Moontlikhede, planne en doelwitte

Dinsdag 4 November 1997

Om ’n Engelse onderwyser te wees het sy nadele, maar in ag genome dat mens in enige van meer as 25 lande kan woon, en ’n werk kan doen wat redelik bevredigend kan wees, kan mens nie anders as om daaraan te dink as ’n goeie beroepsmoontlikheid nie.

Ek sê nie ek dink op die oomblik aan die langtermyn nie, maar wat betref beroepsmoontlikhede wat oop is vir my – as ek kyk na my kwalifikasies en ervaring, moet ek sê, ag ek dit redelik hoog. Dit sal my in staat stel om geld te verdien, te reis, en om nuwe vaardighede aan te leer, en dit sal my hou uit ’n plek genaamd middelklas suburbia.

* * *

Ek het nog agt maande oor van my kontrak voor ek teruggaan Suid-Afrika toe. In plaas daarvan om te dink aan nog agt, lang maande … begin ek eerder te dink daaraan dat ek nog agt maande lank ’n werk het, ’n salaris verdien, en ’n plek het om te woon. Wanneer ek terug is in Suid-Afrika, sal ek aanvanklik werkloos wees, ek sal nie ’n inkomste verdien nie, en ek sal nie ’n plek van my eie hê nie.

Dit is soos ’n kloof wat agt maande voor my in die toekoms lê. Ek kan my ore plattrek, my oë toemaak, en net hardloop – en hoop die tyd gaan gou verby, net om dán te besef ek weet nie hoe om die kloof oor te steek nie; dat ek teen ’n reguit krans afstaar.

Die alternatief is om nou al te begin om materiaal te vergader om ’n brug te kan bou wanneer ek by die kloof uitkom – sodat dit nie ’n antiklimaks sal wees nie. Dit is ook belangrik dat ek gereed moet wees vir die “ander kant”. Voorbereiding sluit dinge in soos spaargeld, taalvaardigheid, vroegtydige beplanning vir akademiese kursusse, en so aan.

Feit is, die agt maande sál verbygaan, en dit hang af van niemand anders nie as myself hoe die prentjie gaan lyk wanneer ek terugkyk. Gaan ek verspeelde kanse sien, en vorentoe kyk en besef ek is in die moeilikheid? Of gaan ek op die lughawe in Singapoer sit voor my vlug Suid-Afrika toe, en dink aan alles wat ek die vorige agt maande vermag het, goed voel oor myself, en met selfvertroue en hoë verwagting uitsien daarna om die kloof oor te steek?

Dit hang alles van myself af – nóú. Ek het, hopelik, nog agt maande om voor te berei.

* * *

Ten einde my doelwitte te bereik, is dit noodsaaklik dat ek my leefstyl moet verander. Nou, ek het ’n tyd gelede hierdie gedagte gehad van ’n transformasie, om dinge op ’n radikaal ander manier te doen. Sedertdien het ek bewus geraak van die risiko van sulke idealistiese idees – die borrel kan bars, of jy kan doodgewoon verveeld raak daarmee (omdat dit nie werklik jy is nie), en dan is jy terug by die begin.

Ek moet eerder kyk na areas waar ek my huidige leefstyl, metodes van dinge doen, en voorkeure, kan benut om meer gedoen te kry. Dis byvoorbeeld beter vir my om eerder langer in die nag te werk as om vroeg in die oggend op te staan.

Eenvoudig gestel, ek moet meer ure elke dag benut om aan my doelwitte te werk. Ek sal myself moet dissiplineer om minder net rond te sit, en myself so produktief as moontlik besig te hou.

Aan die einde is dit alles deel van ’n kettingreaksie – as jy in die oggend iets produktief doen, is die tafel gedek en die ys gebreek om die res van die dag ook produktief te wees. (Dit werk natuurlik ook anders om.) Hoe meer jy dus doen, hoe beter voel jy oor jouself, en hoe beter jy voel oor jouself, hoe meer doen jy (en anders om).

Feit is, dit is in my eie hande, vandag, of ek oor agt maande hier sal weggaan as iemand wat verward en onseker is oor sy toekoms, of as iemand met ’n plan.

