemand te vra, “Wat het dit met jou te doen?”

Natuurlik verstaan ek hoekom mense vir mekaar hierdie tipe vrae vra. Jy het beperkte geleentheid om iemand te identifiseer as vriend, vyand, of neutraal, en hoe hy of sy geld maak, is seker ’n maklike begin. (Asof iemand sal erken hy steel karre of beroof banke om kos op die tafel te sit.)

Ek sou nietemin graag vir die man wou verduidelik van my skryfwerk wat nie juis geld maak nie, maar wat vir my baie waarde inhou, en selfs ander maniere hoe ek wel geld maak, maar wat nie in een-woord etikette soos “English teacher” of “engineer” uitgedruk kan word nie.

Ek sou ook nog wou noem dat baie Westerlinge net werk as English teachers in Taiwan om dit te kan bekostig om te reis, of om tyd te kan spandeer aan hulle musiek, of aan ander artistieke ambisies.

Toe hy my vra of ek klasgee by die plaaslike laerskool, ’n paar blokke van die tee-winkel af, sê ek nee, ek werk by ’n taalsentrum in die dorp.

“It’s just a part-time job,” voeg ek toe by, “but it keeps me alive.”

______________________

Jy beter opstaan as jy getel wil word

MAANDAG 20 OKTOBER 2014

Ek dink vanoggend dat medium.com ’n eksklusiewe platform geword het vir skrywers in hul twintigs.

Vyf sekondes later verander ek my opinie. “Bullshit,” sê ek hardop vir myself. “Dis soos om te sê boeke het die eksklusiewe domein geword van jong mense omdat baie mense in hul twintigs boeke skryf.”

“Jy moet opstaan as jy getel wil word,” herinner ek myself. Of eerder, jy moet opstaan as jy ’n kans wil staan om getel te word.

As jy wegkruip in ’n donker hoekie, gaan jy nie getel word nie.

As jy jouself kamoefleer, gaan niemand jou raaksien nie.

As jy platlê, agter ’n bos, gaan jy geïgnoreer word.

Is dit belangrik dat jy getel moet word?

Feit is, baie mense is gelukkig genoeg om hulle lewens te lei sonder om erken te word as enige iets meer as gewone sterflinge.

Maar, as jy deur ten minste ’n paar mense erken wil word vir iets wat jy sê of doen, veral as dit wat jy sê of doen in jou opinie waarde het, dan beter jy op jou voete kom.

______________________

Die SELF as miljoene brokkies data

SONDAG 12 OKTOBER 2014

’n Digitale videogreep is in werklikheid miljoene brokkies data, maar dit beweeg so vinnig, en is op so ’n wyse gegroepeer, dat die illusie geskep word van bewegende beeld – wat sin maak, en waarmee die kyker bekend is.

Bewussyn van self is dalk iets soortgelyks. Daar is nie ’n vaste punt waarna jy kan wys, of wat geïsoleer kan word as “die self” nie. Die bewussyn dat jy ’n persoon is met ’n kernpersoonlikheid wat min of meer dieselfde bly, is ’n illusie wat geskep word deur voortdurend veranderende bewussyns. Hierdie bewussyns vervang mekaar egter so vinnig – soos die brokkies data van ’n digitale videogreep, dat dit vir alle praktiese doeleindes vóél asof jy ’n enkele bewussyn-van-self het.

[Hierdie gedagte is geïnspireer deur iets wat ek gelees het in die boek, Guide to Philosophy, deur C.E.M. Joad.]

———–

Op WOENSDAG 19 JUNIE 2013 het ek gelees wat die Skotse filosoof, David Hume, gesê het oor oorsaak.

My konklusie daai dag: “Die goeie nuus … nee, die slegte nuus is dat jy nie werklik bestaan nie. Die goeie nuus is dat dit nie werklik saak maak nie, want jý glo jy bestaan, en op die vreemde wyse wat ervarings gesien word as waarheid, bevestig jou daaglikse ervarings jou geloof dat jy werklik bestaan.”

