Wanneer is ons geprogrammeer, en deur wie?

VRYDAG 24 JUNIE 2016

Vandat ek in die oggend wakker genoeg is om te registreer wat op die wekker se gesig aangaan, dink ek aan werk. Ek dink aan werk wanneer ek ontbyt eet, wanneer ek stort, wanneer ek aantrek en wanneer ek my tande borsel. Ek dink aan werk wanneer ek op pad is na ’n plek toe waar ek werk. Nadat ek gewerk het by hierdie plek, gaan ek huis toe. Dan eet ek dalk iets, en dan werk ek. Wanneer ek TV kyk, dink ek daaraan dat ek nie werk nie. Wanneer ek op die bed gaan lê om ’n bietjie te rus, dink ek aan hoe lank ek nie gaan werk nie. Wanneer ek Wikipedia oopmaak in my webblaaier, of Twitter, of Reddit of Facebook, dink ek daaraan dat ek ’n breuk vat van werk. Op Saterdagaand en Sondag is die groot ding dat ek probeer om nie te werk nie. Ek werk wanneer ek geld maak, en ek werk wanneer ek besig is met langtermyn, ambisieuse skryfprojekte wat heel waarskynlik nooit veel geld sal maak nie.

Wat ek doen wanneer ek werk verskil dalk van wat jy doen wanneer jy werk, maar meeste volwassenes aanvaar hierdie storie dat hulle lewens om werk draai sonder om te veel daaroor te dink.

Ons eenvoudige, in vele gevalle ongeletterde voorouers van vyf of meer eeue gelede het net ’n paar maande van die jaar gewerk. Die res van die tyd het hulle gedoen wat hulle moes doen om te oorleef, hulle het gerus, en so nou en dan ’n ietsie geniet van ’n lewe wat gewoonlik nie veel meer as dertig of veertig jaar geduur het nie.

So, ek wonder net: Van wanneer af het ons – die werkende massas – onsself laat programmeer met hierdie ding dat ons móét werk, ten minste vyftig weke van die jaar, ten minste vyf dae van die week, ten minste agt ure elke dag?

______________________

Die gesproke woord – en sokker

WOENSDAG 22 JUNIE 2016

Tyd vir iets uit ’n ander oord.

Op 22 Junie 1986 het Argentinië vir Engeland verslaan 2-1 in die kwarteindrondte van die Wêreldbeker. Albei Argentynse doele was aangeteken deur hulle sterspeler, Diego Maradona. Die eerste was die berugte “Hand van God” doel. Die tweede, enkele minute later, word beskryf as een van die beste doel ooit.

Hier is hoe Víctor Hugo Morales, ’n joernalis van Uruguay, die “Goal of the Century” beskryf het in sy kommentaar (krediet aan Wikipedia vir die vertaling uit Spaans):

“He’s going to pass it to Diego, there’s Maradona with it, two men on him, Maradona steps on the ball, there goes down the right flank the genius of world football, he leaves the wing and he’s going to pass it to Burruchaga … Always Maradona! Genius! Genius! Genius! There, there, there, there, there, there! Goaaaaaaaal! Goaaaaaaal! I want to cry, oh holy God, long live football! What a goal! Die-goal! Maradona! It’s to cry, excuse me! Maradona, in a memorable run, in the best play of all times! Little cosmic comet, which planet did you come from, to leave so many Englishmen behind, so that the country becomes a clenched fist crying for Argentina? Argentina 2, England 0! Die-goal, Die-goal, Diego Armando Maradona! Thank you, God, for football, for Maradona, for these tears, for this Argentina 2, England 0.”

En hier is beeldmateriaal van die legendariese doel:

______________________

Wie is jy wanneer jy geld maak?

VRYDAG 17 JUNIE 2016

As ek nou vir mense advies moet gee oor geldmaak, sal ek hulle adviseer om goed na te dink oor hulle identiteit: Wie is jy? (Hoekom is jy hierdie persoon?) Wie wil jy wees? (Hoekom?) Hoe sien jy jou doel in die lewe? (Hoekom hierdie doel?) Wat maak jou gelukkig? (Hoekom maak hierdie dinge jou gelukkig?) Sal jy eerder iets wil verkoop – iemand anders se produkte, of jou tyd, jou kennis, jou vermoëns en jou ervaring, of sal jy eerder ’n kans wil waag om te spekuleer op een of ander mark?

Een probleem: Min mense sit gereed met antwoorde op hierdie vrae.

Nog ’n probleem: Te veel mense word verlei om dinge te doen wat hulle nie behoort te doen nie; en natuurlik word te veel mense te maklik om die bos gelei.

______________________

’n Desperate versoek

SONDAG 15 MEI 2016

Ek het dit al voorheen genoem, maar ek doen dit nou weer, plegtig, in die openbaar: Ek vra myself, mooi asseblief, dat ek tog net nie ’n “oom” moet word nie.

Uit die aard van die saak is dit meestal mans wat hierdie versoek sal verstaan, en dan veral as hulle reeds hul sogenaamde middeljare getref het.

“Ooms” is gewoonlik konserwatief, en blyk in vele gevalle ’n by in hulle enjins te hê en ’n chip op hulle skouers. Hulle voel ook gereeld asof hulle manlikheid uitgedaag word. Een van die jonger geslag mans moet net dink daaraan om iets verkeerd te doen, soos om op die verkeerde plek te parkeer, te hard op sy selfoon te praat, of om voor die ou toppie in die ry in te druk by IKEA se restaurant in Kaohsiung (terwyl hy eintlik net weer aansluit by sy vriend), dan stu die “oom” op in die man wat enkele oomblikke tevore net ’n gewone mens was. Hy word rooi in die gesig, sy hare kry ’n gryser skakering van pure ontstokenheid, hy wil vir iemand die leviete voorlees, en hy sê dinge soos, “Kom net by … ASSEBLIEF!”

Dat almal hulle koppe vir hom skud, en sy vrou haarself voetjie vir voetjie van hom distansieer, maak aan hom niks saak nie.

Ten spyte daarvan dat daar nog plekke is waar “ooms” nog regeer – Saoedi-Arabië is een goeie voorbeeld, wil dit blyk asof “ooms” ’n bedreigde spesie is – rooi in die gesig van amper permanente ontsteltenis omdat iemand durf waag het om iets te doen waarmee die “oom” nie saamstem nie, en ’n gevoel dat indien die wêreld ooit aan hom behoort het, dit beslis nie meer die geval is nie.

Nou moet ek net myself sover kry om interne weerstand op te bou teen die “oom” binne my wat elke nou en dan dreig om sy ontstoke gesig te wys en sy vinger vir vreemdelinge te swaai.

______________________