______________________

Isolasie, en die (goeie) redes daarvoor

[’n Paar maande tevore het ek nog gereken ek wil myself aan die gemeenskap van buitelanders identifiseer as een van hulle, met die voordele wat ’n mens kan verwag met lidmaatskap in enige groep. Teen die begin van die herfsseisoen – September – in 1997 het ek egter begin vra, “Wie is hierdie mense? Hoekom moet ek myself aan hulle identifiseer?”]

———–

Die afgelope tyd het ek deur ’n merkbare fase van persoonlike ontwikkeling gegaan. Na ’n periode van sosiale interaksie het ek begin om myself weer te isoleer van die “mainstream currents”.

Hoekom? Ek vertrou nie mense se oordeel nie; ek het nie respek vir hulle sosiale agenda nie; hulle beperkte poel van norme en etikette waarmee hulle jou kategoriseer en opweeg, is lagwekkend. Gesprekke oor seksuele verowerings en “wild experiences” beïndruk my nie. Ek is moeg daarvoor om voor te gee ek is een van hulle, en om oorgelaat te word aan hulle onvermoë om mense op ’n behoorlike manier te oordeel.

Ek sien geen sin daarin om óf op hulle terme aanvaar te word, óf om bloot verduur te word nie. En om verwerp te word omdat ek nie inpas in hulle sosiale program nie en omdat ek nie hulle eng wêreld ’n bietjie interessanter maak nie, maak regtig eintlik geen verskil aan my lewe nie.

______________________

Verward en verlore, maar op pad huis toe

Donderdag 10 Julie 1997

01:40: Op pad na Seoel.

08:44: Die afgelope agt ure het soos volg verloop: Ek was op ’n trein vanaf Chonju na Seoel vir vier ure lank – ek het buite Seoel-treinstasie rondgesit vir ’n uur – ek het rondgehardloop met al my bagasie vir meer as ’n uur in die subway-tonnels – ek het vir twee ure rondgeskarrel op Kimpo Lughawe – nou sit ek op sitplek 33A op ’n vliegtuig wat die eerste deel gaan afhandel van die reis wat my uiteindelik huis toe gaan vat. Dit is inderdaad die waarheid.

14:31: Singapoer. Ek gaan nou rondloop en kyk waarop ek my geld kan blaas.

Vrydag 11 Julie 1997

01:14: Op pad na Suid-Afrika, en totally [exhausted]. Ek kan nie dink dat dit menslik moontlik is om so lank wakker te bly nie. Het jy geweet die brein weeg swaarder as die hart?

04:15 (SA tyd): Ek het vir 54 weke geleef hiervoor – vir hierdie dag. Nege maande het uiteindelik weke geword … weke het “volgende week” geword … “volgende week” het “hierdie week” geword … “hierdie week” … “môre” … “môre” … “vandag”.

“Vandag” is nou gereduseer tot oor een uur land ons in Johannesburg. Die fantasie van 54 weke is vinnig besig om realiteit te word …


Die tyd kom nader – Julie 1997
Op pad, in Singapoer – Julie 1997
Boot in die besigheidsdistrik, Singapoer – Julie 1997
Die Singapoer-rivier – Julie 1997
Skaars wakker, maar steeds op pad – Julie 1997

______________________

As alles regverdigbaar is, waar staan jy?

Saterdag 5 Julie 1997

Enige persoon kan dit regverdig om politieke mag met geweld oor te neem en ’n despoot te word. Enige persoon kan dit ook regverdig om hierdie despoot te elimineer. Enige despoot kan dit verder regverdig om sy posisie te versterk met enige middels tot sy beskikking.

’n Krimineel kan dit regverdig om kriminele dade te pleeg. Agente van Wet en Orde kan dit regverdig om die krimineel te jag soos hulle sal doen met ’n dol hond en hom of haar te verwyder uit die samelewing. Die krimineel kan dit natuurlik regverdig om sy vryheid te beskerm teen die Agente van Wet en Orde met alle middels tot sy beskikking. En die Agente van Wet en Orde kan dit regverdig om, ter wille van die Gemeenskaplike Goed, wet en orde te handhaaf met alle middels tot húlle beskikking.

Agente van Rewolusie kan dit regverdig om teen (huidige) Wet en Orde in opstand te kom. En enige hoeveelheid individue kan dit regverdig – aan ander en aan hulleself – om die opstand te steun.