______________________

Teen apartheid, én teen ’n korrupte regering

SATERDAG 11 OKTOBER 2014

Sommige blanke Afrikaners is van mening dat die Afrikaner nooit sy politieke mag moes opgee nie, en dat mede-Afrikaners wat twee of drie dekades gelede gereken het apartheid is ’n onreg en dat Suid-Afrika eerder ’n veelparty demokrasie behoort te wees, “volksverraaiers” is.

Die enigste mense wat nie wil toegee dat die huidige regering korrup is nie, het heel waarskynlik self hulle snoete in die trog, maar om tot die slotsom te kom dat die vorige bedeling nooit moes geëindig het nie omdat die huidige regering korrup is, is om jouself te bedrieg, en jouself te ontbloot as intellektueel lui, of oneerlik, of beide.

Apartheid en alles waarop dit in die praktyk neergekom het, móés beëindig word, omdat dit immoreel was, en omdat dit die onderdrukker en uitbuiter se wese tot in die kern korrupteer om ander mense te onderdruk en uit te buit.

Dit het verder tot almal se voordeel gestrek om apartheid te beëindig met ’n relatief vreedsame politieke skikking, want as dit nie op so ’n wyse tot ’n einde gekom het nie, sou dit verslaan moes word met ’n stryd wat bloediger en gewelddadiger sou wees as wat dit tot op daardie stadium was, waarin die blanke Afrikaner meer sou verloor het as net politieke mag.

Die huidige groep politici wat hul posisies van mag misbruik om die staat te beroof en die publiek te belieg en te bedrieg, moet gekritiseer word as ’n saak van beginsel. Dit is die plig van elke verantwoordelike Suid-Afrikaner, ongeag velkleur of politieke oortuiging, om onbevoegdheid, korrupsie en ander afstootlike gedrag te kritiseer. Nietemin vind sommige blanke Afrikaners dit vreemd dat mense wat ’n paar dekades gelede gepredik het dat apartheid moes eindig, nou saam kla oor die ANC regering. “Is dit nie wat julle wou gehad het nie?” sal hulle vra in hulle aanlyn kommentaar.

Wat “hulle” wou gehad het – die liberales en progressiewe mense van twintig of dertig jaar gelede, was vir ’n moreel onregverdigbare stelsel van onderdrukking om te eindig, omdat dit immoreel was, en omdat dit die blanke Afrikaner tot in die pit vrot sou maak – en reeds sommiges vrot, tot in die pit, gemaak het.

Wat hierdie liberale en progressiewe mense steeds wil hê, is ’n nie-rassige, demokratiese republiek. Om húlle te blameer omdat die regering in 2014 korrup en onbevoeg is, omdat hulle twee of drie dekades gelede gesê het apartheid moes eindig, en dalk selfs gewerk het daarvoor, is om by die verkeerde boom op te blaf.

______________________

Wat mense dink voor hulle kinders kry

WOENSDAG 8 OKTOBER 2014

Ek het self nie kinders nie, maar ek reken ek het ’n goeie idee wat dit beteken om kinders te hê.

1. Jy ervaar blydskap en vervulling en geluk wat jy nooit sal kan verwoord aan iemand wat nie self kinders van sy of haar eie het nie.

2. Jy ervaar ook bekommernis, en hartseer, en teleurstelling wat jy nooit sal kan verwoord aan mense wat nie kinders van hulle eie het nie.

3. Jy dink anders oor jouself, jou eie waarde, jou rol in die samelewing, en wat jy sal nalaat van jou bestaan.

Ek wonder wel hoeveel mense dink aan die blydskap en die vervulling en die geluk, en besluit tog om nié kinders te kry nie. Hoeveel mense dink aan die bekommernis, en die hartseer, en die teleurstelling wat hulle in die gesig staar, en maak ’n wilsbesluit om tóg kinders te hê?

______________________