’n Mens kan dus sê dat dit nie uitsonderlik was dat Agente van Apartheid dit kon regverdig om Apartheid te probeer handhaaf deur die gebruik van alle middels tot hulle beskikking nie; en dit was heeltemal redelik dat die Agente van die Struggle for Human Rights dit regverdig het om Apartheid te beveg met alle middels tot húlle beskikking.

Agente van die (huidige) Orde vind dit dus regverdigbaar om die Orde te beskerm teen Agente van Rewolusie; Agente van Rewolusie vind dit ook regverdigbaar om die Orde te beveg met alle middels tot hulle beskikking.

Vraag: Op grond van wát regverdig mense en groepe hulle aksies?

Voorlopige oorwegings: Oorlewing van die sterkste … gemeenskaplike goed … enige iets anders?

Geen persoon, instelling of organisasie kan dit as vanselfsprekend aanvaar dat dit die sterkste is nie. Enige persoon, instelling, of organisasie kan dit regverdig om met alle middels en metodes tot hulle beskikking ’n sterker persoon, instelling of organisasie uit te daag in ’n poging om hul eie posisie te verbeter.

Een Persoon kan dit dus regverdig om Ander Persoon uit te daag indien eersgenoemde glo hy kan sy opponent oorwin; en indien hy hom oorwin, dat hy sy nuwe posisie sal kan verdedig.

Indien Een Persoon Ander Persoon die stryd aansê en dan verloor, kan laasgenoemde dit volgens sy eie begrip van die wêreld regverdig om Een Persoon, en selfs ander persone wat dink soos hy, uit te wis met genadelose brutaliteit. Sal dit regverdig kan word volgens die Wet van die Oerwoud, van Slaan Dood of Word Doodgeslaan? Dit wil so blyk.

Is die Wet van die Oerwoud moreel regverdigbaar? Wat is die maatstaf?

Waar, aan die einde van die dag, staan jy as individu? Hoe werk jy uit aan watter kant van die skeidslyn jy jouself posisioneer?

______________________

Idee vir ’n “storie”

Woensdag 11 Junie 1997

’n Man in sy middel-twintigs kom na amper ’n jaar in ’n vreemde land tot die konklusie dat sy identiteit ’n produk is van voorstedelike middelklaskultuur. Hy het in die verlede geweet wat sy gevoelens was oor hierdie spesifieke sosio-ekonomiese realiteit, maar nou herken hy dit ook as die demoon wat die hardste agter hom aanblaf, wat die meeste vir hom grom in die middel van die nag.

Die middelklas suburbia waar sy wortels lê, is egter nie die een wat mens sien op TV of in movies nie. Sy ouers was gereeld platsak, en sy gesin het vir lang periodes turbulensie ervaar. Om die waarheid te sê, vir jare was hulle net op die oppervlak middelklasmense. As jy net so met ’n pinkienael gekrap het, het jy hulle ontbloot vir wat hulle in werklikheid was: armblankes wat vir die laaste tien of vyftien jaar nie gereeld genoeg die kar, die geld, of, for that matter, enige decent job gehad het nie, en wat gereeld koue rillings gekry het aan die gedagte van die balju met sy gejelde kuif en sy wit Toyota wat enige dag aan hulle voordeur kon kom hamer om alles op te eis wat hulle besit.

Tog het sy ouers altyd gestreef daarna om aanvaar te word in die middelklas … Hoekom? “Dit gaan oor die tipe mense wat ons is.”

Ten spyte daarvan dat sy gesin nooit werklik behoort het in die voorstede nie, sukkel die hoofkarakter met wat hy glo sy middelklaserfenis is – kultuur, voorkoms, en idees van wat ’n volwassene met sy lewe moet doen.

Feit van die saak is, en dit behoort niemand te verras nie, hierdie karakter verag voorstedelike middelklaskultuur! Die dinge waaraan hulle soms waarde heg … die kleinlikheid … die vrees en angs oor wat dit aan jou status sal doen as iets verkeerd moet loop. Dis een stap weg van die graf! Die “petite bourgeoisie”? Dis presies wat dit is! Die klas van kleinlikheid!

Die vraag is nou, hoe verwerk die hoofkarakter van hierdie storie sy onversetlike veragting vir wat hy ag as die bron van sy identiteit?

______________________